• Login
  • Search Icon

Lede-landskap

November 2014

'n 180°-blik op ons lede en tak-aktiwiteite

image

WILLEM VOOGT, bestuurder: Finansiële Dienste en Bemarking, Graan SA


Graan SA by die Agri Mega Week 2014
 

TOIT WESSELS, LIANA STROEBEL en ALZENA GOMES, almal van Graan SA

Vanaf Woensdag, 17, tot Saterdag, 20 September vanjaar, is die 22ste Agri Mega Week te Mega Park op Bredasdorp aangebied. Die Graan SA-ledetent het weer eens 'n veilige hawe aan lede gebied teen die Wes-Kaapse wind en reën tydens die ekspo en die stomende koffie was beslis hier ‘n treffer.

Die ledetent was bo en behalwe ‘n gewilde bymekaarkomplek vir lede, afgevaardigdes, rolspelers, plaaswerkers en owerhede, ook die middelpunt van aktiwiteite wat Graan SA vir sy invorderingsagente, ontwikkelende graanprodusente en lede van die pers aangebied het met verskeie onderhoude en werksessies gelei deur die uitvoerende hoofbestuurder, mnr Jannie de Villiers.

Invorderingsagentevergadering

Graan SA in die Wes- en Suid-Kaap het die geleentheid gebruik om met al die invorderingsagente wat in die gebied betrokke is, te vergader. Die opkoms was wonderlik en met almal teenwoordig, is daar veral gepoog om verhoudinge te bou met die heffingspersoneel wat fisies die werk doen.

Tydens sy verwelkomingstoespraak, het De Villiers die invorderingsagente bedank vir hul dienste en toegewydheid aan Graan SA en weer klem gelê op Graan SA se afhanklikheid van die heffingsinkomste om optimaal te kan funksioneer volgens die verwagtinge van die sektor.

Mnr Toit Wessels (ledebemarker: Kaapprovinsie) het vervolgens uitgebrei oor die toepassing van die heffingsinkomste asook die proses van invorderings. Verder is die suksesverhale met die invorderingsproses bespreek en van die probleemgevalle uitgelig.

Geleentheid vir interaksie tussen die agente en Graan SA-personeel het bygedra om enige onduidelikhede uit te klaar. Graan SA se voorsitter, mnr Louw Steytler, het tydens die afsluiting almal bedank vir die samewerking sowel as die uitstekende diens wat in die Kaap gelewer word en duidelik sigbaar is in die hoë invorderingspersentasie vir die provinsie.

Hy het afgesluit met die versekering dat Graan SA sal voortgaan om sake soos grondhervorming, kultivars en insette wat styg, te prioritiseer en om ledebelang voortdurend eerste te stel.

image

Graan SA/Nedbank-landboudebat

‘n Eerste by die Megaweek, was die aanbieding van ‘n graandebat deur Graan SA in samewerking met Nedbank, gehou in die ouditorium op Donderdag, 18 September. Die tema: Die toekoms van die koring-, gars- en kanolabedrywe uit die oogpunt van die koper, is ondersteun deur topgehalte sprekers, insluitend mnre Tjaart Kruger van Premier Foods, Thinus van Schoor van SAB Maltings en Kellie Becker van SOILL.

Ná die gepaste opening deur mnr Pietie Uys en ‘n inspirerende stukkie rakende die graanbedryf, het Steytler die 165 gaste verwelkom en gesê “Graan SA sal altyd betrokke wees by u bedrywe omdat voedselsekerheid die belangrikste item op die tafel moet wees,” en verder het hy die versekering gegee van Graan SA se volgehoue ondersteuning aan die bedryf, omdat die kwessies wat in die gesig gestaar word, wel nou belangriks is, maar vir ons kinders wat eendag die plase moet oorneem, is dit selfs belangriker.

Die debat, gelei deur De Villiers, kon nie vir ‘n meer geskikte fasiliteerder gevra het nie, met sy deeglike begrip van die graanbedryf. Ná die bekendstelling van die eerste spreker, mnr Tjaart Kruger, is daar koring gesels. Kruger het uitgebrei oor die maalbedryf, die aandeel van Premier Foods in die koringbedryf, die invoer van koring en die kwaliteite van Suid Afrikaanse koring sowel as die probleme in veral die koringbedryf.

Daar is verder melding gemaak van die dalende hektare koringaanplantings in die binneland (Vrystaat) en dat die teling van nuwe kultivars ‘n bekommernis is. Hy het in sy slotwoord genoem dat indien nuwe meulens vir koring opgerig moet word, dit lonend sal wees om dit naby die hawens op te rig waar koring tans ingevoer word.

Die volgende spreker, mnr Thinus van Schoor van SAB Maltings, het die gehoor van SAB se voorneme om in die toekoms slegs plaaslike gars te vermout, verseker (indien die beskikbare hoeveelhede aan al die voorgestelde vereistes voldoen).

Groot opgewondenheid heers ook oor die teling van veral die nuwe kultivars wat reeds in die bedryf is en puik resultate lewer. ‘n Verdere bewys van SAB se verbintenis tot die bedryf, was sy bereidwilligheid om tydens die 2012-seisoen, produsente by te staan deur 'n oorgrote meerderheid van reënbeskadigde gars (tydens oestyd), wel in te neem vir vermouting – wat dui op SAB se oogmerk om by te dra tot die sukses van die bedryf.

