• Login
  • Search Icon

Neem ingeligte beleggingsbesluite

May 2015

JOHANN VAN ZYL, SA Graan/Grain medewerker

Beleggingswenke

Beleggers moet deurentyd straatwys en paraat wees – soos produsente al geleer het met betrekking tot plaasaanvalle.

Mnr Dawie Klopper, gee die volgende beleggingswenke:

  • Diversifiseer oor 'n wye front – binnelands sowel as buitelands.
  • Koop altyd aandele by gehalte maatskappye, wat reeds hul staal getoon het. Moet dus nie meegesleur word deur maatskappye wat tydelik hoë opbrengste bied, maar geen groeipotensiaal in die lang termyn het nie.
  • Hou aandele vir 'n lang termyn en moenie paniekerig raak as die mark val nie.
  • Moenie met aandele spekuleer nie. Jy verbrand maklik jou vingers.

‘n Belegger wat vyf jaar gelede R1 miljoen se aandele in die genoteerde maatskappy, Zeder Investments, besit het, se belegging sou nou tot ‘n skaflike sowat R3 miljoen gegroei het. Selfs al het hy in Februarie 2011 teen ‘n aandeelprys van 273 c ingeklim, sou sy belegging met meer as 100% in waarde toegeneem het.

Dieselfde geld vir die genoteerde Pioneer Food Group. Dié genoteerde landbougroep se aandeelprys het vanaf 2009 meer as verdriedubbel en sedert die einde van 2011 met sowat 100% gestyg.

Dié maatskappye is slegs twee voorbeelde van landbouverwante groepe wat bogemiddeld gevaar het in ‘n mark wat in geheel stewig gegroei het, maar ook spesifiek by die lewendige landboumark gebaat het. Feit is dat die landbousektor tans wêreldwyd as een van die lewendigste sektore geag word en veral in die buiteland groot beleggingskapitaal trek en goeie opbrengste bied.

Zeder Investments

Zeder is sekerlik die beste voorbeeld van hoe goed ‘n ingeligte belegging in die plaaslike landboubedryf gevaar het: Dié maatskappy is in 2006 gestig met die fokus op waardebeleggings in die landbou-, voedsel-, drank- en voedselverwerkingsektore. Uitstaande groei in sy nege bestaansjare bevestig die wysheid om in goed presterende landbougroepe (baie van hulle voormalige koöperasies) te belê.

Met die groot omskakeling van koöperasies na landboumaatskappye in die negentigerjare en ná die eeuwending, het relatief min van hulle genoteer. Met oor-die-toonbank-verkope kon produsente en ander beleggers in hul voorspoed deel, maar dit het toenemend moeiliker geraak en heelwat huiswerk en verskeie kleiner beleggings (en dus baie moeite) van beleggers vereis.

Zeder spesialiseer in waardebeleggings by dié groepe en het dit dus maklik gemaak vir produsente en ander beleggers om in die landbouvoorspoed te deel.

Die toetrede van bekende waardesoekers, soos PSG, Coronation en Allan Gray, bevestig dat Zeder iets beet het. Dié drie groepe is vandag die grootste eienaars van Zeder se gewone aandele en besit gesamentlik meer as 60% van die maatskappy se uitgereikte 1,444 miljard aandele.

Hoewel veral die groot aandeelhouers hul aandele vashou (likiditeit is slegs sowat 21,3% per jaar), word gemiddeld 6 miljoen per week verhandel. Daar is dus tog aandele beskikbaar om te koop.

Dit beteken nie dat ‘n mens blindelings in Zeder moet belê nie: Hy is steeds ‘n slagoffer van landbougroepe se prestasies en in swak jare kan dit hom ook erg benadeel. Kyk jy egter holisties en realisties na die voedselbedryf – plaaslik en oorsee – in die lang termyn, bly voedsel ‘n wenbelegging.

Pioneer Foods

Met een of twee klein afwykings laat in 2012 en weer vroeg verlede jaar, ken Pioneer Foods se aandeelprysgrafiek ook al lankal net eenpad en dit is opwaarts.

Anders as die beleggingsgroep Zeder (wat in die sektor vir finansiële dienste genoteer is), staan Pioneer in die hart van die landbousektor: Dié groep en sy verskeie bekende filiale is hoofsaaklik betrokke in die vervaardiging van voedsel, drank en verwante landbouprodukte vir sowel menslike as diereverbruik.

Met van Suid-Afrika se bekendste en gewildste produkte, soos Marmite en Bovril, Redro, Sasko, Champion, Spekko, Weet-Bix, Safari, Bokomo, Moir’s, ProNutro en Otees, kan Pioneer nie die winsteiken mis nie. Solank hy goed bestuur word, sal beleggers in sy suksesse deel.

