• Login
  • Search Icon

Maak hierdie seisoen dubbel seker van insetaankope

September 2016

image

CORNÉ LOUW, senior ekonoom: Graan SA

Die nuwe plantseisoen vir somergrane lê voor die deur en die meeste produsente koop nou hul insetmiddele aan. Die ekonomiese omstandighede is egter nie altyd ideaal vir insetaankope nie. Graan- en oliesadeprodusente het sopas ‘n uitmergelende droogte deurleef, krediet vir die nuwe seisoen is problematies en die wisselkoers veroorsaak dat voordelige internasionale insetprysdalings nie plaaslik deurgegee word nie. Boonop kan ‘n goeie reënseisoen in Suid-Afrika veroorsaak dat graanpryse skerp daal.

Hoë insetpryse teenoor moontlike dalende graanpryse beteken dat graan- en oliesadeprodusente hierdie seisoen dubbel seker sal moet maak dat hulle die beste prys vir hul insetmiddele betaal. Uit die verlede is geleer dat die tyd van aankope, die handelsnaam en ekonomiese toestande die prys van ‘n insetmiddel op ‘n sekere tydstip bepaal.

Saad, kunsmis, brandstof en plaagbeheer maak sowat 65% van ‘n graanprodusent se lopende produksiekoste uit, wat beteken dat dit uiters belangrik is dat die regte prys vir hierdie insette betaal moet word. Hierdie mandjie van insetmiddele het plaaslik op ‘n jaargrondslag met 3,5% toegeneem.

Stel vas wat jou buurman betaal het, kry kwotasies by soveel as moontlik ander maatskappye (vir dieselfde produk), neem kennis van internasionale en plaaslike tendense óf, vir lede, kontak Graan SA. Moenie altyd net die eerste, beste prys aanvaar nie. Kyk verder na maniere om beter bedingingsmag te bekom:

  1. Doen groter volume aankope.
  2. Koop saam met ander produsente.
  3. Koop op die regte tyd – ‘n tyd wat dit vir die insetmaatskappy die moeite werd maak.

Die prys en kwaliteit van ‘n produsent se insetmiddele kan letterlik die verskil tussen wins en verlies beteken.

In hierdie artikel probeer Graan SA om ‘n tendens in verskillende insetmiddele vir sy lede vas te vang om hulle te help met insetaankoopbesluite. Vergelyk pryse wat nou aangebied word met tendense én dit wat verlede jaar betaal is.

Kunsmis

Maak hierdie seisoen dubbel seker van insetaankope Maak hierdie seisoen dubbel seker van insetaankope Maak hierdie seisoen dubbel seker van insetaankope Omdat Suid-Afrika so ‘n groot hoeveelheid van sy kunsmisbehoeftes invoer, behoort plaaslike en internasionale pryse beduidend te korreleer. Tabel 1 toon internasionale pryse oor ‘n jaartydperk in dollarwaarde, terwyl Tabel 2 dieselfde pryse in randwaarde aandui.

Uit Tabel 2 is dit duidelik dat die verswakking in die wisselkoers ‘n belangrike rol kan speel in hoe internasionale prysdalings in die plaaslike mark deursyfer.

In Tabel 3 kan die gemiddelde plaaslike kunsmispryse (pryslyspryse) waargeneem word. Die plaaslike pryse toon dieselfde tendens as internasionale pryse, maar dit is duidelik dat plaaslike pryse nog nie tot dieselfde mate gedaal het nie.
Onthou egter dat hierdie pryse ten doel het om tendense aan te dui en dat daar nie noodwendig na die fisiese prys gekyk moet word nie, aangesien die internasionale pryse (vry aan boord) na pryse in ‘n internasionale hawe verwys.

 

Wenke met aankope van kunsmis:

  1. Kry kwotasies by verskillende maatskappye vir dieselfde produkte.
  2. Vind uit wat groothandelaars vir grondstowwe vra (byvoorbeeld Sasol vir stikstof en Foskor vir fosfaat). Daar is ook heelwat groothandelaars (wat kunsmis invoer), wat vanaf die hawens funksioneer.
  3. Bereken die koste per eenheid vir plantvoeding.
  4. Vind uit wat die betalingsterme is wat jou die beste pas.
  5. Bestel vroegtydig.
  6. Kwaliteit van produkte moet altyd prioriteit geniet.

Saad

Mieliesaadpryse het vir die nuwe seisoen, op ‘n gemiddelde basis, met 6,9% sedert verlede jaar gestyg. Volgens Graan SA se Produksie/ Insetwerkgroep het mieliesaadpryse van gewilde kultivars met 7% toegeneem.

Op ‘n gemiddelde basis het sonneblomsaadpryse met 7,4% gestyg, graansorghumsaadpryse met 8,3% en sojaboonsaadpryse het met 7% gestyg. Vir volledige saadpryse per kultivar raadpleeg die SA Graan/Grain se Julie-uitgawe vanaf bladsy 70.

Maak hierdie seisoen dubbel seker van insetaankope Maak hierdie seisoen dubbel seker van insetaankope Landbouchemikalieë

Basies 100% van die aktiewe bestanddele wat nodig is om landbouchemikalieë te vervaardig, word deur Suid-Afrika ingevoer. Internasionale tendense en die wisselkoers, gaan dus ‘n bepalende rol in plaaslike prysvorming speel.

Tabel 4 en Tabel 5 dui tendense in internasionale landbouchemikalieë (aktiewe bestanddele)-pryse aan. Uit die tabelle is dit duidelik watter groot impak die wisselkoers op plaaslike pryse kan hê.

Wanneer insek do der pryse bestudeer word, kan gesien word dat pryse in dollarterme gedaal het. As gevolg van die wisselkoers kan plaaslike pryse heel waarskynlik sywaarts beweeg.

Wat internasionale onkruiddoderpryse betref, het pryse in dollarterme gedaal. Die verswakking van die rand veroorsaak egter dat al hierdie dalings nie na die plaaslike mark toe deurvloei nie (Tabel 5). Die pryse van plaaslike glifosaat- en atrasienprodukte be hoort steeds laer te wees as verlede jaar dieselfde tyd.

Brandstof

Aangesien die groothandelsprys van diesel gereguleer word, behoort daar nie groot verskille te wees in die prys wat produsente vir diesel betaal nie. Behalwe vir die verskille tussen sones, is daar al wel opgemerk dat produsente binne dieselfde sone verskillende pryse betaal.

Verlede jaar Augustus was die groothandels prys van diesel in Gauteng R10,95/ liter, terwyl dit in Augustus 2016 R10,97/ liter was. Dié groothandelsprys behoort vir pro dusente ‘n goeie aanduiding te wees van die prys waarteen hul diesel kan aankoop, aangesien dit op grootmaat gedoen word.

Om af te sluit

Graan SA probeer om insetpryse deurlopend te moniteer en inligting aan ons lede beskikbaar te stel om deursigtigheid en kompetisie in die insetomgewing te bevorder.

Maak hierdie seisoen ‘n bietjie meer oproepe, kry meer kwotasies en vir lede, kontak Graan SA om seker te maak die regte insette word teen die regte prys aangekoop.

Publication: September 2016

Section: On farm level

Search