• Login
  • Search Icon

Oes kwaliteitgrondbone

April 2014

- só moet jy maak

LOUREINE SALOMON, LNR-Instituut vir Graangewasse

image Elke grondboonprodusent se mikpunt is om die beste kwaliteit grondboonoes af te haal aan die einde van die seisoen. Deur sekere riglyne te volg, is hierdie mikpunt maklik bereikbaar. Hou egter in gedagte dat die grootste bydrae tot die kwaliteit van die grondboonoes bepaal word deur weerstoestande gedurende oestyd. Weersomstandighede kan nie beheer word nie, maar daar kan wel maniere gevind word om rondom probleme te werk soos dit opduik.

Die belangrikste riglyn vir die bepaling van oesgereedheid van die grondbone is om te bepaal wat die rypheidspersentasie van die drag is. Hierdie persentasie word bepaal deur ongeveer tien plante ewekansig oor die land te trek, al die peultjies van die plante af te pluk en dan oop te breek om vas te stel of die binnekant van die peultjies verkleur het.

Hierdie verkleuring aan die binnekant van die peul dui aan of die peul volwasse is al dan nie. Daar sal wel verskille in die donkerheid van die kleur voorkom aangesien die peule op verskillende stadia van volwassenheid is. Sodra 70% tot 75% peultjies volwassenheid toon, kan voortgegaan word met die oesproses. Oes altyd eerste die lande wat eerste geplant is, aangesien hul vroeër oesgereed sal wees as latere aanplantings.

Aangesien laat reëns aanplantings in baie gebiede aangeskuif het, sal die oesdatums noodgedwonge tot ver in Meimaand gaan draai. In die gevalle waar daar wel sulke laat aanplantings gemaak is, moet die volgende in gedagte gehou word: Sodra daar enigsins ryp met gepaardgaande rypskade op die grondboonplante voorkom, moet daar dadelik voortgegaan word met die oesproses, aangesien die afsterwe van die plant kan lei tot grootskaalse peulverliese. Enige oes is beter as geen oes.

Die oorskakeling na meganiese oesmetodes is aan die toeneem aangesien dit baie meer doeltreffend en ekonomies is vir die hedendaagse produsent. Wees egter altyd bewus van wat op die land aangaan tydens die oesproses. Maak seker dat uithalers reggestel is om te verseker dat onnodige peulverliese nie voorkom nie.

Wanneer die grondboonplante in windrye gegooi word, is dit belangrik om te verseker dat soveel as moontlik sand verwyder word vanaf die peule om vinnige en egalige winddroging te verseker. Dit is wenslik om die windrye ten minste een keer om te draai. Dit hang egter van die produsent af hoeveel keer die windrye gedraai gaan word.

Peule word gepluk wanneer ‘n vlak van 25% voginhoud bereik is. Hierdie vlak van voginhoud kan binne twee dae bereik word in windrye onder optimale toestande. Wanneer die optimale voginhoud bereik is, word windrye saamgevoeg om sodoende die pluk van die peul te vergemaklik met die plukker.

Net soos in die geval van mielies stroop, is dit verkieslik om te oes in onkruidvrye landerye sodat daar nie teëspoed opgetel word tydens die uithaal- en plukproses van grondbone nie. Ná die plukproses word peule in goiingsakke gelos om verder af te droog tot ongeveer 7% voginhoud waarna die produk na die fabriek vervoer word.

Aangesien die moontlikheid van reën gedurende oestyd groot is, sal dit wenslik wees om die gesakte peule na ‘n oop stoor te vervoer waar daar ‘n goeie lugvloei is om die drogingsproses te bevoordeel en onwelkome benatting van die sakke te vermy. Daarby is die onaangename saak van sakke wat voete kry ook onder beheer. Sommige produsente verkies egter steeds die hopies-pak vir die droging, veral wanneer saad geproduseer word. Die geheim vir korrekte hopies is dat die hopie nie hoër as 1,2 m gepak moet word nie. Wanneer die hopies gepluk word, is dit wenslik om die hopies in drie dele te verdeel, naamlik die boonste kwart en die onderste kwart en die middelste deel van die hopie.

Die kwaliteit van die boonste en onderste gedeelte van die hopie is gewoonlik swakker as die middelste gedeelte. Probeer om die middelste hopie-gedeeltes as een vrag te hanteer, terwyl die onderste en boonste hopie-gedeeltes as een vrag hanteer kan word. Hierdie ekstra werk verseker dat daar ‘n vrag met ‘n baie hoër kwaliteit gradering sal wees wat beslis sal wys in die rand-en-sentwaarde van daardie vrag.

‘n Goeie grondboonoes hang af van goeie bestuur en goeie beplanning. Korrekte oesdatums bepaal goeie kwaliteit grondbone wat geld in die produsent se sak terugsit. Vir navrae, kontak me Loureine Salomon by SalomonL@arc.agric.za.

Publication: April 2014

Section: Input Overview

Search