• Login
  • Search Icon

Maartmaand in die grondboonland

March 2013

— wat gedoen moet word

 

LOUREINE SALOMON, LNR-INSTITUUT VIR GRAANGEWASSE

Die seisoen is beslis aan die loop en voor jy jou oë uitvee, is dit oestyd. Maartmaand in die grondboonland raak baie interessant. Dis die tyd wanneer jy die vrugte van jou arbeid begin sien en jy die laaste pogings gaan aanwend om die beste produksie te behaal.

Gedurende hierdie tyd moet jy katvoet loop vir blaarsiektes aangesien jy soveel as moontlik van jou blaredak vir die oestyd wil behou. Maak egter doodseker dat jy die onthoudingstydperke van geregistreerde middels streng nakom aangesien daar voldoen moet word aan die HACCP-regulasies.

Die aanvraag na grondboonhooi het gestyg in die laaste paar jaar daarom het dit betalend geraak vir die grondboonboer om grondboonoesreste te baal.

Vroeë aanplantings kan al teen die middel van die maand gereed wees om te oes. Dit is dus noodsaaklik om weekliks rypheidsbepalings te doen. As daar groot aanplantings is wat geoes moet word, sal die voordelig wees om die vroeë aanplantings rondom 60% rypheid te begin oes sodat, wanneer die laaste aanplantings geoes word, die rypheid rondom 80% sal draai.

As daar nog ‘n tydjie is voor daar geoes gaan word, is dit nou baie belangrik dat oesmasjinerie nagegaan word. Oestyd by grondbone kan baie besig wees en fyn beplanning is nodig. ‘n Produsent wil nie sukkel met toerusting wat kort-kort breek nie. ‘n Skoon grondboonland oes ook makliker as ‘n land wat met onkruid oortrek is. Dit mag dalk nodig wees dat die laaste lastige onkruide geskoffel moet word.

Wees bewus van wat op jou grondboonlande aangaan. Laat jou voetspore in die grond agter en wees verseker van ‘n goeie oes.

image

Publication: March 2013

Section: Input Overview

Search