• Login
  • Search Icon

Leer en gee van jouself — dís Pauciflora se suksesresep

April 2014

Graan SA/Syngenta Graanprodusent van die Jaar-finalis

PIETMAN BOTHA, SA Graan/Grain medewerker

Die geskiedenis van die Pauciflora Boerdery van Dirk en Herman van Rensburg, is eintlik ongelooflik. In hierdie geskiedenis word die bydrae vergestalt van ‘n nederige produsent wat bereid was om te leer, geleenthede aan te gryp, risiko’s te waag, die regte aksies op die regte tyd te neem en baie hard te werk.

Hierdie uitmuntende boerdery in die Arlington-distrik is deur Dirk begin wat destyds sy landboutande in die Departement van Landbou gesny het. Nadat Dirk sy nasionale diploma in Landbou Ingenieurswese en Voorligting verwerf het, is hy na Lindley verplaas om grondbewaringswerk en voorligting te doen.

Dirk het hierdie geleentheid aangegryp om baie van medeprodusente rakende produksietegnieke te leer. Hy het homself diep in hierdie omgewing se geleenthede en uitdagings ingegrawe; ondervinding wat hy later tot sy eie voordeel aangewend het. Vir elke probleem moes daar oplossings gesoek word en so het Dirk ‘n diep kennis van landbouproduksiepraktyke bekom.

Toe die geleentheid hom voordoen om deeltyds te kon begin boer, het Dirk dit met albei hande aangegryp. Dit het daartoe gelei dat hy sy eie grond kon bekom en sy boerdery só kon uitbrei dat hy voltyds kon begin boer. Hierdie stap het egter nie Dirk se betrokkenheid by medeprodusente gestop nie en hy’t voortgegaan om sy kennis met sy eweknieë te deel. Selfs op georganiseerde landbougebied speel Dirk ‘n belangrike rol en word sy kennis tot voordeel van ander landbouers aangewend.

image

Goeie buurmanskap

Dirk verstaan dat enige besigheid net optimaal kan presteer en floreer as dit in ‘n vreedsame omgewing funksioneer. Sommige van hul lande grens aan die plaaslike swart woongebied en deur goeie verhoudinge met die mense te bou en te behou word goeie buurmanskap uitgeleef. Dirk en Herman het ook ‘n oop hand om hierdie mense in hul nood by te staan. Deur te belê in die opleiding van kinders, word geleenthede geskep wat oor tyd goeie vrugte afwerp.

Die volgende geslag

Dirk is bekend vir die rol wat hy vervul in die vestiging van nuwe opkomende produsente. Nie net word sy vredemakersrol in die georganiseerde landbou gebruik nie, maar dit word ook in sy besigheid gebruik. Dirk het die visie om sy boerdery op ‘n geordende wyse aan die volgende geslag oor te gee.

Om dié rede het hy sy seun, Herman, deel van die boerdery gemaak en hulle neem tans alle besluite rakende die toekoms van die boerdery saam. In die nabye toekoms sal die besluitneming al meer en meer deur Herman gedoen word.

Veefaktor

Verskillende opsies vir hierdie boerdery word aan die hand van die impak daarvan op volhoubare winsgewendheid gemeet. Dit het Dirk gedwing om van die begin af konserwatief te wees. Saaiboerdery is baie blootgestel aan klimaatskommelings en verder is daar gedeeltes op die plaas wat net deur vee benut kan word.

Om dié rede bedryf Pauciflora Boerdery ‘n sterk veevertakking waar daar gepoog word om een dragtige koei vir elke saaihektaar te besit. As dit die jaar swaar gaan, is daar vee om te verkoop. In ruil vir hierdie stabiliteit word die vee toegelaat om die lande matig te bewei.

Adviseurs

Dirk en Herman besef dat kundige adviseurs ‘n voordeel vir hul besigheid inhou. Tans is die rekenmeester asook bankbestuurder ‘n integrale deel van hul boerdery se finansiële besluitneming. Geen vervanging of groot aankope word gedoen sonder dat die transaksie by hierdie twee partye geklankbord word nie.

Wat die produksie betref, word sterk gesteun op die landboukundiges van die landbou-insetverskaffers. Hierdie adviseurs vorm ‘n integrale deel van die boerdery en hulle is ten volle ingelig oor die rigting wat hierdie boerdery wil volg.

image

Hulpbronne

Ten einde volhoubaar te kan bly produseer, is dit vir Dirk en Herman belangrik om hul hulpbronne optimaal aan te wend. Dirk het dit begin implementeer met die aankoop van die eerste plaas en vandag word die gewasse aangeplant op lande wat lankal hidrologies beplan is en deur kontoere en afleibane beskerm word.

