• Login
  • Search Icon

NUWEJAARSVOORNEMENS: MAAK DIT MEER AS NET 'N HOOP OF 'N DROOM

January 2012

image

‘n Nuwe jaar hou tog iets anders in as die draai van ‘n seisoen. Behalwe vir die goeie herinneringe wat ek het aan die piekniek by die rivier op my oupa se plaas, gemmerbier, swem en kleilatgooi; het ‘n nuwe kalenderjaar ‘n goeie korrelasie met gedragsverandering.

Dit is ‘n tyd waar ‘n mens in ‘n baie ontspanne atmosfeer sit en besin oor sy/haar eie gedrag en eie menswees. Dit is ongelukkig ook so dat ons soms baie lighartig nuwe voornemens maak en as die gevoel van Nuwejaar verby is, dan verdwyn al die goeie intensies en voornemens daarmee saam.

Ek verwys nou veral na voornemens wat verband hou met gesonder leef, eet of slegte gewoontes aflê. Wat sal dan aan die wortel lê van gedragsverandering wat hou, wat werklike verandering teweegbring?

Die leiers van ‘n organisasie moes iewers ‘n prentjie in hulle koppe gevorm het van wat die ideaal is vir ‘n organisasie soos Graan SA. Gevolg deur dit wat nodig is om by die ideal uit te kom. Dan kom die eerste stap, soms die moeilikste, maar beslis ook die belangrikste: Jy verklaar jou voornemens in die openbaar en op so ‘n wyse dat jy getuienis roep om jou by jou voornemens te hou. Na die openbaarmaking volg die selfdissipline en doodgewoon harde werk om elke keer nuut te besluit om teen die ou gewoontes en gebruike te kies.

Graan SA sal in 2012 voortdurend moet evalueer of die veranderinge wat ons in 2011 aangekondig het, net ‘n lukrake voorneme was en of dit die begin van blywende verandering was. Ons gaan in die nuwe jaar ook ‘n fase betree waar die veranderinge nie meer net by ons leierskap getoets moet word nie, maar dit gaan begin deurvloei na ons lede – lede wat inkoop in die rigting waarin ons as organisasie beweeg.

Hierdie veranderinge gaan nader aan jou lyf kom as bloot net besluite wat in raadsale geneem is en artikels in die tydskrifte van ons land. As ons die beeld van die landbouer positief wil verander en die beleidsomge wing vriendeliker wil maak, raak dit elke lid van Graan SA. Ons het elke lid se selfdissipline en harde werk nodig. Ons het jou positiewe ingesteldheid nodig en veral die waaksaamheid en beheer van jou tong. Dit kom in die klein oomblikke wanneer jy oor die telefoon praat of sommer oor die draad met jou buurman staan en gesels. Dit is veral wanneer jy langs die skool se sportveld staan of Sondae op die kerk se parkeerterrein.

Koerantopskrifte en die gedrag van veral die politici of senior staatsamptenare gaan in 2012 genoegsame uitdagings bring om te kyk of Graan SA se veranderinge blywend of van korte duur gaan wees. Het ons die veranderinge bloot net as ‘n hoop of ‘n droom uitgespreek, of hanteer ons elke uitdaging as ‘n geleentheid om ‘n tree vorentoe te gee om ons doelwit te bereik?

Ek wil dit tog met voornemens vergelyk wat tipies so eie is aan die nuwe jaar, byvoorbeeld dieet. Om die beeld van die landbou te verander, beteken doodgewoon vir ons leiers en lede om hulle nie te vergryp en te verlustig in negatiewe gekla en murmurerings as die eerste roomkoek van koerantopskrifte oor korrupsie of swak dienslewering verskyn nie. Om dan selfbeheersing toe te pas en jou tong in toom te hou, sal die uitdaging van 2012 wees. Meer as ooit tevore gaan ons in hierdie jaar getoets word: Is ons bereid om hand uit te steek en nie net te kritiseer en saam te praat nie, maar om te help waar daar nie eers vir ons finansiële voordeel in is nie?

Graan SA het ‘n bewese geskiedenis dat ons nuwe produsente help om hul besigheid suksesvol in die landbou te kan vestig. Ons het voornemens in dade omgesit en gaan dit in 2012 moet opvolg om meer as ooit tevore hande te vat met die staat sodat daar nooit weer foto’s rondgestuur sal word van spogplase wat veral weens ‘n gestroop van infrastruktuur en verwaarlosing ten gronde gegaan het nie.

Ons het gekies om iets aan daardie slegte prentjies te doen. Ons het jou nodig. Ons het jou volgehoue ondersteuning nodig wanneer jy jou lidmaatskaptjek uitskryf, jou gebede dat ons die regte besluite sal neem, jou saampraat oor die positiewe dinge wat gebeur, jou selfdissipline om jou tong in toom te hou, om die beeld van die produsent positief te verander en jou hande en kundigheid om diens en kos aan ons land te lewer.

Wat gaan die oes wees wat sulke veranderings gaan oplewer? Ek glo dit sal vir ons kinders en hulle maatjies ‘n rivier skep waarin hulle sal kan swem, kleilatgooi en met vol mae op Oujaarsaand veilig aan die slaap kan raak, met ‘n glimlag op die gesig en te kan droom van die goeie jaar wat voorlê.

Voorspoedige nuwe jaar!

image

Jannie de Villiers, Uitvoerende hoofbestuurder

Publication: January 2012

Section: Editorial

Search