• Login
  • Search Icon

Mieliekuilvoer as alternatiewe manier van mieliebemarking

June 2017

PIETMAN BOTHA, SA Graan/Grain medewerker

Mieliekuilvoer is al soos ‘n ou bekende en geliefde vriend van die veebedryf. Daar is en was vele maniere vir die maak van kuilvoer. Met die verloop van tyd is nuwe maniere ontwikkel om kuilvoer te maak, te berg en nou ook dalk te verkoop.

Tegnologie het verseker in die laaste paar jaar die berging van veral graan op sy kop gedraai. Silosakke het ‘n alternatief vir die tradisionele graansuiers begin raak. Net só is daar vandag in die kuilvoerbedryf nuwe tegnologie beskikbaar. Dink aan die gebruik van hooibalers en die nuwe tegnologie om die bale in plastiek toe te draai om dit sodoende lugdig te berg.

Die gebruik van silosakke om kuilvoer in te maak en te berg is van die uitstekende nuwe tegnologie wat beskikbaar is. Hierdie nuwe neiging kan die koste vir die maak van die kuilvoer verlaag. Daarby kan die gebruik van hierdie sakke die hoeveelheid trekkers benodig by die maak van kuilvoer verminder.

As ‘n mens begin lees oor die nuwe tegnologie, kom jy vinnig tot die besef dat dit eintlik al redelike “ou” tegnologie is. Dit is hoofsaaklik in Europa ontwikkel en daarna in Amerika verfyn, waarna dit reg deur die wêreld versprei is.

In Suid-Afrika word hierdie tegnologie op verskeie plekke ingespan. Van die groot voerkrale in die oostelike Hoëveld maak al ‘n paar jaar lank suksesvol kuilvoer op hierdie manier. Die masjiene wat benodig word, is egter duur en gespesialiseerd en ‘n groot kapitale belegging is nodig om hierdie taak te kan verrig.

Kennis van watter proses om te volg, is net so belangrik as die basiese reëls vir die maak van kuilvoer. As jy gemors in die sak sit, sal jy gemors uitkry. As jy nie die proses korrek toepas nie, kan jy goeie materiaal insit en gemors uitkry.

Kyk hierna
Die groeistadium of volwassenheid van die mielies wat gesny word, het ‘n groot invloed op die inname, verteerbaarheid en die hoeveelheid van die bepaalde kuilvoer. Verskeie studies het getoon dat die beste tyd om ‘n gewas vir kuilvoer te sny, ‘n kompromie is tussen hoë kuilvoeropbrengs en kuilvoerkwaliteit (verteerbaarheid). Daarbenewens sal elke gewas ‘n optimale groeistadium vir sny hê, afhangende van die baster se individuele eienskappe.

Volwassenheid by die sny van kuilvoer beïnvloed die kwaliteit, omdat dit ‘n impak op graan en voginhoud het en dít weer ‘n invloed het op verteerbaarheid.

Volwassenheid van mieliekuilvoer kan ten beste bepaal word deur die melklyn. Die melklyn is die koppelvlak tussen die vloeistof en vaste gedeelte van die kern. Die melklyn sal nie verskyn voordat die mielies by die duikstadium (R5) van volwassenheid is nie.

Die kuilvoervog sal ongeveer 65% by 50%-melklyn wees. Dit is die ideale tyd om kuilvoermielies te sny. Graanvog sal dan ongeveer 37% wees (‘n mielie wat fisiologies ryp is, se graanvog is ongeveer 35% – afhangende van die tipe baster). Daar word aanbeveel dat produsente hul kuilvoer op 40%-melklyn begin sny en dat die sny van kuilvoer op ‘n 60%-melklyn gestaak word. Dit sal beteken dat meeste van die kuilvoer op 50%-melklyn gesny sal word.

Navorsing deur Pioneer en die Universiteit van Minnesota dui daarop dat, wanneer die pitte net begin duik (voor melklynvorming), die hele plant se vog 73% tot 76% sal wees. Sny op hierdie stadium van volwassenheid sal lei tot laer graaninhoud en die verlies van waardevolle voedingstowwe weens afloop.

Kultivarkeuse
Die kultivarkeuse is net so belangrik. Neem die volgende in ag by die keuse van die ideale kuilvoerkultivar vir jou:

  • Die vermoë van die kultivar om hoë kwaliteit kuilvoer te produseer.
  • Die vermoë om meer as 40% van die graan op ‘n droëstofgrondslag te gee.
  • Koppe moet nie sak of afval voordat die mielies gesny word nie.
  • Goeie behoud van kleur.
  • Weerstand teen omval.
  • Die stronke moet hoogs verteerbaar wees.

