• Login
  • Search Icon

Nuwe onkruiddoder-weerstandswerkgroep vir die noorde

September 2013

ELBÉ HUGO, LNR-INSTITUUT VIR GRAANGEWASSE

image Wêreldwyd bestaan ‘n sambreelorganisasie wat onkruiddoderweerstand en weerstandige onkruidspesies monitor. Dit staan bekend as die Herbicide Resistance Action Committee (HRAC) en word deur dr Ian Heap gelei (www.HRACglobal.com).

‘n Wêreldwye opname van weerstandige onkruide en die onkruiddoders betrokke, word ook gedoen en gereeld opgedateer (www.weedscience.com).

Meeste produsente is dalk bewus van so ‘n werkgroep in die Wes-Kaap waar onkruiddoderweerstand, veral teen Lolium spp. (raaigras) in koring, wyd aangeteken is. ‘n Versoek van al die rolspelers in die landbouchemiese bedryf egter het gelei tot die stigting van so ‘n werkgroep vir die noordelike areas, genoem HRAC-Noordelike areas.

Die stigtingsvergadering is op 19 Junie 2013 gehou en is deur die meeste landbouchemiese maatskappye bygewoon. Hierdie werkgroep word in samewerking met SA CropLife gedoen en al hulle lede word aangemoedig om daarby aan te sluit.

Hul het ten doel om produsente ingelig te hou oor onkruiddoderweerstand en die effektiewe bestuur daarvan. Alhoewel daar verskeie faktore is wat kan lei tot onkruiddoderweerstand, is die herhaaldelike gebruik van een enkele onkruiddoder of onkruiddoders in dieselfde groep, die mees voor die handliggende.

Die term onkruiddoderweerstand moet met groot omsigtigheid hanteer word, aangesien streng riglyne in plek is vir die toets van ‘n onkruidspesie(s) wat weerstandig raak. Oneffektiewe beheer is gewoonlik te wyte aan verkeerde kalibrasie, oneffektiewe toerusting en/of die tyd van onkruiddodertoediening.

Produsente kan navrae rig aan Nic Greyling van CropLife Suid-Afrika by Info@croplife.co.za of 011 805 2000 of aan Elbé Hugo by HugoE@arc.agric.za of 018 299 6298.

Publication: September 2013

Section: Input Overview

Search