• Login
  • Search Icon

Oes só jou grondbone vir maksimum kwaliteit

March 2012

LOUREINE SALOMON, LNR-INSTITUUT VIR GRAANGEWASSE

Dit is elke grondboonprodusent se mikpunt om die beste kwaliteit grond-boonoes af te haal aan die einde van die seisoen. Dit is wel bereikbaar as sekere riglyne gevolg word. Hou egter in gedagte dat die grootste bydrae
tot kwaliteit van die grondboonoes, bepaal word deur weerstoestande gedurende oestyd.

Alhoewel weerstoestande nie beheer kan word nie, kan daar wel rondom dié toestande gewerk word.

Die belangrikste riglyn vir die bepaling van die oesgereedheid van grondbone is om te bepaal wat die rypheidspersentasie van die drag is. Hierdie persen-tasie word bepaal deur ongeveer tien plante ewekansig oor die land te trek, al die peultjies van die plante af te pluk en dan oop te breek om vas te stel of die binnekant van die peultjies verkleur het.

Hierdie verkleuring aan die binnekant van die peul dui aan of die peul volwasse is al dan nie. Daar sal wel verskille in die donkerheid van die kleur voorkom, aangesien die peule op verskillende stadia van volwassenheid is
– sien Foto 1 van die mesokarp van peule.

image

Sodra 70% tot 75% peultjies volwassenheid toon, kan voortgegaan word met die oesproses. Oes altyd die lande wat eerste geplant is, aangesien hul vroeër oesgereed sal wees as latere aanplantings.

Weersomstandighede gedurende die afgelope plantseisoen het veroorsaak dat talle produsente eers aan die einde van die plantseisoen hul aanplan-tings kon voltooi, met die gevolg dat oesdatums dié jaar tot in Mei beplan word.

In gevalle waar daar wel sulke laat aanplantings gemaak is, moet die volgende in gedagte gehou word: Sodra daar enigsins ryp met gepaard-gaande rypskade op die grondboonplante voorkom, moet daar dadelik voortgegaan word met die oesproses, aangesien afsterwe van die plant kan lei tot grootskaalse peulverliese. Enige oes is beter as geen oes.

Daar word meer en meer oorgeskakel na meganiese oesmetodes aangesien dit baie meer doeltreffend en koste-effektief is vir die hedendaagse produ-sent. Wees egter altyd bewus van wat op die land aangaan tydens die oesproses.

Maak seker dat uithalers reg gestel is om te verseker dat daar nie onnodige peulverliese is nie. Wanneer die grondboonplante in windrye gegooi word, is dit belangrik om te verseker dat daar soveel as moontlik sand vanaf die peule verwyder is om vinnige en egalige winddroging te verseker.

Dit is wenslik om die windrye ten minste een keer om te draai. Dit hang egter van die produsent af hoeveel keer die windrye gedraai gaan word. Peule word gepluk wanneer hul ‘n vlak van 25% voginhoud bereik het. Hierdie vlak van voginhoud kan binne twee dae bereik word in windrye onder optimale toestande. Wanneer die optimale voginhoud bereik is, word windrye saamgevoeg om sodoende die pluk van die peul te vergemaklik met die plukker. Net soos in die geval van stroop by mielies, is dit verkieslik om te oes in onkruidvrye landerye sodat daar nie teëspoed opgetel word tydens die uithaal- en plukproses van grondbone nie.

Oor die algemeen word die peule ná die plukproses in goiingsakke op die land gelos om verder af te droog tot ongeveer 7% voginhoud, waarna die produk na die fabriek vervoer word.

Daar is steeds produsente wat hopies pak vir die droging van hul grondboonoeste, veral wanneer saad geproduseer word. Die geheim van korrekte hopies is dat die hopie nie hoër as 1,2 m gepak moet word nie.

Wanneer die hopies gepluk word, is dit wenslik om die hopies in drie dele te verdeel, naamlik die boonste kwart en die onderste kwart en die middelste deel van die hopie. Die kwaliteit van die boonste en onderste gedeelte van die hopie is gewoonlik swakker as die middelste gedeelte.

Probeer om die middelste hopie-gedeeltes as een vrag te hanteer, terwyl die onderste en boonste hopie-gedeeltes as een vrag hanteer kan word. Die ekstra werk verseker egter dat daar ‘n vrag met ‘n baie hoër kwaliteit gradering sal wees wat weer omreken na rand en sent.

Met die hoë verwagte grondboonpryse van die seisoen asook die kleiner hoeveelheid aanplantings, kan produsente verseker wees dat wanneer ‘n goeie kwaliteit produk gelewer word, daar groot belonings op hul wag.

Vir meer inligting, kontak Loureine Salomon by SalomonL@arc.agric.za.

Publication: March 2012

Section: Input Overview

Search