• Login
  • Search Icon

NEEM 'N INGELIGTE besluit by saadplotte

April 2016

SA Graan/Grain redaksie

NEEM 'N INGELIGTE besluit by saadplotte

Kom ervaar vanjaar weer eerstehands by Graan SA se NAMPO Oesdag saadmaatskappye se verskillende kultivars en gewasse wat in saadplotte aan die suidooste kant van die terrein aangeplant is.

Buiten die saadmaatskappye se tradisionele statiese stalletjies wat jy kan besoek, sal jy ook die maatskappye se produkte onder praktiese omstandighede by dié plotte kan besigtig. Agricol, Pannar, Monsanto, Syngenta, Sakata, DuPont Pioneer en BRAZseed se kundige personeel sal jou by hul onderskeie saadplotte ontvang en van meer inligting oor hul verskeie kultivars kan verskaf en advies en aanbevelings kan gee ongeag jou verbouingsarea.

Saadmaatskappye gee ‘n voorsmakie
Mnr Joubert Swanepoel (sonneblomgewasbestuurder: Agricol) vertel dat ‘n groot gedeelte van Agricol se uitgebreide weiding-, dekgewasse en akkerboureekse by die saadplotte uitgestal sal word. “Produsente kan Agricol se kundiges op verskeie weiding- en akkerbougewasse kom raadpleeg om ingeligte besluite te neem vir die komende seisoen se voervloei- en gewasbeplanning.”

Volgens mnr AK Geldenhuys (produklandboukundige: Pannar) het die diversiteit van Pannar se witmielies, geelmielies, sonneblom, sojabone, droëbone, graansorghum en weidings vanjaar net weer gewys hoe jy by Pannar jou pakket kan aanpas al verander die seisoen drasties. Mnr Peet van der Walt (advertensiebestuurder: Pannar) sê: “Ongeag die gewas wat jy verbou of die uitdagings wat die natuur bied, kan ons die regte kultivars vir jou aanbeveel. Ons ondersteun produsente met goeie advies en praktiese boerderyoplossings om hul produksie te verbeter en die risiko’s en uitdagings waarvoor hulle te staan kom, ten beste te bestuur.”

By Monsanto se saadplot kan jy jou vergewis van die nuwe Dekalb-basters wat beskikbaar sal wees vir die komende plantseisoen.  “Hierdie basters vul ons bestaande reeks produkte aan en vul ook die leemtes wat daar was,” het me Magda du Toit (korporatiewe kommunikasiebestuurder: Monsanto SS Afrika) gesê. Benewens die mielie- en katoenkultivars is daar ook stand-, rywydte-, chemiese-, plantdatum- en aalwurmproewe by Monsanto se saadplot aangeplant. Van Monsanto se tegniese toerusting (soos ‘n presisieplanter) sal ook daar uitgestal word.

Syngenta sal vir jou meer inligting kan gee oor hoe om jou risiko te bestuur en opbrengste te optimaliseer wat tegnologie in plantbesker ming en saadbehandeling betref. “Die tegnologie sluit onder andere die beproefde Callisto®- (plantbeskermingstegnologie wat bestendig presteer en die produsent se Sonder ‘n gesukkel tot heel bo – as dit by 4x4’s kom, tel grootte glad nie. 2016 be legging beskerm) en Amistar®-tegnologie (Syngenta se wêreldbekende swamdodertegnologie wat opbrengste vir die produsent optimaliseer) in,” het mnr Stefan van Zyl (produkbestuurder: Rygewasse, Sentrale streek, Syngenta SA) gesê. Hy nooi produsente na hul visuele uitstalling, waar die effek van Syngenta se saadbehandeling op die ontwikkeling van plante gesien kan word. ‘n Verdere nuutjie by Syngenta se saadplot is ‘n uitstalling wat dié maatskappy met behulp van die Landbounavorsingsraad gedoen het. “Dit handel oor die grootste uitdagings in terme van onkruide, insekte, aalwurms en siektes wat produsente knel, asook die oplossings wat Syngenta bied vir hierdie uitdagings. Hierdie is dus ‘n ‘oplossings platform’ waarna produsente kan kom vir spesifieke probleme in hul boerdery,” aldus Van Zyl.

Die Sakata-saadplot sal vir besoekers die geleentheid bied om verskeie grasse te sien wat gebruik kan word vir verskeie areas – van grasperke, sportvelde tot bosveldareas. “Die verskil tussen nuutgesaaide gras en oorwinterde gras, sowel as blomspesies (wat kleur selfs in die koeler wintertye verskaf) sal ook waargeneem kan word,” het mnr Johan Stronkhorst (produkspesialis: Sakata) gesê. Maak ook gebruik van dié geleentheid om met Sakata se talle spesialiste te gesels oor hul wye reeks groentegewasse. “In die huidige ekonomiese omgewing is dit altyd goed om te kyk na ander kontantgewasse wat optimaal presteer, gerugsteun deur kundige diens en uitnemende genetika,” het Stronkhorst gesê.

Mnr Rikus Schoeman (bemarkingsbestuurder: DuPont Pioneer) nooi besoekers uit om Pioneer se twee nuutste witbasters – P2842W en P2864WBR – vir watertafelgronde te kom besigtig. Wil jy in Maartmaand reeds mielies stroop? Kom kyk dan gerus na Pioneer se twee ultrakort witbasters – P1517W en Phb 32B07BR. Kom vind ook meer uit oor die nuutste sojaboon- en sonneblomkultivars. Mnr Gielie Nieuwoudt (bemarkingsdirekteur: BRAZseed), die alleen verskaffer van die grassaad van ‘n Brasiliaanse saadmaatskappy Facholi in Suid-Afrika en die res van Afrika, nooi produsente uit om te kom kyk hoe die meerjarige grasse die afgelope seisoen – ten spyte van die erge droogte – hergroei het. “Ek kan met trots sê dat daar vandag 50 000 ha Brasiliaanse gras in Suid-Afrika is wat bewei word. Dié weiding is met 400% en meer verbeter,” het Nieuwoudt gesê.

Publication: April 2016

Section: NAMPO

Search