• Login
  • Search Icon

Nuwe verbruikersvoorkeure van plantaardige olies

February 2012

image

WESSEL LEMMER, SENIOR EKONOOM: MARKNAVORSING, GRAAN SA

Graan SA het gedurende 2011, in samewerking met verskeie rolspelers (die Voedingsvereniging van Suid-Afrika, die Noordwes-Universiteit, oliesade persers, voedselverwerkingsbedrywe en saadtelers), die belangrikheid van plantaardige olies om die mark te bevorder, gedebatteer.

Dit is belangrik om kennis te neem dat daar ‘n groeiende belangstelling is in die voorsiening van kwaliteit lipiedes (plantaardige olies) en dat laasgenoemde toenemend as bepaler van langtermyngesondheid en welstand beskou word. Verskeie aanbevelings is reeds deur die Wêreld Gesondheid Organisasie (WHO) en die Voedsel- en Landbou Organisasie (FAO) van die Verenigde Nasies oor die belangrikheid van vette en menslike gesondheid gemaak. In 2009 het Suid-Afrika hierdie riglyne aanvaar en oorgeneem en vir plaaslike omstandighede aangepas.

In Suid-Afrika word sonneblom, sojabone, grondbone en kanola op groot skaal as bronne van plantaardige olies geproduseer. Die samestelling van laasgenoemde bronne se mono- en poli-onversadigde vetsuurinhoud verskil tussen gewasse, maar kan ook vir ‘n spesifieke variëteit binne ‘n spesifieke gewas, soos sonneblom, verskil.

Enige plantaardige oliebron word deur ‘n spesifieke vetsuursamestelling gekenmerk. Byvoorbeeld: sonneblomolie is een van die rykste bronne van linoleïensuur (Omega-6), terwyl lynsaadolie ryk is aan alfa-linoleensuur (Omega-3). Sojaboon- en kanola-olie is beide ook goeie bronne van alfa-linoleensuur (Omega-3).

Om die vraag na en markuitbreiding in vette beter te verstaan, is dit nodig om die volgende aanbevelings oor die daaglikse inname daarvan in ag te neem. Die aanbevole hoeveelheid en kwaliteit (tipe) vet in ‘n dieet kan soos volg vir optimale gesondheid (bo die ouderdom van twee jaar) opgesom word:

  • Vette kan 30% van die daaglikse energie-inname voorsien. Daar moet egter altyd ‘n balans tussen energie-inname en energieverbruik wees. Versadigde vette behoort nie meer as 10% van die daaglikse energie-inname uit te maak nie. Diegene wat ‘n risiko vir kardiovaskulêre hartvatsiektes loop, behoort hul versadigde vetinname tot 7% te beperk.

  • Poli-onversadigde vette, insluitende die essensiële vette, behoort ‘n bydrae van tussen 6% tot 10% van die daaglikse energie te maak. Omega-6 vette behoort 5% tot 8% en Omega-3 vette tussen 1% tot 2% van daaglikse energie uit te maak.

  • Die res van die energie afkomstig van vette, behoort deur monoonversadigde vette voorsien te word.

  • Die inname van transvette behoort tot minder as 1% van die daaglikse energie-inname beperk te word.

Uit bogenoemde aanbevelings is dit dus duidelik dat die poli-onversadigde vetinname deur die mens vir doeleindes van optimal gesondheid, van die inname van ‘n sekere hoeveelheid van beide Omega-6 en Omega-3 vetsure afhanklik is.

Ter verduideliking: Vetinname behoort tot 30% van die totale energieinname beperk te word. Indien die versadigde vetinname byvoorbeeld 10% beloop, behoort die poli-onversadigde en mono-onversadigde innames nie 10% van elk te oorskry nie.

In terme van oliesade is dit belangrik om daarop te let dat die Omega-3 en Omega-6 vetsure deel uitmaak van poli-onversadigde vette en nie deel vorm van mono-onversadigde of versadigde vette nie. Sonneblom en sojabone is dus bronne van poli-onversadigde vette. Mono-onversadigde vette is veral belangrik by hoë oleïensuursonneblom; onversadigde vette bestaan uit mono-onversadigde en poli-onversadigde vetsure. Let daarop dat Omega-9 vetsure deel uitmaak van oleïensuur. Die liggaam kan self Omega-9 vetsure produseer, maar is nie in staat om dieselfde met Omega-3 en Omega-6 vetsure te doen nie.

