• Login
  • Search Icon

Landbouskrywers besoek Graan SA voorsitter

February 2018

ALZENA GOMES, skakelbeampte, Graan SA

Die 40ste Landbouskrywers SA-toekenningsfunksie het op Vrydag, 10 November verlede jaar, in Bloemfontein plaasgevind. As deel van dié belangrike gebeurtenis het ongeveer 20 landbouskrywers onderweg na die funksie, éérs by Graan SA se voorsitter, mnr Jaco Minnaar, se plaas Botesrust, in die Hennenman-distrik, besoek afgelê.

Tydens die besoek het beide Minnaar en dr Dirk Strydom (bestuurder: Graanekonomie en Bemarking, Graan SA) die media toegespreek. Minnaar het ‘n deeglike en insiggewende voorlegging oor die bedryf en sy plaas gegee en onder andere die bestuurs- en begrotingswerklikhede wat ‘n kommersiële produsent daagliks konfron­teer, geskets. 

Die hulpbronbenutting, wat Minnaar sedert 1996 saamgevat het, skep ‘n logiese prentjie van die toekoms en dit, tesame met ‘n oorsig oor die bedryf se uitdagings, het die media met ‘n goeie skoot relevante graaninligting bemagtig. Produsente is ge­maan om die seisoen deeglik somme te maak. 

“Jy moet weet waar jy ‘n wins en waar jy ‘n verlies maak en bewus wees van die impak van die verskillende gewasse wat jy plant,” het Minnaar gesê. Selfs met die gedagte dat produsente mielie-aanplantings met ten minste 10% moet afskaal, het Minnaar bevestig dat sommige produsente nie kan bekostig om nie te plant nie. 

Dr Strydom het die besoek met ‘n volledige bedryfsoorsig afgesluit en beklemtoon dat die mededingendheid van pryse druk op die winsgewendheid van graanprodusente plaas. 

Landbouskrywers SA Na­sionale Boer van die Jaar
Landbouskrywers SA het tydens hul 40 jaar-vieringe die uitstaande prestasies van kommersiële produsente, nuwe toetreders in kommersiële landbou en landbouers erken. Om die rol van produsente en land­bouers in die bedryf te erken, is een van die hoofdoelwitte van die toekennings en die Wes-Kaap het behoorlik met die louere weggestap.

Mnr Charles Back van die plaas Fairview in die Wes-Kaap is aangewys as die Land­bouskrywers SA se 2017 Boer van die Jaar. Back het Fairview van ‘n familieplaas opgebou na ‘n handelsmerk wat internasionaal bekend is vir sy wyn, kaas en toerisme.

Die nasionale Landboukundige van die Jaar, dr Annemie Erasmus, is ‘n entomoloog by die LNR-Graangewasse met jare navorsingservaring van die ekonomies-belangrike insekplae in graangewasse en is ook ‘n gereelde SA Graan/Grain medewerker.

Mnr Warren Bam, ook van die Wes-Kaap, is aangewys as die Nuwe Toetreder in Kommersiële Landbou en het as kranige en vinnige leerder die trappe van sukses van plaasbestuur op Lushof na eienaar van die plaas Gunsteling, geklim. Warren het vir homself in die sagtevrugtebedryf naam gemaak en is sedert 2016 die voorsitter van die Suid-Afrikaanse Tafeldruiwe-instituut (SATI) se transformasiekomitee.

“Ons word elke dag begroet met die uitdaging om ‘n groeiende wêreldbevolking te voed. Met hierdie toekennings erken Landbouskrywers SA die rol wat produsente en landbouers in die aanspreek van voedselsekerheid speel,” het me Magda du Toit, voorsitter van Landbouskrywers SA, gesê.
 

Publication: February 2018

Section: Grain SA

Search