• Login
  • Search Icon

Lede-landskap

August 2015

'n 180°-blik op ons lede en tak-aktiwiteite


image

WILLEM VOOGT, bestuurder: Bemarking en Finansies, Graan SA

Graanprodusent van die Jaar-finaliste beindruk sover ons gaan

ALZENA GOMES, skakelbeampte: Graan SA

Die 2015 Graan SA/Syngenta Graanprodusent van die Jaar-soektog het afgeskop met ‘n knal en die paneel van beoordelaars het reeds aan die einde van Mei besoek afgelê by hierdie jaar se finaliste. Tydens die besoeke het die paneel van noord na suid na wes gereis ter voorbereiding vir vanjaar se toekenningsaand, wat plaasvind op Vrydag, 16 Oktober 2015.

Sedert die daarstelling van dié gesogte toekenning 16 jaar gelede, het dit reeds vele genomineerde produsente se lewens beïnvloed en die vriendskapsbande wat tydens die nominasie- en beoordelingsproses gesmee word, is van onskatbare waarde. Tydens die beoordelingsproses word die produsente besoek deur ‘n kundige paneel van beoordelaars wat ondermeer insluit ‘n agronoom, ‘n landbou-ekonoom en ‘n grondkundige – wat reeds as Graan SA se Landbouwetenskaplike van die Jaar benoem was – asook graanprodusente wat op die Graan SA-Hoofbestuur dien.

Alhoewel van die finaliste diversifiseer, word klem gelê op effektiewe en doeltreffende verbouing van graan en word die primêre beoordeling uitsluitlik op graanproduksie gedoen. Produsente se doeltreffendheid en effektiwiteit word gemeet aan verskeie kriteria, wat ondermeer agronomie, hulpbron-, finansiële- en bemarkingsbestuur insluit. In ooreenstemming met Graan SA se strategiese doelwitte, speel finaliste se betrokkenheid in die gemeenskap en beleidsomgewing ook ‘n rol. Verder word produksiepraktyke, plaag- en onkruidbeheer, meganisasie en arbeidsbestuur ook onder die vergrootglas geplaas. Die Graanprodusent van die Jaar-toekenning bied aan Graan SA die geleentheid om ten toon te stel wat presies van ‘n produsent verwag word om ‘n sukses van graanproduksie te maak. Die belangrikheid van die toekenning vir die organisasie kan nie genoeg beklemtoon word nie. Dit gee Graan SA die geleentheid om erkenning te gee aan graanprodusente wat met uitnemendheid boer. Daarbenewens, dien finaliste as uitmuntende rolmodelle en ‘n goeie voorbeeld vir die jonger geslag van produsente. Laastens, word die beeld van die graanprodusent na buite bevorder deurdat die vervaardigingsvlak van graan in Suid-Afrika met trots aan die breër publiek en politici bekend gestel word.

Hierdie jaar se finaliste spruit uit diverse graanproduksiegebiede en die geografiese ekstreem-areas waar graan onder uiteenlopende omstandighede geproduseer word, is weer eens uitgelig. Die 2015 Graanprodusent van die Jaar-finaliste, afkomstig van die Springbokvlakte in die noorde met besproeiing en droëlande, droëlande in die winterreënvalstreek heel suid en slegs besproeiingslande in die weste, dui daarop dat die grootte van die boerdery nie belangrik is nie, maar wel die doeltreffendheid waarmee die beskikbare hulpbronne effektief in die onderskeie gebiede aangewend word.

Ons bedank hiermee ook ons borge wat bydra tot die sukses en voortbestaan van hierdie gesogte toekenning en stel met trots ons 2015 finaliste voor.

Genade Boerdery van Douglas in die Noord-Kaap

image

image

Henk Michau van Modimolle in Limpopo

image

Niel Neethling van Potteberg in die Wes-Kaap

image

Borge

image

Publication: August 2015

Section: Grain SA

Search