Sonneblomolie wat uit gewone sonneblom geproduseer word, bevat 11% versadigde vette, 69% poli-onversadigde vette of ook genome linoleïensuur, en 13% mono-onversadigde vette of oleïensuur. Hoë oleïensuursonneblom moet vervolgens meer as 80% oleïensuur bevat. Vandaar die verwysing na hoë oleïensuursonneblom. Dit is belangrik om daarop te let dat linoleïensuur Omega-6 vetsure bevat.

Gewone sonneblom se linoleïensuur-inhoud is ongeveer 70%, terwyl hoë oleïensuursonneblom se oleïensuurinhoud ongeveer 80% beloop.

Poli-onversadigde vetsure

Natuurlike sonneblomolie of linoleïensuursonneblomolie bevat hoofsaaklik poli-onversadigde vette (65%), hoofsaaklik linoleïensuur en ‘n goeie hoeveelheid mono-onversadigde vette en lae vlakke van versadigde vette. Sonneblomolie is daarom ‘n goeie bron van Omega-6 essensiële vetsure of linoleïensuur.

Sonneblomolie voorsien ook meer vitamien E as enige ander plantaardige olie. Vitamien E is ‘n belangrike en sterk anti-oksidant wat poli-onversadigde vetsure teen oksidering beskerm. Alhoewel Afrika nie ‘n belangrike produsent van sonneblomolie is nie, produseer Suid-Afrika ongeveer 84,6% van die sonneblomolie wat in die streek verbruik word. Linoleïensuur-bevattende sonneblomolie is beskikbaar as ‘n slaaiolie en word ook in die vervaardiging van margarien en produkte in die kleingebakbedryf gebruik. Die meeste eindverbruikers gebruik sonneblomolie vir slaaisouse, braai- en bakdoeleindes.

Gesondheidsaspekte en sonneblomolie

Soos reeds genoem, is sonneblomolie ‘n uitstekende bron van poli-onversadigde vetsure en die Omega-6 essensiële vetsuur, linoleïensuur. Daar kan moontlik kommer wees oor die hoë verbruik van sonneblomolie en aanwendings wat op sonneblomolie gebaseer word.

Uitermatige hoë innames van linoleïensuur kan tot gesondheidsprobleme aanleiding gee. In Suid-Afrika dui voedselverbruiksdata egter aan dat die inname van poli-onversadigde vetsure binne die aanbevole norme is. Die Amerikaanse Hartvereniging het tot die gevolgtrekking gekom dat daar geen rede is om die Omega-6 vetsuur- of linoleïensuurinname in die VSA te verminder nie.

Die oorgrote meerderheid bewyse dui op die voordele van poli-onversadigde vetsuurinname ten opsigte van kardiovaskulêre siektes. Die inname hiervan moet binne die grense vir voorgestelde inname van 5% - 10% van energie wees. Die kommer oor hoë innames van linoleïensuur (Omega-6 vetsure) behoort ondervang te word deur ‘n behoefte om die inname van Omega-3 vetsure te verhoog.

Byvoorbeeld: alhoewel sonneblomolie ‘n belangrike basis vir die vervaardiging van margarien in Suid-Afrika is, is voorstelle om sonneblomolie met bronne wat Omega-3 vetsure voorsien te meng, regverdigbaar om sodoende die Omega-3 alfa-linoleensuurinhoud of -voorsiening te verhoog. Die verskynsel is besig om wêreldwyd aanvaar en ingestel te word en val binne die jongste aanbevelings oor kwaliteit vet in die dieet. Alhoewel produkte wat sonneblomolie as basis in formulerings gebruik om produkte soos margarien en mayonnaise te vervaardig, ‘n Omega-3 alfa-linoleensuur in die formulering kan insluit, sal sonneblom ongelukkig altyd ‘n tekort aan alfa-linoleensuur hê. Sonneblomolie sal altyd ‘n populêre kookolie vir die meerderheid Suid-Afrikaners bly. Strategieë wat die inname van Omega-3 essensiële vetsure kan verhoog, sal egter gevolg moet word.

Navorsingsbewyse verwys toenemend daarna dat ‘n balans tussen Omega-6 en Omega-3 poli-onversadigde vetsuurinname getref moet word.

Hoë oleïensuursonneblomolie (HOSO)

Daar is voldoende bewyse in die literatuur wat daarop dui dat die vervanging van versadigde vetsure met oleïensuur en poli-onversadigde vetsure, die risiko van kardiovaskulêre hartvatsiektes verlaag deurdat bloedlipiedkonsentrasies afneem.

