• Login
  • Search Icon

GEEN AREA DIFFERENSIAAL VIR SOJABONE

14 Aug 2018

VIR ONMIDDELLIKE VRYSTELLING

Versoeke vir die implementering van ‘n sojaboon area differensiaal is deur rolspelers by die JSE ingedien. Die advieskomitee van die JSE het as gevolg, gister, 13-Augustus 2018, ‘n werkswinkel rakende die kwessie aangebied en oopgestel vir alle rolspelers in die bedryf. Graan SA Hoofbestuurslede, personeel en produsente-lede het aan die debat deelgeneem aangesien die Graan SA jaarkongres in Maart besluit het om nie ‘n area differensiaal op sojabone te steun nie.

Die JSE-werkswinkel van 13 August 2018 het weinig ondersteuning vir die implementering van ‘n area differensiaal op sojabone ontvang, en is daar aanbeveel aan die JSE dat dit nie geïmplementeer moet word nie. Graan SA het verduidelik dat daar tans baie leemtes en vrae bestaan oor die huidige area differensiaal sisteem en dat dit ‘n wesenlike impak op die hele waardeketting het, indien die proses en berekeninge foutief is. ‘n 5% foutiewe berekening kan ‘n geskatte impak van R200 miljoen rand in die waardeketting teweegbring. Verder was versoeke weer gerig dat soortgelyke werkswinkels vir die ander kommoditeite aangebied moet word. Graan SA moedig hierdie tipe debatte soos gefasiliteer deur die JSE aan, om bedryf probleme aan te spreek.

Die huidige surplusse in die sojaboon bedryf is algemene kennis wat tot gevolg het dat van die voorrade in die silo’s bly. Dit is egter nie ‘n verhandelings-instrument probleem nie, maar dui eerder op ‘n plaaslike vraag-probleem weens faktore soos die invoere van soja-oliekoek. Wanneer surplusse in sekere areas ontstaan, moet die vraag en aanbod deur middel van die vryemark-sisteem die uitdagings aanspreek. Sodra ‘n area differensiaal geïmplementeer word, verdwyn die insentief vir kapitale investering om surplusse te benut, aangesien voorrade dan kunsmatig geskuif word. Die implementering van die area differensiaal beperk ook die geleenthede vir basis verhandeling in die fisiese mark. Volgens Mnr Jannie de Villiers, HUB van Graan SA is dit baie belangrik dat die marksisteem na vryemarkbeginsels streef waar vraag en aanbod bepaal watter rigting voorrade beweeg en watter prysvlakke gerealiseer moet word. Produsente uit die westelike produksie-areas het ter verduideliking aangevoer dat surplusse wat konstant in sekere gebiede voorkom, outomaties deur die vryemark opgelos sal word. Minder aanplantings sal dus in die area realiseer of investering in verwerking sal plaasvind. Die produksiegebiede naby aan verwerkingsaanlegte sal ook ‘n liggings voordeel geniet en sodoende premies ontvang.

Die werkswinkel was eens dat baie van die uitdagings ook aangespreek kan word met die ontwikkeling van ‘n effektiewe sisteem wat basis termynkontrakte verhandel en het versoek dat die JSE volgehoue tyd en energie hieraan moet bestee. Die uitkoms van die JSE werkswinkel is positief vir graanprodusente en Graan SA is verheug dat hul ‘n positiewe bydra kon lewer.

Einde


Uitgereik deur:
Graan SA Kommunikasie

Verdere navrae:
Jannie de Villiers, HUB, Graan SA
086 004 7246 | jannie@grainsa.co.za | www.grainsa.co.z