• Login
  • Search Icon

Oesdag 2013 – tuiste van tegnologie én gesprekvoering

15 May 2013
Graan SA se vertoonvenster van landbou, die NAMPO Oesdag, het vandag naby Bothaville afgeskop. Met ʼn eerste suksesvolle dag agter die blad, is die organiseerders en meer as 600 uitstallers gereed vir die komende drie dae. Dié internasionaal bekende handelstentoonstelling duur tot Vrydag, 17 Mei.

“ʼn Produsent wat wil verseker dat sy boerderybesigheid relevant bly, moet op hoogte wees van tegnologie en innovasie. Waar elders kry ʼn boer vandag die geleentheid om op een terrein ʼn kaleidoskoop van insetverskaffers en afnemers tot sy beskikking te hê – veral in ʼn tyd waar meganisering in boerdery voortdurend toeneem? Graan SA stel met groot sorg die verskeidenheid van uitstaller saam om te sorg dat ʼn besoek aan die Oesdag ʼn goeie rendement verskaf op die tyd wat jy hier spandeer,” het Cobus van Coller, Oesdagvoorsitter, vandag gesê.

Ons uitdaging aan die uitstallers is om vanjaar te fokus op tegnologie en innovasie in landbou. Die verskeidenheid van produkte wat aangebied word, sluit in: algemene insetmiddele, geldsake en bemarking, saad, werktuie en toerusting, voertuie en toebehore, bemesting, plaag en onkruidbeheer, water en energie, lewende hawe en leefstyl.

Cobus het verder die lede van die publiek wat nog nie sélf die prima bymekaarkomplek van mense in landbou ervaar het nie, aangemoedig om die NAMPO Oesdag te besoek: “Bring jou gesin en kom ervaar iets vir almal in die wêreld van landbou in ʼn veilige, rustige atmosfeer.”

ʼn Unieke kenmerk vanjaar is verskeie gesprekvoering-geleenthede wat oor die vier dae strek. ʼn Toekomsfokus gesprekforum, wat byvoorbeeld aangebied word deur Graan SA en ander rolspelers, spreek verskeie brandpunte in landbou aan deur middel van ʼn paneel kundiges wat deelneem.

Jannie de Villiers, uitvoerende hoofbestuurder van Graan SA, sê dit maak hom opgewonde dat Graan SA se vennote die Oesdag gebruik om aktuele debatspunte in die breë landbou te bespreek en te adresseer. “Ek hou van dié belegging wat rolspelers in die bedryf maak. Hierdie innoverende inisiatiewe voeg waarde vir graanprodusente toe. Dit maak van die Oesdag veel meer as net ʼn doeltreffende handelskou,” aldus Jannie.

Die dagprogram en meer besonderhede is beskikbaar op die webblad by www.nampo.co.za of skakel naby NAMPO Park in op Graan SA Radio by 99.2 FM.

Kaartjies kan vooraf gekoop word by Engen diensstasies, Senwes Village-winkels of by NAMPO Park self. Die hekke open om 07:00 en sluit teen 17:00.