• Login
  • Search Icon

Landbou gee hoop!

June 2014

image

JANNIE DE VILLIERS, uitvoerende hoofbestuurder/CEO

Graan SA se NAMPO Oesdag se stof is uiteindelik tussen ons tande uit en ons glimlag lekker, maar beslis moeg! Dit is harde werk, maar definitief die moeite werd.

Die vriendskappe, glimlagte en mildelike komplimente dra ons deur die tye van harde werk. Ek reken dit was Claude Möller (motiveringspreker) wat opgemerk het dat die Oesdag ? simbool van hoop is vir die mense. Die optimisme van produsente wat, ten spyte van al die natuurelemente asook politieke en ekonomiese onstabiliteit, steeds voortgaan om in landbou te belê en aan te hou om voedsel vir die nasie te produseer, inspireer almal.

Elke pit wat ons in geloof in die grond sit, is ‘n belegging teen armoede. Die opbrengste wat ons produsente behaal, is nie net tot eie voordeel nie, maar ook ‘n gerusstelling vir elke mens wat daagliks ‘n sukkelbestaan voer en moet oorleef. Dit is hierdie tipe geloof wat vir mense hoop gee. Die kollektiewe uitleef van dít wat ons as produsente doen, gee vir mense hoop. Kom ons doen so voort!

Daar was dié jaar bitter min tyd vir my om tussen die mense en die uitstallings te beweeg. Tog het ek ‘n paar dinge opgemerk wat ek met julle sal wil deel: Een ma het met haar seuntjie aan die hand na een van daardie groot trekkers gewys en vir hom gesê: “‘n Mens moet baie intelligent wees om een van daardie trekkers te bestuur.” Dit het weer eens net vir my bevestig hoe belangrik behoorlike opleiding vir ons plaaswerkers is vir die verantwoordelike werk wat hulle moet doen.

Nog iets wat my tydens NAMPO opgeval het wat ons plaaswerkers betref, is toe ek ‘n groep van hulle raakgesien het wat elk ‘n selfoon te voorskyn gebring het om ? skaapskeerdery af te neem. Dit is ‘n bewys dat ons werkers meer en meer bedrewe raak met die tegnologie wat ons gebruik om voedsel vir die land te produseer.

Een van die sprekers tydens die Oesdagverrigtinge het na die 2,5% bydrae van landbou tot die bruto binnelandse produk (BBP) verwys as die badprop van ons ekonomie. Dit is wel ? klein deeltjie, maar dit is ‘n baie belangrike deel. As die prop uit is, gaan daar baie verlore gaan.

Dit gebeur soms dat ‘n mens net die belangrikheid van landbou vanuit ons eie perspektief bekyk en dan besef ek dat ons meestal subjektief is. As daar egter besoekers vir die eerste keer by die Oesdag opdaag en hulle onbeskaamd (byna oopmond) hulle vergaap aan dít wat hulle sien, dan besef ek maar net dat ons nie heeltemal so subjektief is nie.

Terwyl ons in die noorde oestyd vier, is die manne van die suide aan die plant. Dit was lekker om vir Schalk Viljoen (oudhoofbestuurslid van Graan SA) te hoor sê dat die toestande nog nooit so gunstig was nie. Dit was ook lekker dat van ons ou manne, soos Giel, Vic, Cerneels, Boetie, Crawford en Jub asook ‘n groep oud-Oesdagkomiteelede weer kom inloer het om seker te maak ons bly op koers.

NAMPO het weliswaar ook sy ligte oomblikke. Ek het ‘n groep hospitaalpersoneel van Pretoria raakgeloop wat my totaal oorbluf het toe hulle vra waar die stalletjie is met ongetroude boere wat nie skuld het nie. Dit is dalk ‘n nuwe uitdaging vir die Oesdagkomitee?

Een van ons personeel het ook ‘n skerp opmerking gemaak toe hulle die selfie van Victor Matfield en Wandile Sihlobo, een van Graan SA se (kort) ekonome, sien: “Die byskrif by só ‘n foto moenie lees van links na regs nie, maar van bo na onder!”

As die stof oor NAMPO 2014 gaan lê het, gaan die werk egter voort wat tydens die “Nasie in Gesprek”-sessies bespreek is. So gaan dit gedurende die volgende klompie maande maar moeilik gaan om grondhervorming waar almal wenners kan wees op koers te kry, en om die beleggings in die grond, toerusting en die mense kollektief te kombineer om almal in die land van kos te verseker.

Publication: June 2014

Section: Editorial

Search