• Login
  • Search Icon

Nuwe uitbreidingsgeleenthede wink vir SAGIS

August 2012

RUTH SCHULTZ, SA GRAAN/GRAIN MEDEWERKER

Nico Hawkins, wat sedert 1 April vanjaar aan die stuur van sake by die Suid-Afrikaanse Graan Inligtingsdiens (SAGIS) is, glo inligting is een van die belangrikste pilare waarop die vrye mark steun om te kan funksioneer. “Ons kan nie ‘n ordentlike prysvormingsmeganisme in die vrye mark hê as daar nie inligting is nie,” sê Nico.

image

SAGIS is gedurende November 1997, ná die deregulering van landbou in Suid-Afrika, gevestig om die graan- en oliesadebedryf (mielies, oliesade, wintergraan en sorghum) te voorsien van noodsaaklike markinligting.

Voor November 1997 is hierdie inligtingsfunksie deur die beheerrade van die genoemde bedrywe hanteer. Die Wet op die Bemarking van Landbouprodukte, 1996, het ‘n einde gebring aan die beheerrade.

Rolspelers het egter die noodsaaklikheid van betroubare inligting vir die funksionering in ‘n vrye mark besef en saamgewerk om SAGIS daar te stel. SAGIS se hoofdoelstelling is die versameling, verwerking, analisering en tydige verspreiding van betroubare agronomiese inligting aan alle rolspelers.

Nico, wat erkenning gee aan die pioniers wat SAGIS gevestig het, vertel SA Graan/Grain hoe hy verder op die bestaan van dié organisasie wil voortbou en wat die pad vorentoe vir SAGIS inhou.

Uitbrei van SAGIS-model na die SADC

Hy meen SAGIS is ‘n baie goeie wegspringblok wat gevestig is vir Suid-Afrika, maar in Suider-Afrika is daar beslis ‘n tekort aan inligting wat die entrepreneur kan gebruik om te bepaal waar besigheidsgeleenthede is of oor hoe hy sy besigheid in Suider-Afrika kan rig.

“As SAGIS se model in Suid-Afrika na Suider-Afrika deurgetrek kan word, sal dit baie waarde toevoeg tot die ontwikkeling van die landbou-ekonomie, veral die graan- en oliesade-ekonomieë, in Suider-Afrika.”

Rapportering van sekondêre produkte

SAGIS se insameling van inligting eindig by die rouproduk. “Met die Mededingingskommissie se aktiwiteite die afgelope paar jaar, het kommoditeitsorganisasies, wat in sekondêre produkte spesialiseer, opgehou om inligting oor wat met die roumateriaal gebeur nadat dit geprosesseer en getransformeer is, bymekaar te maak en beskikbaar te stel.”

Nico meen SAGIS is perfek geposisioneer om die rol oor te neem by die spesialisorganisasies in die sekondêre bedrywe, soos die meulenaarskamer, bakkerskamer en grondboonverwerkers. “SAGIS is onafhanklik en daarom kan ons daardie inligting bymekaar maak, dit reg verpak en publiseer, sonder om by die vrye mark in te meng. Dit is nie besigheidsinligting wat ons beskikbaar stel nie en instansies word nie teen mekaar afgespeel nie.”

Maak werk meer akkuraat en makliker

SAGIS is in die proses om hul stelsels te moderniseer om sodoende die verwerking van inligting te vergemaklik en meer kontroles te verseker. SAGIS se medewerkers, wat statutêr verplig is om die inligting aan SAGIS te verskaf, sal ook beter gerat wees sodra die nuwe stelsel in plek is.

“SAGIS is ‘n nie-winsgewende organisasie en daarom word daar tans ondersoek ingestel of daar geleenthede is om ons dienste te verkoop, sodat die ‘wins’ wat gemaak word, die druk op die betalers van ons huidige diens kan verlig.” Daar is egter ‘n groot “maar” by hierdie ondersoek betrokke, want “sulke dienste sal geensins by die kernbesigheid van SAGIS mag inmeng nie,” verduidelik Nico.

Nog ‘n toekomsdroom van Nico is om die inligting op SAGIS se webtuiste so gebruikersvriendelik as moontlik te verpak. “Ons webtuiste moet ‘n eenstopdiens vir die verbruiker (navorsers, markontleders, verhandelaars ensovoorts) wees.” ‘n Werksgroep, wat sal bestaan uit verbruikers van SAGIS-inligting, gaan saam met SAGIS aan die eenstopdiens werk. “Die verbruikers moet vir SAGIS sê hoe die inligting op die webtuiste verpak moet word, om sodoende die verbruikers se ontledingswerk te vergemaklik.”

Soos tyd aanstap en die behoeftes van die bedrywe verander, word SAGIS genader om ook diverse inligtingsfunksies vir die bedrywe te verrig, soos die monitering van invoertariewe, ouditsertifikate vir minimum marktoegang en weeklikse in- en uitvoersyfers vir die mielie- en koringbedrywe.

Indien verbruikers ‘n voorstel het vir nuwe inligting wat SAGIS in die graan- en oliesadebedryf kan versprei, kan hul dié voorstelle rig aan SAGIS by (012) 523-1400 of stuur ‘n e-pos na info@sagis.org.za. SAGIS sal die voor -
stel ondersoek en goedkeur indien so besluit.

Publication: August 2012

Section: Other Articles

Search