Voordele
Daar is verseker heelwat voordele verbonde aan die maak van kuilvoer in sakke. Volgens navorsing wat deur prof David Christensen van die Saskatchewan Universiteit gedoen is, is bevind dat die kwaliteit van kuilvoer in sakke uitstekend is. Die rede daarvoor is omdat die sakke lugdig verseël kan word en die suurstof in die sakke vinnig opgebruik word en sodoende die verrotting van die materiaal beperk. In die konvensionele maniere waarop kuilvoer gemaak word, kan dit nie so dig verseël word nie.

In die sakke is die verliese van kuilvoer heelwat minder (ongeveer 6% - 8% gaan verlore), terwyl die konvensionele metode se verlies tussen 15% tot 25% kan wees. Net hierdie besparing in verlies is klaar beduidend.

Verder is die uitlaaipersentasie van die kuilvoer in sakke ook heelwat hoër as dié vanuit die konvensionele maniere van opberging. Indien die sakke reg bestuur word, is die kans van die vermenging van kuilvoer met grond amper onmoontlik. Die diere vreet dus meer en die slytasie op voermengers is minder.

Hou dié in gedagte
Soos met enigiets in die lewe, is daar heelwat slange in hierdie paradys. Die eerste is dat die regte versakkingsmasjiene bekom moet word. Dit beteken die uitlê van kapitaal. Die sakke kan nie hergebruik word nie en moet jaarliks aangekoop word.

Verder moet besluit word waar die sakke geplaas gaan word. Die terrein moet van só ‘n aard wees dat die sakke nie deur water beskadig kan word nie, die grond nie te nat sal wees vir die maak en uithaal van die kuilvoer nie en die sakke deeglik beskerm is.

Dit klink vreemd, maar voëls en muise en ‘n verdwaalde koei, kan vinnig groot skade aanrig. As die sakke beskadig word, gaan daar suurstof in die sakke in en die kuilvoer sal begin vrot. Daaglikse inspeksie van die sakke is noodsaaklik. Wanneer daar gate ontstaan, moet dit so spoedig moontlik met die regte materiaal reggemaak word.

Met die uithaal van die kuilvoer, moet daar van die regte tegniek gebruik gemaak word om die sak oop te maak. As dit nie gedoen word nie, kan die laaigraaf groot skade veroorsaak; plastiek kan in die voer kom en die beeste se prestasie kan daardeur benadeel word.

Gepraat van die plastiek: Die bestuur van die leë sakke is belangrik. Dit moet op die regte manier vernietig word anders veroorsaak dit heelwat besoedeling.

Tydens die maak van die kuilvoer moet seker gemaak word dat die versakkingproses vinnig genoeg plaasvind sodat die kuilvoerkerwers nie hoef te wag nie. Die kapasiteit moet van so ‘n aard wees dat die kuilvoerkerwery en versakking binne tyd afgehandel kan word. Die lugdigte verseëling van die sak is krities. Hierin lê die grootste uitdagings. As die sakke nie reg toegemaak word nie en die sakke word te pap gestop, gaan die hoeveelheid suurstof binne die sakke te hoog wees en gaan die kuilvoer nie genoegsaam fermenteer nie. Indien die sakke te styf gestop word, kan die sakke skeur en sal dit die kuilvoer verlore laat gaan.

Meer wins per hektaar
Kuilvoer in sakke en bale kan dit vir die verbruikers van kuilvoer die moeite werd maak om kuilvoer aan te koop en soos benodig te vervoer. Die bale maak dit moontlik om een baal op ‘n slag te koop en vinnig te voer.

Dit skep daarom die geleentheid om kuilvoer buite die tradisionele graanmarkomgewing te maak en te verkoop. Dit maak dit ook moontlik om in die verbruiker se spesifieke behoeftes te kan voldoen. Daarop kan ‘n ekstra marge geplaas word – alles om meer wins per hektaar te maak.

Indien daar enige navrae oor hierdie artikel of die kuilvoerproses is, kan Pietman Botha by 082 759 2991 gekontak word.

Hierdie artikel is geskryf met inligting wat vanaf Pioneer verkry is.

Publication: June 2017

Section: Focus on

Search