• Login
  • Search Icon

NUWIGHEID uit die geskiedenis

April 2016

SA Graan/Grain redaksie

Mense sê gereeld dat hulle terugverlang na die goeie ou dae. ‘n Besoek aan die Engen Museum op NAMPO Park sal produsente wat van hoogs moderne tegnologie gebruik maak, dalk dié woorde laat sluk! Dit bly egter opwindend om te sien hoe masjinerie en plaasimplemente deur die eeue heen verander het.

Moet dit nie misloop nie
Oesdaggangers mag beslis nie die gerestoureerde 1934 Chevrolet 1½ ton Truck Master in die museum misloop nie.

Dié model is in 1934 deur mnr Koos Roux aangekoop vir sy vrugteboerdery op die plaas, Radyn, in die Villiersdorp-distrik. Dit is ingevoer as ‘n chassis cab – wat beteken dat dit sonder ‘n bak of kajuit deur die VSA aan Suid-Afrika gelewer is. Sogenaamde wamakers (coach builders) moes eers, volgens hul kontrak met General Motors, ‘n kajuit en laaibak vir hierdie ingevoerde voertuig bou.

In 1936 is hierdie Chevy vanaf Villiersdorp na Bothaville gery, waar dit in die boerdery op Roux se plaas, Driehoek, gebruik is. In 1963 het meganiese probleme veroorsaak dat dit onder ‘n afdak getrek is. Die voertuig is deur Roux se seun, Kotie, aan NAMPO geskenk en is tot 2008 by NAMPO Park in die museum ten toon gestel in sy gebruikte toestand.

Mnr Jaco Zeeman, wat oorspronklik die Chevy op mnr Andries Roux, Kotie se broer, se plaas raakgesien het, het in 2010 begin met restourasiewerk nadat hy baie navorsing gedoen het oor kleure en spesifikasies van dié modelle. Zeeman het selfs vir ‘n Amerikaanse Classic Chevy Club geskryf en sy navraag en ‘n foto is in een van hulle maandblaaie geplaas.

Met genoeg beskikbare hande is die Chevy onder Zeeman se wakende oog uitmekaar gehaal, die bakpanele is geklop, ontroes en geverf. Van die panele is vervang. Die kajuitraam is versterk en alle verweerde stukke hout is vervang om stabiliteit te verseker.  Die hele onderstel is skoon geskuur, roes is verwyder en dit is oorgeverf. Behalwe vir die twee drabalke op die onderstelraam, is die hele bak met essehout oorgebou. Selfs die enjin is uitmekaar gehaal, skoongemaak en oorgedoen. Zeeman noem dat die groen kleur, “Brewster Green,” een van die standaard kleure was.

In 2011 is die nuwe ou Chevy toetsbestuur, waarna die wiele ook ‘n nuwe voorkoms gekry het. “Die geel was nie veronderstel om so helder te wees nie!” voeg Zeeman by. Hy noem verder dat twee van die bande, asook al die binnebande op die Chevy, oorspronklik is – wat beteken dat hulle teen 1963 reeds op die voertuig was!

Danksy Zeeman is hierdie pronkstuk vandag in ‘n honderd persent lopende toestand.  Die hele restourasieprojek het byna vier jaar geneem en vanjaar kry Graan SA se NAMPO Oesdagbesoekers die geleentheid om Zeeman en sy span se handewerk by die museum te sien – wat agter die ledelokaal en naby die Fanie Ferreira-saal geleë is.

NUWIGHEID uit die geskiedenis

Publication: April 2016

Section: NAMPO

Search