• Login
  • Search Icon

NAMPO 2012 (Afr)

June 2012

image

In ons nabetragting van Graan SA se NAMPO Oesdag 2012, het ons ernstig vir mekaar gevra wat ons bereik het.

Die doelwitte is om produsente en uitstallers bymekaar uit te bring waar produsente nie net die nuutste tegnologie kan sien nie, maar ook behoorlike vergelykings kan tref ten opsigte van hulle behoeftes. Om die ideale droom te kan laat verwesenlik, moet ons graan en oliesade winsgewend kan produseer teen uitvoerpariteit. Daarvoor is net die beste tegnologie nodig.

Tweedens bied die Oesdag ook ruim geleentheid om te kan netwerk. Vir my was dit bloot asof my kantoor vir ‘n week NAMPO Park toe geskuif het. My dagboek was volbespreek van vroeg -oggend tot laataand. Dit was lekker om vars inligting oor die vordering met die oes by ons lede te kon kry, gesprekke te kon hê met ons vennote in die waardeketting oor hulle toekomsplanne en ons verwerkers te kon dophou as hulle so tussen die uitstallers rondbeweeg.

Derdens is en bly NAMPO ook ‘n geleentheid om ‘n bietjie te spog en aan die stadsjapies te wys waaroor graanproduksie nou eintlik gaan. Die menigte opmerkings van eerste-besoekers, veral uit die politieke kringe en staatsdiens, laat ‘n mens met ‘n lekker warm hart wonder waarom hulle nou eers kom kuier het. Ons het, soos in die verlede, heelwat hooggeplaaste gaste ontvang asook baie buitelanders.

Tog jammer dat ‘n hele paar van ons eie mense nie hulle weg oopgesien het om hulself te kom vergewis van wat die status van ons landbou is nie. Ons het egter groot waardering vir sleutelpersone in die landbou en die leierskap van ons land wat kom besoek aflê het.

Prof Jonathan Jansen se opmerking op Twitter ten opsigte van landbou se vordering met transformasie, gee ‘n mens hoop dat ‘n stem van redelikheid nog bestaan. Hy het gesê: “NAMPO neem leiding in die transformasie van die landbou in ons land. Ek het in my lewe nog nie soveel swart boere gesien wat stories van verandering vertel nie.”

Laastens gebruik Graan SA ook die geleentheid om ons fondse aan te vul om sodoende ons diens aan ons lede en aan die land in die algemeen te verbeter. Die weer was wonderlik en teen die agtergrond van ons eie Graan SA Radiostasie, vertrou ek dat almal dieselfde positiewe ervaring as ek gehad het.

Die opmerking van die assistent-minister van Landbou van Botswana, (Hon O.S. Molebatsi) was nog ‘n hoogtepunt: “NAMPO het gewys dat SADC vir homself kan voorsien van kos.” Só gee ons hoop aan ons kontinent om voedselsekerheid nie net as ‘n droom te sien nie.

Ná NAMPO 2012 het ek moeg gaan slaap, maar met ‘n glimlag om my mond!

image

Jannie de Villiers, Uitvoerende hoofbestuurder

Publication: June 2012

Section: Editorial

Search