Die laaste spreker, mnr Kellie Becker van SOILL, het ‘n insiggewende praatjie gelewer oor die toekoms van die kanolabedryf. Die aanplantings, wat veral in die laaste twee jaar dramaties toegeneem het, kan veral toegeskryf word aan beter kultivars, beter bewerkingsmetodes en veral die gunstige pryse van kanola.

Hy het lede verder gerusgestel dat SOILL kans sien vir die hoeveelheid kanola wat vanjaar beskikbaar gaan wees volgens die skattings en ook sy dank teenoor die landboubesighede uitgespreek wat gehelp het met meer opbergingsgeriewe vir kanola.

Na afloop van die formele verrigtinge, het De Villiers die vloer oopgestel vir vrae en 'n lewendige interaksie tussen die paneel en produsente teenwoordig het gevolg. Temas onder bespreking het ingesluit: Kwaliteit van ingevoerde koring, die vervoerdifferensiaal, siektes onder kanola, gars se afgeleide prys van B2-koring op Safex en die goeie kwaliteit van Suid- Afrikaanse koring teenoor die nievergoeding daarvoor.

Ten spyte van die harde reënbuie wat uitgesak het, was almal tevrede met die interaksie van die paneel en antwoorde. Mnr Schalk Viljoen (produsent van Riviersonderend) het die prys ontvang vir die gas wat die beste vraag gestel het.

Die uiters suksesvolle debat is afgesluit deur mnr Daneel Rossouw van Nedbank wat almal teenwoordig bedank het vir hul deelname. Hy het verder Nedbank se betrokkenheid by landbou weer eens beklemtoon.

Aanbieding vir ontwikkelende graanprodusente

Ook op Donderdag, 19 September, is daar ‘n insiggewende en interaktiewe program vir ontwikkelende graanprodusente tydens die Agri Mega Week aangebied in samewerking met die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye. Gassprekers het me Carol Levindal van die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye, mnre Jannie de Villiers, Louw Steytler en Richard Krige (hoofbestuurslid van Graan SA) asook mnr Thys Delport van die Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV) ingesluit.

Talle produsente wat bestaande asook potensiële graanprodusente ingesluit het, het die geleentheid bygewoon. Levindal het ‘n deeglike oorsig rakende die Departement van Landbou se werksaamhede gegee, waarna De Villiers die produsente oor Graan SA se struktuur, bedrywighede en hul fokusareas ingelig het.

Steytler het verder ‘n hoogs motiverende toespraak gelewer wat hoofsaaklik gefokus het op die regte van mense in Suid-Afrika asook van produsente in terme van die Grondwet. Hy het die gehoor versoek dat almal moet saamwerk om ‘n inklusiewe landbousektor te bevorder en dat hulle op hul regte moet aandring.

Hy het die produsente verseker dat Graan SA daar is om hulle by staan en dat hul hom enige tyd kan kontak. Na afloop hiervan het Krige produsente verder verseker dat hy ook beskikbaar is om hulle te ondersteun.

Hy het die produsente ook herinner aan die ondersteuningstelsel wat die ontwikkelingspersoneel van Graan SA bied in die Paarl-kantoor. ‘n Paar interessante vrae uit die gehoor het ruimte geskep vir ‘n gesonde debat, waarna die sessie op ‘n baie positiewe noot afgesluit is.

Graan SA vergader met Wes-Kaap graanmentors

Dit sit nie in enigeen se skoene om ‘n mentor te wees nie. Afgesien van boerderykennis en ondervinding, verg mentorskap mensekennis, ‘n passie vir ontwikkeling, ‘n langtermynvisie, geduld, geloof en bo alles waagmoed.

Ons het al met baie produsente gepraat wat belangstel in mentorskap of wat daaraan dink om by ‘n bemagtigingsprojek betrokke te raak, maar die feit bly staan, daar is meer as 800 kommersiële graanprodusente in die Wes-Kaap en slegs 13 het tot dusver die stap geneem om óf ‘n mentor te word óf by ‘n bemagtigingsprojek betrokke te raak.

De Villiers het op 18 September met van hierdie mentors vergader om hul te bedank vir die baanbrekerswerk waarmee hulle in die Wes-Kaap besig is, maar ook om Graan SA se ondersteuning op ‘n hoër vlak te bied.

Elkeen het die geleentheid gehad om hul visie asook uitdagings te deel waaruit konstruktiewe planne en idees gespruit het om daardie uitdagings aan te spreek. Daar is verder ook oor die daarstel van verskeie bemagtigingsmodelle besin om aan produsente wat belangstel, maar nog onseker is oor hoe hierdie tipe dinge werk, die nodige inligting en opsies te verskaf.

Die passie, trots en geloof waarmee hierdie mentors praat oor die persone aan wie hulle hul vrywillige ondersteuning bied, is tasbaar en bemoedig almal met wie hulle in aanraking kom. Ons hoop dat die getal persone wat bereid is om hierdie manne se visie te deel, oor die volgende twee jaar sal verdubbel. Vir enige navrae in hierdie verband, kontak gerus Graan SA se Paarl-kantoor by 012 816 8057.

‘n Megaweek om op trots te wees

Met ‘n besige tyd agter die rug by die Agri Mega Week, het Graan SA op Vrydag, 19 September, die grondhervormingsdebat as gaste bygewoon. Verder het die son deur die wolke begin breek en groot belofte ingehou vir die laaste, en meer informele dag, wat sou volg.

‘n Suksesvolle, leersame en interaktiewe Megaweek 2014 is in die sakkie en ons sien uit om al ons lede weer in 2015 terug te verwelkom!

image

Publication: November 2014

Section: Grain SA

Search