• Login
  • Search Icon

‘n Blik op die saadpryse vir die 2016/2017-produksieseisoen

July 2016

image

CORNÉ LOUW, senior ekonoom: Graan SA en LANDI KRUGER, datawetenskapkoördineerder: Graan SA

Saad as produksie-inset maak tans ongeveer 13% van ‘n mielieprodusent se lopende produksiekoste uit, terwyl dit tien jaar terug 10% daarvan uitgemaak het en 15 jaar gelede 5%.

Mieliesaadpryse het vir die 2016/2017-produksieseisoen ge middeld met 6,9% gestyg. Op ‘n gemiddelde basis het sonneblom saadpryse met 7,4% gestyg, graansorghumsaadpryse met 8,3% en sojaboonsaadpryse met 7%.

‘n Goeie barometer waarteen prysstygings gemeet kan word, is die Produsente Prys Indeks (PPI). Vir 2016 tot dusver was die gemiddelde PPI-styging 7,45%. Dit wil sê op ‘n gemiddelde basis het saadpryse die produksiekoste-inflasie van Suid-Afrika nagevolg.

Volgens Graan SA se Produksie/Insetwerkgroep het mieliesaadpryse van gewilde kultivars met 7% gestyg.

Saadkoste per ton geproduseer

Graan SA het ‘n studie gedoen waarin die koste van saad teenoor die opbrengs daarvan vergelyk is. Met ander woorde, die produktiwiteit van die saad oor tyd is ondersoek. Die studie is vir Suid-Afrika gedoen en met dieselfde studie in die VSA vergelyk.

Grafiek 1 toon die saadkoste per hektaar gedeel deur die opbrengs wat behaal is. Die resultate toon dat die styging in saadkoste proporsioneel vêr groter was as die styging in opbrengs vir beide Suid-Afrika en die VSA. Die ver houding tussen die koste van saad en die opbrengs daarvan het egter in Suid-Afrika heelwat vinniger toegeneem as in die VSA (Grafiek 1).

‘n Blik op die saadpryse vir die 2016/2017-produksieseisoen

Kultivars verskil van mekaar in een of meer van ‘n verskeidenheid eienskappe. Elkeen het dus ‘n unieke aanpasbaarheid en opbrengspotensiaal.

Volgens die LNR-Instituut vir Graangewasse (LNR-IGG) stel hierdie kultivarverskeidenheid alternatiewe beskikbaar wat goed benut kan word en die volgende is belangrike riglyne vir kultivarbeplanning wat oorweeg moet word:

  • Moet nooit ‘n staatmakerkultivar binne een seisoen met ‘n nuwe of onbekende een vervang nie.
  • Kultivarverskeidenheid versprei risiko. Plant ‘n reeks kultivars wat verskil in groeiseisoenlengte en eienskappe.
  • Kultivars moet aanpas by ‘n spesifieke opbrengspotensiaal, maar moet in staat wees om aan te pas by hoër en laer potensiaaltoestande.
  • Hersien kultivars jaarliks.

Sien Tabel 1 tot Tabel 4 vir prysvergelykings tussen verskillende maatskappye. Let daarop dat pryse kan verskil afhangende van pitgroottes en saadbehandelings.

Riglyne met die aankoop van saad

Met die aankoop van saad is daar ‘n aantal faktore waarop produsente moet ag slaan:

