• Login
  • Search Icon

Louw Steytler: 'n merkwaardige leier in die landboubedryf en veral vir graanprodusente

June 2012

PIETMAN BOTHA, SA GRAAN/GRAIN MEDEWERKER

image

Louw Steytler (voorsitter: Graan SA) is ‘n besproeiingsgraanprodusent wat in die Luckhoff-distrik met veral mielies en koring boer. Hier word Oranjerivierwater gebruik om die waarde van die Noord-Kaap en Suid-Vrystaat te ontsluit. Louw is een van die produsente wat dit sy taak maak om hierdie gebied se potensiaal te ontsluit.

Toe Louw moes besluit waar om te begin boer, was water die belangrikste oorweging, maar grond en grondkwaliteite het ook ‘n belangrike rol gespeel. Louw kyk vandag terug en besef dat sy kriteria die regte kriteria was.

Louw is die spil waarom sy boerdery draai. Hy doen self sy beplanning en gee sodoende die rigting van die boerdery aan. Hy doen ook self die onderhandelinge vir die aankope van die insette en maak seker dat insette teen die regte pryse afgelewer word.

Arbeid – doeltreffendheid word beloon

Arbeid is vir Louw van kardinale belang en hy dra sy mense se belange op die hart. Menswaardige behandeling is vir hom ononderhandelbaar en daarom poog hy om hul in alle aspekte menswaardig te behandel. Wedersydse respek is vir albei partye belangrik, daarom sal Louw altyd asseblief en dankie gebruik. Vir elke voorreg, is daar egter ook verantwoordelikhede.

Hy glo daaraan om ook aan sy plaasbestuurders en arbeiders verantwoordelikhede oor te dra en daarom is hul ingelig waarheen die boerdery op pad is en weet wat die doelwitte is. “Hierdie mense is daarvoor verantwoordelik dat dit wat ek gedoen wil hê, uitgevoer word,” vertel Louw.

As een nie verantwoordelik optree nie of dalk slap lê of buite die reels beweeg dan kry hy wat hom toekom en dit kom ook met oorgawe.

Louw weet egter wat die kritieke aspekte van die boerdery is en is streng dat dit reg gedoen word en kontroleer dié aspekte gereeld.

“Ek glo dat take so effektief en doeltreffend moontlik gedoen moet word, met ander woorde die eerste keer reg gedoen moet word,” sê Louw. Hy glo dat sy arbeiders en plaasbestuurders so produktief as moontlik moet wees. Op hierdie punt is daar nie ‘n uitsondering nie. Louw weet dat dit wat gedoen moet word, gedoen moet word, al beteken dit om soms buite die begroting te beweeg.

Winsgewendheid

Louw sê hy besef alte goed dat, soos die Engelse gesegde lui: “Talk is cheap, but it takes money to buy the whiskey.” Daarom is die winsgewendheid van sy boerdery vir hom eerste prioriteit. Alle ander besluite word rondom die winsgewendheid en dan volhoubaarheid geneem.

Indien nuwe praktyke ondersoek moet word, sal dit eers aan winsgewendheid getoets word voor dit geïmplementeer word. Met die vervanging al dan nie van toerusting, speel die winsgewendheid ook ‘n rol. Indien die besit van ‘n masjien noodsaaklik is om ‘n vertakking te verbou, moet die vertakking die masjien kan betaal, glo Louw. Indien die vertakking dit nie kan doen nie, sal hy ernstig oorweeg of hy nog met die vertakking moet voortgaan as die masjien ‘n vereiste is.

Louw is terdeë bewus dat winsgewendheid ook die vastekostekomponent moet insluit. “Aan die vaste koste kan jy self iets doen, jý moet dit doen en jy moet die vastekoste met ‘n ferm hand beheer,” sê Louw. Hy het al die prys betaal deur nie vastekoste in al sy berekeninge in te bring nie en só agtergekom dat die punte dan nie meer lekker bymekaar kom nie.

image

Water

Waterskedulering en toediening is vir hierdie boerdery van kardinale belang. “Ons sit met ‘n hulpbron wat geoptimeer moet word en daarom wil ons nie oor- of onderbesproei nie.” Ten einde aan hierdie doelwitte te kan voldoen, maak Louw gebruik van die diens wat OVK in dié verband bied. Dit is elke plaasbestuurder se verantwoordelikheid om te sorg dat die spilpunte reg werk en bly werk.

Louw probeer ook om so ver as moontlik sy elektrisiteitsverbruik te bestuur. Daar word gepoog om so ver as moontlik van die goedkoop tarief gebruik te maak. Hy is gelukkig dat ‘n gedeelte van sy lande aan die onderkant van die kanaal is en daarom is sy elektrisiteitsrekening op hierdie gedeelte laer as die res van die lande.

Plaagbeheer

Omrede Louw op oorwegend sandleemgronde boer, is aalwurm en wortelsiektes ‘n groot probleem. Hy bestuur hierdie problem chemies en tydens plant word plaagdoders toegedien om aalwurm te beheer. Die gebruik van plaagdoders word baie oordeelkundig oorweeg en daar is op dié plaas nie ‘n probleem met rooispinnekop en spinmyte nie.

Bewerkingsmetodes

Alle gewasse word volgens grondontledings en opbrengsmikpunte bemes. Daar word voorsienning gemaak om die meeste van die bemestingstowwe deur die spilpunte toe te dien, maar ‘n klein hoeveelheid word ook tydens die plantproses toegedien. Louw maak ook gebruik van verskeie landboukundiges om hom te help om op die regte bemestingsprogram en verbouingspraktyke te besluit.

Op die oomblik is daar nie ‘n geskikte wisselbougewas om die koring en mielies op die plaas mee af te wissel nie. Volgens hom is daar verskeie gewasse wat geplant kan word, maar hul winsgewendheid is onder verdenking. Louw ervaar hierdie nie gelate nie en ondersoek tans die inbring van permanente weidings om as wisselbougewasse aan te wend.

Louw besef ook as sy boerdery stagneer is die moeilikheid om die draai. Oor dié rede is Louw tans besig om met behulp van kenners, ‘n Beefmaster beesboerdery in die Suid-Kaap van die grond af te kry. Hy poog egter ook om ‘n groter deel van die verbruikersrand in die hande te kry en daarom ondersoek hy gereeld maniere om waarde tot sy graan te voeg.

Louw is ‘n leier wat deur die voorbeeld wat hy stel, die pas wil aangee en dit geld ook vir sy boerdery. Wat ‘n merkwaardige man!

Publication: June 2012

Section: Other Articles

Search