• Login
  • Search Icon

LNR-KGI kultivar-wenpakket vir die 2013-groeiseisoen in die besproeiingsgebied

April 2013

DR ANDRÉ MALAN, LNR-KLEINGRAANINSTI TUUT, 'N INSTITUUT VAN DIE VELDGEWAS DIVISIE, BETHLEHEM

image

Die LNR-Kleingraaninstituut (LNR-KGI) beskik oor ‘n uitgebreide kultivarpakket met kultivars wat almal wenners in eie reg is. Die fokus in die teelprogram is om deurlopend nuwe verbeterde koringkultivars vir die produsente te ontwikkel. Tans beskik die pakket oor kultivars met hoë opbrengste (10 ton tot 12 ton), uitstekende maal- en bakkwaliteit, siekteweerstand en fisiologiese toleransie vir vooroesuitloop.

Die pakket bestaan uit die volgende koringkultivars wat vrylik in die besproeiingsgebied beskikbaar is:

Baviaans

  • Medium groeiperiode
  • Goeie opbrengspotensiaal
  • Uitloop verdraagsaamheid
  • Unieke broodbakkwaliteit

Kariega

  • Medium groeiperiode
  • Goeie opbrengspotensiaal
  • Sterk stoelvermoë
  • Uitloopverdraagsaamheid
  • Toon verdraagsaamheid teen aarskroei en wortelvrot

Duzi

  • Medium/kort groeiperiode
  • Staanvermoë goed
  • Hoë duisendkorrelmassa
  • Goeie stoelvermoë (minder saad)
  • Roesverdraagsaamheid
  • Toon verdraagsaamheid teen aarskroei en wortelvrot

Krokodil

  • Medium groeiperiode
  • Opbrengsleier
  • Weerstand teen blaarroes
  • Geelroesvatbaar
  • Aarskroeivatbaar

Sabie

  • Medium/lang groeiperiode
  • Bogemiddelde opbrengspotensiaal
  • Baie goeie stoelvermoë
  • Blaarroesverdraagsaam
  • Weerstand teen geelroes
  • Uitloopverdraagsaamheid

Buffels

  • Medium/lang groeiperiode
  • Goeie opbrengs
  • Goeie stoelvermoë (minder saad)
  • Goeie staanvermoë
  • Goeie roesverdraagsaamheid
  • Toon goeie verdraagsaamheid teen aarskroei

Steenbras

  • Kort groeiperiode
  • Hoë hektoliter-massa
  • Uitstekende vlakke van siekteweerstand
  • Baie goeie geelroesverdraagsaamheid

‘n Belangrike besluit wat geneem moet word as daar oor die aanplant van ‘n kultivar besluit moet word, is wat is die risiko’s in ‘n spesifieke produksiegebied en watter risiko’s kan bestuur word met die genetika beskikbaar. Hier moet die produsente byvoorbeeld let op siekteweerstand en vooroesuitloop-toleransie.

Koringprodusente moet daarop let dat elke kultivar unieke eienskappe het wat korrek bestuur moet word om optimale opbrengs te verseker. Voorbeelde van die eienskappe is byvoorbeeld die groot pitte van Krokodil en Duzi. Waterbestuur is dus noodsaaklik tydens die korrelvulperiode om sodoende die genetika optimaal te kan benut. Deur die regte besluite te neem en die regte produksiepraktyke toe te pas, vir spesifieke kultivars, kan insetkoste verminder word en opbrengste kan verhoog word, wat die winsgewendheid van koringproduksie kan opstoot.

Daar word weer ‘n beroep op produsente gedoen om gesertifiseerde koringsaad te koop. Gesertifiseerde saad het voordele vir die produsent: Kiemkragtigheid is getoets en word op die etiket aangedui. Duisendkorrelmassa is bepaal en word op die etiket aangedui. Die saad is behandel om siekte te verminder tydens ontkieming. Dit is kultivar-egte saad.

Al hierdie faktore dra daartoe by dat die regte saaidigtheid gebruik word om sodoende saam met ‘n aanvaarde pitgrootte ‘n stewige, gesonde plant te vestig wat dan bestuur kan word tot optimale oeste. Die produsent moet onthou dat as daar met swak plante en plantestand begin word, hulle nie ‘n optimale oes kan verwag nie en dat al die genetika tot hulle beskikking dan eintlik nutteloos is.

Vir enige navrae, kontak dr André Malan by malana@arc.agric.za.

Publication: April 2013

Section: Input Overview

Search