Om kwaliteit vet in te neem bly belangrik en daarom bied die vervanging van versadigde vetsure deur byvoorbeeld hoë oleïensuursonneblomolie, voordele in terme van kardiovaskulêre gesondheid. Beramings toon dat die isokaloriese vervanging van 5% energie van versadigde vetsure deur oleïensuur (of poli-onversadigde vetsure) die risiko vir koronêre hartvatsiektes met 20% tot 40% verlaag. Hierdie verlaging in risiko spruit voort uit ‘n afname in laedigtheid lipoproteïen cholesterol.

Deur hoë oleïensuursonneblom teen ‘n bekostigbare prys aan verbruikers te voorsien, sal ‘n bykomende opsie aan die verbruiker bied waarvolgens laasgenoemde ‘n gesonder en beter kwaliteit vet kan verbruik. Die aanbevelings ten opsigte van mono-onversadigde vet suurinname is feitlik dieselfde vir oleïensuurinname. Oleïensuur is ook die mees verteenwoordigende mono-onversadigde vetsuur in die dieet.

Die eienskappe van hoë oleïensuursonneblomolie sluit voordele in soos natuurlike stabiliteit, ‘n buitengewoon goeie rakleeftyd sonder hidrogenering en uitstekende smaaklikheid vir ‘n wye reeks toepas sings. Die vlakke van mono-onversadiging in hoë oleïensuursonne blom olie moet 80% en meer wees om as ‘n hoë oleïensuursonneblomolie geklassifiseer te kan word. Hoë oleïensuursonneblom kan byvoorbeeld funksioneel toepassing vind in die produksie van suiwelsubstitute, spuitaanwendingsolie vir vrugte en ontbytgrane, slaai of as braai-olie in die vervaardiging van soetgebak.

Sojaboonolie

Sojabone is ‘n uitsonderlike produk omdat dié oliesaad die hoogste hoeveelheid proteïene bevat wat in enige graan, oliesaad of peulgewas voorkom.

Sojabone het ook betekenisvolle hoeveelhede vette, koolhidrate, vesel, vitamienes, minerale en fitochemiese bestanddele wat nuttig is in die voorkoming en behandeling van menige chroniese siektetoestande. Die proteïen wat in sojabone voorkom, bevat al die essensiële aminosure wat nodig is vir menslike gesondheid.

Ongeveer die helfte van die vet wat in sojabone voorkom is linoleïensuur. Sojabone kan ook tot soveel as 8% alfa-linoleensuur bevat. Sojaboonolie is dus een van die min plantaardige olies wat groter hoeveelhede van beide die essensiële vetsure beskikbaar vir menslike verbruik en gesondheid bevat. Ander bronne sluit lynsaad en kanola in.

Sojalesitien is ‘n ander waardevolle byproduk in die vervaardiging van sojaboonolie. Lesitien is ‘n emulsifiseerder en maak dit moontlik om bestendige mengsels van vette en water in voedsel te produseer. Alhoewel sojaboonolie nie bestendig genoeg is om hoë kooktemperature te kan weerstaan nie, word sojaboonolie wyd aangewend vir kookdoeleindes en die vervaardiging van verskillende tipes margarien, nagemaakte suiwelprodukte, soos poeiermelk, slaaiolies, mayonnaise en kommersiële gebak.

Dit is dus duidelik dat vir doeleindes van optimale gesondheid, ‘n sekere hoeveelheid van beide Omega-6 en Omega-3 vetsure ingeneem moet word. Linoleïensuursonneblomolie kan nie voldoende hoeveelhede van beide tipes vetsure voorsien nie en die insluiting van Omega-3 vetsuurbronne word aanbeveel wanneer linoleïensuursonneblom olie gebruik word as basis vir formulerings. Die tekort aan Omega-3 vetsure kan ooglopend aangespreek word deur ander olies, soos sojaboonolie en/of kanola-olie in te sluit om ‘n meer gebalanseerde hoeveelheid Omega-6 vetsure en Omega-3 vetsure te voorsien.

Die toevoeging van hoë oleïensuursonneblom tot die mark, kan gesondheidsvoordele vir die eindverbruiker inhou. Hoë oleïensuursonneblomolie is ‘n bron van onversadigde vette met buitengewoon goeie eienskappe in terme van natuurlike bestendigheid en ‘n wye reeks aanwendings. Dit voorsien ook aan die verbruiker ‘n bykomende opsie om ‘n gesonder en beter kwaliteit vet te verbruik.

Die invoervervanging van plantaardige olies (insluitende palmolie) deur die verhoogde plaaslike produksie van oliesade en die verwerking daarvan tot plantaardige olies, ondersteun die IPAP 2-beleid en is hoog op Graan SA se prioriteitslys.

 

Publication: February 2012

Section: Markoorsig

Search