• Login
  • Search Icon

Misstofmoniteringsverslag vir die 2011/2012-seisoen bekend

April 2012

kunsmis

WILLIAM DEALE, ANDRÉ NEL EN SOPHIA SWANEPOEL, ALMAL VAN DIE LNR-INSTITUUT VIR GRAANGEWASSE

Kunsmis en kalk verteenwoordig sowat ‘n derde van die direk toedeelbare veranderlike koste van mielieproduksie. Om winsgewend te produseer, is die toedien van kunsmis en kalk teen optimale peile asook die korrekte samestelling en kwaliteit daarvan, noodsaaklik.

Die doel met die monitering was om ‘n oorsig te kry oor die kunsmis- en kalkkwaliteit wat aan graanprodusente gedurende 2011/2012 gelewer is.

Prosedure

Die monitering van kalk en misstowwe is deur die LNR-Instituut vir Graangewasse (LNR-IGG) volgens ‘n prosedure wat tussen Graan SA en die Misstofvereniging van Suid-Afrika (MVSA) ooreengekom is, uitgevoer.

Spesiale apparaat is vir die doel gebruik. Moniteringspunte in die mielieproduserende gebied is op ‘n lukrake wyse gekies asook op versoek van produsente. Kunsmismonsters van 16 verskillende maatskappye is in die 2011/2012-seisoen in die teenwoordigheid van ‘n afgevaardigde van die betrokke kunsmismaatskappy geneem, tensy anders deur die maatskappy gereël.

Verkorrelde en massavermengde produkte se monsters is deur ‘n monsterverdeler in twaalf sub-monsters verdeel en daarna in blikke verseël. Drie onafhanklike laboratoriums het elk drie van die sub-monsters vir ontleding ontvang. Die oorblywende drie sub-monsters is aan die kunsmismaatskappy se verteenwoordiger oorhandig vir verdere ontleding indien nodig. Die gemiddelde element-inhoud is vanuit die resultate van die nege monsters bereken sonder inagneming van uitskieters en die resultate is aan die betrokke partye bekend gemaak.

Bestaande Staatskoerantregulasies is vir die beoordeling van die N-, P- en K-inhoud van die kunsmis gebruik. Die regulasies bepaal dat die toelaatbare tekorte van elemente (N, P en K) in ‘n mengsel volgens ‘n glyskaal beoordeel moet word.

Hoe laer die konsentrasie van die element in die mengsel is, hoe groter die toelaatbare tekort en omgekeerd. ‘n Totaal van 50 kunsmismengsels van verskeie maatskappye (MVSA-lede sowel as nie-lede) is gedurende die 2011/2012-seisoen volgens die ooreengekome protokol gemonster, ontleed en volgens die regulasies beoordeel.

Resultate van MVSA-lede

Aantal oorskrydings van toelaatbare tekorte
‘n Totaal van 36 kunsmismengsels is gedurende die 2011/2012-seisoen by MVSA-lede gemoniteer (Tabel 1). Dit sluit massa-, chemiese en vloeibare produkte in. Van die 35 N-bevattende mengsels, het twee die toelaatbare tekort oorskry (Grafiek 1). Die mengsels was massavermengde produkte. Die res van die N-bevattende mengsels het aan die inhoudsvereistes voldoen. Al 30 P- en 31 K-bevattende mengsels het aan die inhoudvereistes voldoen. (Grafiek 2 en Grafiek 3).

image

image

image

image

Ordegrootte van element-oorskrydings
Tabel 2 toon vir al die bogenoemde misstowwe die ordegrootteafwyking vir N, P en K aan waarvan die element-inhoud laer as die toelaatbare tekort was. Tabel 3 toon weer die ordegrootte-afwyking vir N, P en K aan waarvan die element-inhoud hoër as die geregistreerde inhoud was.

image

image

Vergelyking van die 2009/2010-, 2010/2011- en 2011/2012-seisoene

In Grafiek 4 word die resultate van alle tipes misstowwe vir die 2009/2010-, 2010/2011- en 2011/2012-seisoene getoon.

Sedert die 2009/2010-seisoen het die persentasie N-bevattende mengsels wat die toelaatbare tekort oorskry het, ongeveer dieselfde (ses ±1%) gebly.

Die persentasie P-bevattende kunsmis wat die toelaatbare tekort oorskry het, het van 17% in 2009/2010 tot 0% in 2011/2012 gedaal. Die toelaatbare K-tekort by K-bevattende kunsmis, het van 11% in 2009/2010 tot 0% in 2010/2011 en 2011/2012 gedaal.

image

Resultate van nie-MVSA-lede

Aantal oorskrydings van toelaatbare tekorte
Gedurende die 2011/2012-seisoen is 14 kunsmismengsels by nie-MVSA-lede gemoniteer (Tabel 4). Dit sluit agt massa-, drie chemiese en drie vloeibare produkte in. Van die twaalf N-bevattende mengsels, het twee die toelaatbare te kort oorskry. Die mengsels was massavermengde produkte. Die ordegrootte-afwykings word in Tabel 5 getoon.

Twee van die 13 P-bevattende mengsels het die toelaatbare P-tekort oorskry (Tabel 5), albei was massavermengde produkte. Vier van die ses K-bevattende mengsels het die toelaatbare K-tekort oorskry, waarvan drie massavermengde en een ‘n vloeibare produk was (Tabel 5).

image

image

Kalkmonitering gedurende die 2011/2012-seisoen

Kalkmonitering is op dieselfde wyse as die kunsmismonitering gedoen, dit wil sê ook volgens ‘n ooreengekome prosedure tussen die Misstofvereniging van Suid-Afrika (MVSA) en Graan SA. Die doel is om ‘n oorsig te kry oor die kwaliteit van die kalk wat aan kliënte gelewer word. Die afgelope 2011/2012-seisoen is monsters van ses verskillende kalkbronne geneem en net soos in die geval van kunsmis, by drie laboratoriums ontleed (Tabel 6).

image

Kalkkwaliteit word deur die deeltjiegrootteverspreiding en chemiese eienskappe van die kalk bepaal. Regulasies ten opsigte van standaard kalk bepaal dat 100% van die partikels kleiner as 1 700 μm moet wees en van die deurgelaat deur die 1 700 μm sif, moet 50% kleiner as 250 μm wees. In die geval van mikrofyn kalk moet 95% van die partikels kleiner as 250 μm wees en 80% kleiner as 106 μm. Die toelaatbare afwyking op die fynheid is 7%.

Wat die chemiese eienskappe betref, moet die kalsiumkarbonaatekwivalent (KKE [HCl]) vir beide kalsitiese- en dolomitiese kalk ‘n minimum van 70% wees.

Een van die twee kalsitiese kalke en twee van die vier dolomitiese kalke het nie aan al die vereistes voldoen nie. By al drie die kalke is die vereiste persentasie vir fynheid van 1 700 μm nie behaal nie, inaggenome die 7% toelaatbare afwyking. Verder het die kalsitiese kalk meer Mg ingehad as die maksimum toelaatbare 4,3% volgens regulasie.

Publication: April 2012

Section: Input Overview

Search