Die grondhulpbron is die basis van produksie en die gronddiepte word veral gebruik om die potensiaal van die gewasse te bepaal. Goeie boerderypraktyke, wat insluit bekalking, mikro- en makro-elementregstellings, die opbreek van grondverdigtingslae, en deklaagbewerking word aangewend om volhoubaarheid te verseker.

Arbeid is ook ‘n baie belangrike hulpbron in hierdie boerdery. Sonder ‘n goeie, betroubare, effektiewe arbeidsmag sal hierdie boerdery harde bene kou. Arbeiders is in spanne verdeel met ‘n spanleier wat die verantwoordelikheid moet neem. Die spanleier ontvang die take wat gedoen moet word en het die verantwoordelikheid om dit uit te voer en om rekord te hou van wat waar en wanneer gedoen is. Hiervoor gebruik die spanleiers ‘n rekordboek wat op gereelde basis deur Herman gekontroleer word.

Arbeiders word ook voortdurend opgelei en daar word gereelde kursusse op die plaas aangebied om hul vaardighede op te skerp. Dit lei daartoe dat sekere verantwoordelikhede aan hul toevertrou kan word, wat dan net op ‘n gereelde basis gekontroleer moet word. Opgeleide arbeiders vorm ook deel van die besluitnemingsproses en hulle word die oë en ore van die boerdery wat soms probleme en oplossings raaksien wat tot voordeel van almal strek.

Die besluite oor gewasse asook bemesting word aan die hand van die grondontledings, opbrengspotensiaal en wisselbousiklusse gedoen.

Die bewerkings wat op ‘n land gedoen word sal ook deur die potensiaal asook fisiese eienskappe bepaal word. As ‘n land byvoorbeeld ‘n verdigting het, sal alles in hul vermoë gedoen word om die verdigting op te hef. Sulke besluite word vir elke land geneem en so aangeteken. Hier speel die spanleiers ‘n groot rol in die rekordhouding van aksies.

Pauciflora Boerdery sien onkruid as ‘n faktor wat die boerderyrisiko verhoog. Alles binne perke word gedoen om seker te maak dat onkruide tydig en effektief bestry word. Omdat hierdie boerdery in ‘n wisselbousisteem is, word behoorlik rekord gehou van wat waar geplant is en wat waar geplant gaan word. Op dié manier word seker gemaak dat onkruiddoderskade tot die minimum beperk word.

image

Bemarking

Produksie sonder goeie verskansing en bemarking help niks nie. Dirk en Herman maak gebruik van ‘n landboukonsultant om hul by te staan in die verskansing en bemarking van hul grane. Totale produksiekoste word gebruik om die prysvlakke van verskansing te bepaal. Omdat winsgewendheid so ‘n belangrike rol speel, word daar volledige gewasbegrotings opgestel wat ook help om te bepaal hoeveel van watter gewas geplant moet word.

Herman is ‘n man vir nuwe tegnologie. Die ou, bestaande boerderypraktyke word weer oordink en voortdurend getoets. Inligting word hoofsaaklik oor die internet bekom en plaaslik in proewe getoets. Die resultate van hierdie proewe word jaarliks tydens boeredae met medeprodusente gedeel.

Herman probeer die nuutste tegnologie in die boerdery implementeer en hulle doen alles in hul vermoë om hierdie tegnologie optimaal aan te wend. Oor dié rede word toerusting gereeld vervang en arbeid opgelei om sodoende die beste resultate van die tegnologie te verkry. Effektiwiteit, doeltreffendheid en loopkoste word vergelyk voor hulle besluit watter toerusting aangeskaf word.

Ten einde te kan voortbestaan en te bly produseer, is dit vir Dirk en Herman belangrik dat daar politieke bestendigheid in die land moet wees. Produsente moet toegelaat word om hul taak na die beste van hul vermoë uit te voer en alles moontlik moet gedoen word om die winsgewendheid van die primêre landbousektor te verseker.

Met goeie landbouwinste en bestendige eiendomsregte kan nuwe toetreders dit in die landbousektor waag en soos Dirk ‘n reusesukses maak.

As jy graag meer oor hierdie boerdery te wete wil kom, kontak Dirk by 082 780 7784 of Pietman Botha by 082 759 2991.

Publication: April 2014

Section: Input Overview

Search