• Login
  • Search Icon

LEDE-LANDSKAP

April 2014

'n 180°-blik op ons lede en tak-aktiwiteite

image

WILLEM VOOGT, bestuurder: Finansiële Dienste en Bemarking, Graan SA


Vergaderings in die Kaap gehou

MELERCIA KOTZE en LIANA STROEBEL, Graanprodusentontwikkelingsprogram, Graan SA

Streek 27 van Graan SA se algemene jaarvergadering het op Dinsdag, 11 Februarie, plaasgevind by Rietpoel, die Overberg Agri konferensiefasiliteit buite Riviersonderend, terwyl Streek 26 van Graan SA se algemene jaarvergadering op Woensdag, 12 Februarie, by die Jan Basson ledesaal op Moorreesburg plaasgevind het.

Die opkoms van beide vergaderings was baie goed en ongeveer 150 kommersiële en ontwikkelende produsente asook verskeie bedryfsrolspelers het die vergaderings bygewoon. Die Suid-Kaap (Streek 27) se vergadering is deur mnr Richard Krige gelei en die Swartland vergadering (Streek 26) deur mnr André Kirsten; wat hul albei as voorsitters baie goed van hul taak gekwyt het.

Mnr Jannie de Villiers (uitvoerende hoofbestuurder: Graan SA) was eerste aan die woord en het lede deeglik toegelig aangaande Graan SA se werksaamhede tydens 2013 rakende markte, invoere, produktiwiteit, navorsing, kommunikasie, inligting en transformasie. Hy het ook die Hoofbestuur se strategie vir 2014 van volhoubare produksie, werkskepping en voedselsekerheid met die lede gedeel.

Verder het mnr Louw Steytler (voorsitter: Graan SA) ‘n inspirerende toespraak gelewer waarin hy die noodsaaklikheid van ‘n inklusiewe landbousektor beklemtoon het en produsente gemaan het om ‘n ernstige kopskuif te maak in hierdie verband ter wille van die vooruitgang van ons land. Steytler het verder ‘n beroep op elke produsent gedoen om positiwiteit met betrekking tot die landbou uit te leef, veral tussen vriende en spesifiek in die teenwoordigheid van hul kinders. Hy het aangevoer dat kommersiële produsente, ontwikkelende boere en landboubesighede mekaar moet ondersteun en in mekaar moet glo en vertrou.

Mnr Wessel Lemmer (senior ekonoom, Graan SA: Bedryfsdienste) het oor die jongste markinligting gerapporteer en onder meer 2013 se gemiddelde opbrengste asook 2014 se geskatte opbrengste deurgegee, waarna mnr Corné Louw (senior ekonoom, Graan SA: Bedryfsdienste) lede ingelig het rakende die dieselrabat. Louw het aangevoer dat dit belangrik is dat produsente rekord moet hou van diesel wat vir die rabat kwalifiseer. Hy het genoem dat daar ‘n spesifieke vorm is wat voltooi moet word vir die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) vir rekorddoeleindes.

Die hoofbestuurslede en ekonome het ook die geleentheid gehad om verskeie vrae van lede te beantwoord wat positiewe en konstruktiewe gesprekke tot gevolg gehad het. Mnr Toit Wessels (ledebemarker: Kaapprovinsie) het na afloop hiervan terugvoering gegee rakende die Graan SA Wes-Kaap kantoor se werksaamhede. Hy het die gehoor meegedeel dat Graan SA ongeveer 46 kursusse aan 559 ontwikkelende boere asook plaaswerkers gedurende 2013 aangebied het. Wessels het ook die Paarl kantoorpersoneel, me Liana Stroebel (landbou-ontwikkelingskoördineerder) en me Melercia Kotze (komiteebeampte) aan die lede voorgestel.