  • Wees daarop bedag dat pryse vir verskillende verpakkings geld, naamlik in 15 kg-, 20 kg- en 25 kg-sakkies of in pitverpakkings van 60 000 of 80 000 pitte per sakkie. By sonneblomsaad is daar ook 150 000 en 180 000 pitte per sakkie-verpakkings beskikbaar.
  • Die nuwe kultivars is merendeels die duurder kultivars. Verseker dat die kultivars onafhanklik deur die LNR-IGG getoets is en dat die prestasie bewese is. Moet nie onnodig groot risiko’s met ‘n nuwe kultivar loop nie.
  • Neem kennis van die agronomiese eienskappe, aanpasbaarheid, opbrengsprestasie en -stabiliteit, kwaliteitseienskappe en siekte- en plaagweerstand van ‘n spesifieke kultivar voor dit aangekoop word. Raadpleeg die LNR-IGG se 2016 Mielie Inligtingsgids (MIG) of die betrokke kundiges.
  • Maak seker met aankope dat die kwaliteit van die saad aan al die vereistes – ook aan dit wat op die sakkie staan – voldoen, veral ten opsigte van die eenvormigheid van pitgrootte en pitvorm.
  • Wanneer GM-kultivars (Bt- of RR- of dubbelgeen-kultivars) aangekoop word, maak seker dat die tegnologiefooi by die prys lys ingesluit is en dat konvensionele mielies vir die toe vlugsarea bykomend aangekoop word. Maak ook seker dat almal wat die saad hanteer, GM-eienskappe op saadsakke kan uitken en ook van konvensionele kultivars kan onderskei.
  • Sekere saadlotte word met middels behandel wat ‘n verskil aan die prys maak.
  • Beding vir korting waar moontlik. Verskeie maatskappye het kortingstrukture vir volume aankope, bevestiging van bestelling, vroeë lewering en vroeë betaling.
  • Ten laaste, kontak saadmaatskappye en hul verteenwoordigers vir meer volledige besonderhede rakende pryse en verskillende verpakkings.

Behandeling van saad

Saadmaatskappye staan nie in vir die kwaliteit van saad indien saadbehandeling nie deur die saadmaatskappy self of deur ‘n geregistreerde chemiese verskaffer wat toerusting en prosesse gebruik wat ISO-geakkrediteer is, gedoen word nie.

Ingeval ‘n chemiese verskaffer die behandeling doen, moet hy kan verseker dat die behandeling nie die kieming sal beïnvloed nie. Die chemiese middel wat gebruik word, moet ook onder Wet 36 van 1947 geregistreer wees en verkieslik deur die saadmaatskappy vir die spesifieke kultivar aanbeveel word. Behandeling van Rhizobium is uitgesluit.

Daar word dus aanbeveel dat produsente wat nie saad aankoop wat reeds behandel is nie en dit later wil laat behandel, dit in samewerking met die saadmaatskappy moet doen.

Riglyne vir die aanplant van Bt-mielies

Met die aankoop van Bt-saad, word ‘n tegnologie-ooreenkoms onderteken, waarin ‘n produsent onderneem dat die saad volgens voorgeskrewe riglyne aangeplant sal word.

Een van die belangrikste riglyne sluit die plant van ‘n toevlugsarea in. Daar is twee opsies wat gevolg kan word:

  • Óf ‘n 5%-aanplanting van nie-Bt-saad waar stronkboorders nie chemies beheer mag word nie;
  • Óf ‘n 20%-aanplanting van nie-Bt-saad waar die chemiese beheer van stronkboorders wel toegepas kan word.

Indien die 5%-opsie uitgeoefen word, moet elke 100 ha mielies aangeplant, uit 5 ha nie-Bt-mielies en 95 ha Bt-mielies bestaan. Sou die 20% opsie uitgeoefen word, moet elke 100 ha mielies dus uit 20 ha nie-Bt-mielies en 80 ha Bt-mielies bestaan.

Bykomend tot die vereiste persentasie nie-Bt-mielies, is daar ook spesifieke maatreëls wat geld by die aanplanting van ‘n toevlugsarea. Toevlugsareas moet onder andere só geposisioneer word dat Bt-mielies nie verder as 400 m vanaf ‘n toevlugsarea aangeplant word nie, ten minste twee buitegrense van die Bt-aanplanting gedek word, mag nie uit minder as ses rye bestaan nie en toevlugplante mag nie tussen Bt-plante geposisioneer wees nie.

Mielies wat in die toevlugsarea geplant word, moet ook dieselfde groeitempo as die Bt-mielies hê en moet ook binne sewe dae van mekaar geplant word.

 

Publication: July 2016

Section: On farm level

Search