Pioneer Foods is in 2008 genoteer en sy gewone aandele, wat teen 10 c per aandeel uitgereik is, wissel vandag tussen R50/aandeel en soms meer as R120/aandeel. Sy verdienste per aandeel vir die finansiële jaar tot einde September 2014 was ‘n indrukwekkende 526,5 c en sy dividend vir die jaar 221 c/aandeel. Nie te versmaai nie.

Mnr Dawie Klopper, portefeuljebestuurder van PSG, bevestig dat beide Zeder en Pioneer goeie kopies is. “Onthou egter dat dit belangrik is vir alle beleggers, produsente ingesluit, om hul portefeuljes te diversifiseer,” maan hy.

Ander landbougroepe

Produsente kan gerus ook na ander landbouverwante genoteerde maatskappye kyk, waaronder Distell, Astral, Sovfood, Clover, Tiger Brands, Tongaat, Crookes en selfs Omnia. Die onlangs genoteerde Quantum Foods, ‘n spruit van Pioneer, het tot dusver nie baie goed gevaar nie, maar dit is soms juis sulke groepe wat goeie beleggings is as hulle eers op koers is. Hou hom dus gerus dop.

Klopper sê dat die meeste van dié groep maatskappye aantreklikhede bied, maar terselfdertyd ook dinge het wat teen hulle tel en dus wyse besluite vereis. “Een goeie voorbeeld is Tiger Brands, wat ‘n belang het in die Dangote-meule in Nigerië, waar daar tans onsekerheid is. Dit het ‘n invloed op Tiger se aantreklikheid as ‘n belegging.”

Volgens Klopper hou Distell se uitbreidings in Afrika groot belofte in, maar die verhandelbaarheid van sy aandele is ‘n probleem wat in gedagte gehou moet word. “Clover bied op die oog af waarde, tog is dit ‘n moeilike bedryf wat deur groot mededinging gekenmerk word. Internasionale melkpryse is ook onder druk.”

Ander genoteerdes

Ten einde nie by ‘n paar maatskappye (byvoorbeeld net in die voedselbedryf) vas te val nie, is dit altyd goed om na goeie genoteerde maatskappye buite jou portefeulje te kyk. Dit sluit maatskappye soos Aspen, Netcare en Capitec in. Barloworld (wat in werklikheid ook ‘n afdeling het vir landbouprodukte) – ‘n gevestigde maatskappy wat reeds in 1902 gestig en in 1941 genoteer is – het ook nog selde teleurgestel.

Klopper beveel aan dat produsente juis na buite die landbougroepe moet diversifiseer en selfs ook na die buiteland moet kyk.

Sektore wat in ‘n groeifase is, is ook oorweging werd. Klopper sê só ‘n beleggingstyl – ‘n momentumstyl teenoor groei- of waarde-aandele – het wel meriete en ‘n kundige, ingeligte belegger kan baie suksesvol wees daarmee.

“Die uitdaging is om betyds draai- of infleksiepunte in die mark raak te sien en vinnig daarop te reageer. Dalk moet ‘n belegger eerder na ‘n kombinasie van al dié beleggingstyle in Suid-Afrika kyk.”

Beursverhandelde fondse

Verskeie beursverhandelde fondse (ETFs), met lae transaksiekoste, is ook aan beleggers beskikbaar. Dit sluit volgfondse in, soos Satrix 40 (die JSE se top-40 maatskappye), Satrix Divi Plus (op grond van dividendbetalings), Satrix Fini, Satrix Property Index Fund, RMB MidCap, Standard Bank AfricaGold en die Grindrod S&P South Africa Low Volatility-fonds. NewGold, ‘n saamgestelde indeks wat die rand/goud-prys navolg, het tans die grootste markkapitalisasie van die sowat 50 volgfondse.

“Daar is dalk meriete in ‘n belegging in volgfondse,” sê Klopper. “Dit is egter belangrik om die regte fonds vir die regte markomstandighede te kies. Vandag se wenner kan dalk môre se verloorder wees: ‘n Belegger kry groot blootstelling binne so ‘n passiewe fonds en prestasie kan erg onder druk kom as die mark verander.”

Klopper noem die bankaandeel, Abil, as ‘n goeie onlangse voorbeeld. “Dié aandeel het histories ‘n hoë dividend betaal en ‘n groot gewig in die Satrix Divi opgeneem. Wat die passiewe fonds nie weet of nie in ag neem nie, is dat die vooruitsig vir die spesifieke maatskappy swak kan wees en die dividend – soos in Abil se geval – in ‘n volgende tydperk gesny sal word en die aandeelprys onder druk plaas.

“Onthou dus deurentyd dat suksesvolle belegging ‘n kuns is. Dink aan wat die bekende Franse komponis, Claude Debussy, oor die ewe bekende Duitse komponis, Richard Wagner, te sê gehad het: ’Moenie ‘n sonsondergang met ‘n sonsopkoms verwar nie.‘

“Hy was nie reg oor Wagner nie, maar wat aandelebelegging betref, is dit absoluut in die kol!”

Publication: May 2015

Section: Focus on

Search