• Login
  • Search Icon

Nuwe Bt-geen beheer mieliestamboorder en die Chilo boorder

September 2012

DR ANNEMIE ERASMUS, LNR-INSTITUUT VIR GRAANGEWASSE, POTCHEFSTROOM

Geneties gemanipuleerde mielies, naamlik Bt-mielies wat die Bt (Bacillus thuringiensis)- geen bevat, is vir die eerste keer gedurende 1994 in Suid-Afrika geëvalueer. Sowat 50 000 ha Bt-mielies is daarna vir die eerste keer kommersieel in die 1998/1999-seisoen geplant. Die tegnologie is verwelkom deur alle mielieprodusente en sedertdien het die aanplanting van Bt-mielies gegroei tot sowat 1,1 miljoen ha in die 2010/2011-seisoen.

Die twee Bt-events wat tans beskikbaar is, is MON810 en Bt11, wat albei die Cry1Ab proteïen bevat. In 2007 is dit gerapporteer dat die mieliestamboorder (Busseola fusca) (Foto 1) weerstand opgebou het teen Btmielies in die Christiana/Vaalharts-area.

image

Daarna is weerstand plek-plek gerapporteer, wat hot spots genoem word. Die twee probleme wat sedertdien ervaar word met die huidige events is dat weerstand ontwikkel het en dat stamboorderlarwes die vermoë het om te oorleef op die mieliebaard as gevolg van laat besmetting.

Die belangrikheid daarvan om ‘n nuwe event te kry, is deur Monsanto herken en dit is vanwaar
die nuwe event, MON89034 (MON89) – wat bemark word as YieldGard II – ontwikkel is. Hierdie tweede generasie event bevat twee Cry proteïene, naamlik Cry1A.105 en Cry2Ab2 wat ook afkomstig is van B. thuringiensis.

Die twee Cry proteïene van YieldGard II het verskillende meganismes van werking wat weerstandsontwikkeling deur die plaaginsek behoort te verlaag. Hierdie nuwe event is dan ook vanaf die 2011/2012-seisoen kommersieel beskikbaar gestel.

Daar is ‘n reeks laboratorium- en veldproewe deur die LNR-Instituut vir Graangewasse (LNR-IGG) gedoen vanaf 2006 tot 2010 om hierdie nuwe event te evalueer.

Tydens die 2006/2007-seisoen is verskillende plantdele getoets in ‘n laboratoriumstudie teen vatbare mieliestamboorders. In 2007/ 2008 is verskillende mieliestam boor der - populasies getoets. Die 2009/2010-seisoen het ingesluit die evaluering van Bt-weerstandbiedende mieliestamboorders, vatbare mieliestamboorders en die Chilo boorder (Chilo partellus) (Foto 2).

Die verskillende plantdele wat getoets is, sluit onder ander in kelkblare, stam, baard, koppunte en baard. Die persentasie morta liteit en die larwale massa is oor tyd bepaal. Daar is veldproewe gedoen in die 2006/2007- en
2007/2008-seisoen waar mielieplante kunsmatig besmet is met ‘n Bt-vatbare populasie van mieliestamboorders. Blaarskade, larwale oorlewing en massatoename is dan bepaal.

In die 2011/2012-seisoen is ‘n onafhanklike veldproef geloods waar ‘n kontrole, MON810 en MON89, kultivar kunsmatig besmet is met weerstandbiedende en vatbare stamboorders asook die Chilo boorder.

Die mieliestamboorders wat nie weerstand het nie, word beheer deur die event MON89en dit word steeds onderdruk deur MON810 (Grafiek A1). Die larwale massa van die vatbare mieliestamboorders (Grafiek A2) neem nie so drasties toe op MON810 soos op die kontrole nie. Tog was daar ‘n mate van oorlewing op MON810, maar nie op MON89 nie.

Waar mieliestamboorders getoets is wat weer stand het (Grafiek B1 en Grafiek B2), was dit duidelik dat die nuwe event MON89 weerstandbiedende larwes beheer, maar dat MON810 nie meer hierdie larwes beheer nie.

Dit is duidelik dat larwes wat weerstand het amper presies dieselfde presteer as larwes wat vreet aan die kontrole, maar dat weerstandbiedende larwes beheer word met MON89 vanaf dag sewe.

Aangesien een van die bekommernisse was dat mieliestamboorders op Bt-mieliebaard oorleef, is daar ook gekyk na die oorlewing en massa van weerstandbiedende mieliestamboorders op event MON89. Daar is gevind dat
daar nie ‘n verskil tussen die larwale oorlewing en larwale massa van weerstandbiedende larwes wat vreet op die kontrole en MON810 is nie.

Die bekommernis van oorlewing van weerstandbiedende larwes op MON810 word egter opgelos deur MON89, waar dit duidelik uit laboratoriumproewe was dat hierdie nuwe event weerstandbiedende larwes wat vreet op baard, ook beheer. Hierdie nuwe event MON89 beheer dan ook die ander ekonomies belangrike stamboorder, die Chilo boorder, wat hoogs vatbaar is (Grafiek C1 en Grafiek C2).

image

Uit die resultate het dit duidelik geblyk dat die nuwe event, MON89, nie net vatbare mieliestamboorders beheer nie, maar ook mieliestamboorders wat weerstand teen Btmielies het.

Daar word verwag dat die moontlikheid vir weerstandsontwikkeling verlaag kan word deur die gebruik van MON89 aangesien hierdie event twee proteïene bevat en omdat dit met verskillende meganismes werk.

Dit beteken egter nie dat die bestuur van weerstandsontwikkeling geïgnoreer kan word nie. Die aanplanting van ‘n toevlugsoord is dus nog van uiterste belang.

Publication: September 2012

Section: Wenartikels

Search