Die gasspreker, mnr Chris Sturgess (direkteur: Afdeling Kommoditeite JSE), was ongelukkig weens ander verpligtinge slegs vir die Streek 27 vergadering beskikbaar, waar hy ‘n deeglike voorlegging gedoen het oor die JSE se uitgangspunt rakende die liggingsdifferensiaal.

Produsente het verskeie vrae aan Sturgess gerig asook alternatiewe scenario’s geskets. Sturgess het aangevoer dat alhoewel hy produsente se bekommernisse betreffende die implikasies vir die kontantgewasmark verstaan, die JSE se besluit oor die differensiaal aanvanklik finaal is. Steytler en De Villiers het in die lig hiervan produsente gerusgestel dat alhoewel dit die geval is, daar steeds alternatiewe verligting of oplossings is wat ernstig deur Graan SA ondersoek word. Steytler het sy dank aan die produsente uitgespreek vir die wyse waarop hulle die situasie hanteer.

Daar is ook by albei vergaderings van die geleentheid gebruik gemaak om die ontwikkelende graanboere in die Wes- en Suid-Kaap asook hul mentors te vereer vir hul harde werk en deursettingsvermoë. Elkeen het ‘n sertifikaat ontvang wat hul plek in die 250 Ton klub aanwys. Daar is altesaam ongeveer 5 264 ton graan gedurende 2013 deur ontwikkelende boere gelewer. Wessels het hierdie produsente hartlik geluk gewens met hierdie prestasie.

Boerderye wat toekennings ontvang het, was: Rietpoel AJV, Suid-Kaap; Saambou Boerdery; Suurbraak Grain Farmers; Swart Boerdery; Versig Boerdery; Agri Dwala; Goedgeloof Boerdery;
Moorreesburg AJV, Wes-Kaap; Genadeshoop BK; Kanolskop Trust; Ganzekraal Boerdery; en Theewatersvlei Boerdery.

Ten slotte het die voorsitters van die onderskeie vergaderings lede meegedeel dat na aanleiding van die uitbreiding van die Paarl kantoor se personeelkorps, die Graan SA Hoofbestuur besluit het om hul sekretariaat vanaf 2014 intern te hanteer. Die voorsitter het sy dank en waardering aan Agri Wes-Kaap uitgespreek vir hul uitstekende diens deur die jare.

By die vergadering op Rietpoel

image

By die vergadering op Moorreesburg

image


Bekendstellingsfunksie gehou vir Wes-Kaap kantoor

LIANA STROEBEL, ontwikkelingskoördineerder, Graan SA

Die Graan SA Wes-Kaap kantoor het op Dinsdagaand, 11 Februarie vanjaar, ‘n suksesvolle bekendstellingsfunksie in die Paarl aangebied. Die geleentheid is deur verskeie bedryfsrolspelers, insluitend landboubesighede, banke, verteenwoordigers van die Departement van Landbou asook die media bygewoon.

Die doel van hierdie geleentheid was om rolspelers in die bedryf in te lig oor die funksies en verantwoordelikhede van Graan SA in die Wes-Kaap en om nouer samewerking tussen Graan SA en hierdie instansies te bewerkstellig.

Mnr Jannie de Villiers (uitvoerende hoofbestuurder: Graan SA) het al die gaste hartlik welkom geheet. Hy het ook sy agting aangedui vir die Wes-Kaapse Departement van Landbou, Bosbou en Visserye en hul geluk gewens met die goeie werk wat hul doen.

Mnr Andries Theron (visevoorsitter: Graan SA) het ‘n deeglike agtergrond geskets aangaande die oorsprong van die kantoor en verduidelik hoe produksie en so ook die behoefte aan plaaslike dienste tot so ‘n mate gegroei het ten einde ‘n kantoor in dié provinsie te regverdig.

Theron het ook die belangrikheid van samewerking tussen plaaslike rolspelers in die bedryf sterk beklemtoon. Verdere positiewe samewerkingsmoontlikhede het uit die geleentheid gespruit.

image

Publication: April 2014

Section: Other Articles

Search