• Login
  • Search Icon

Nuwe tegnologie bly belangrik vir Suid-Afrika

October 2017

Jannie de Villiers, uitvoerende hoofbestuurder

Na afloop van my onlangse besoek aan die VSA, wil ek graag ‘n paar stellings oor my waarnemings maak. In kort kom dit daarop neer dat die Suid-Afrikaanse graanprodusente betreklik meer as hul Amerikaanse eweknieë van die ontwikkeling van nuwe tegnologie afhanklik is.

By die plase wat ons besoek het en uit gesprekke met mense by die Farm Progress Show, blyk dit dat die klimaat en regeringshulp die belangrikste redes is waarom die produsente steeds in produksie bly – meer as die tegnologie wat hulle gebruik. Die grond is vrugbaar, die reënval uitstekend en as daar dalk iewers ‘n verdwaalde jaar kom, koop die regering hulle uit.

Ek het ook iets van die Agri SA-droom daar gesien – eenheid oor landbou (unity about agriculture). Die mense waardeer hul produsen­te. Net so het ek ook gesien hoe hulle in die samelewing tyd en plek maak om hul gewapende magte te vereer.

Tydens ‘n rustyd by die voetbalwedstryd wat ons een aand gekyk het, het al die mense opgestaan en vir ‘n hele lang ruk hande geklap vir ‘n soldaat wat op tuisbesoek was en wat op die een hoek van die veld kom staan het. Dit het my herinner aan die tyd toe ons met vol uniform op pas was en ook so kerk toe gegaan het. Almal het vir jou gebid en kom sterkte sê.

Aan die klimaat kan ons nie veel doen nie, maar om die regering en die land se mense agter ons te kry, kan ons beslis iets doen. Dit het met ons harte te make. Weens die felheid van ons klimaat speel tegnologie – tans en ook vir die toekoms – ‘n groter en belangriker rol. Van die produsente wat ons besoek het, is glad nie besorgd oor die droogtebestandheid van mielies nie. Hulle het meer versuipskade as droogteskade!

Dit laat ‘n mens wonder teen watter spoed die tegnologie wat ons benodig, beskikbaar raak. Met my beperkte kennis van al die produksietegnieke en bewerkings, is ek sterk onder die indruk gelaat dat van die nuwe tegnologie wat tans ontwikkel word, in betreklik kleiner inkremente vorder as waaraan ons vantevore gewoond was.

Almal vlieg deesdae hommeltuie (drones) rond, maar die tegnologie waarmee die beelde in data omgeskakel word en wat ons as produsente kan gebruik om meer produktief te wees, is nog nie ten volle ontwikkel nie. ‘n Realiteit wat ons beslis sal moet oorkom, is dat die produsente wat die meeste tegnologie benodig om te oorleef, nie noodwendig dié is wat die geld het om dit te laat ontwikkel nie.

Die uitstallings van die insetverskaffers was absoluut indrukwekkend en die koste aan demonstrasies was ‘n toonbeeld van geld en nie van ‘n gesukkel nie. Tog het dit geblyk dat ons Amerikaanse eweknieë nie noodwendig meer geld as ons maak nie. Dít het ek van ons eie produsente hoor sê.

Dit is lekker om weer tuis te wees, skaaptjops te eet en in jou eie bed te slaap. Ek slaap gerus, want ek weet dat die wêreld nie sommer sonder kos sal wees met alles wat nog op pad is en met die kennis oor graanproduksie nie. Wie dit eendag gaan produseer, is seker ‘n ope vraag.

As ek sien hoe ons produsente se vernuftigheid met dié van die VSA vergelyk, sal ons beslis een van die lande wees wat nog gaan produseer.

 

Publication: October 2017

Section: Features

Search