• Login
  • Search Icon

Laat presisieboerderytegnologie vir jou werk en jou nie grys hare gee nie

August 2015

ETIENNE NEL, Senwes Presisieboerdery

Vandag vorm tegnologie ‘n integrale deel van landbou, maar in besonder ook vir saaiboerdery. Presisieboerderytoerusting kan vinnig dividende uitbetaal, maar kan ook lei tot groot frustrasie indien dit nie reg geïmplementeer en in stand gehou word nie. Die vraag word dan dikwels gevra: Wat moet ek doen om tegnologie suksesvol in my boerdery in te bring?

imageBeplanning maak dit makliker

Beplanning is die eerste en heel belangrikste beginpunt. Onthou net dat hierdie ‘n proses is wat deurgevoer moet word. Daar moet tydig die nodige instandhouding gedoen word en die werking van die toerusting moet vroegtydig getoets word. Alles begin by kennis. Kennis van hoe die produk en toerusting werk, wat waar en wanneer gediens moet word en hoe dit gedoen moet word. Dit sal raadsaam wees om jou eie asook die ander gebruikers van die tegnologie se kennis oor die werking van die produkte opnuut te verfris.

Gaan weer vir ‘n kort kursus om die nuutste weergawe van die tegnologie onder die knie te kry. Om te kan beplan vir die komende seisoen, moet ‘n mens oor genoeg inligting en data beskik. Begin hier deur die vorige seisoen se opbrengsdata af te laai, dit dan te verwerk of te laat verwerk, sodat die inligting vir die komende seisoen se beplanning gebruik kan word.

 

Die proses

Die eerste proses is om al die data van die skerms af te laai indien jy dit nog wil gebruik. Dan moet die skerms skoongemaak word van al die ou data. Die sagteware op jou toerusting moet redelik nuut wees en dit is juis nou die regte tyd om die toerusting se sagteware op te gradeer. Kontak jou verskaffer reeds nou om jou te help met hierdie taak.

Let dan hierop

Die frekwensies van die GPS, soos die Starfire, kon wel verander het. Maak seker dat die frekwensie korrek op die heelwerktuig ingelees is. Kalibreer dan die terrain compensating module (TCM) voordat jy die implement haak om primêre bewerking te doen. Laai hierna al die A-B-lyne van al die lande wat gewerk gaan word op die skerms. Toets ook al die heelwerktuie om te sien of die lasry en werkswydte reg is alvorens die primêre bewerking in alle erns begin.

Behalwe vir die sagteware, is die kontrolering van die hardeware net so belangrik. Begin deur die trekker se hidrouliese stelsel ordentlik te diens. Kyk veral na die oliefilters en dan die hidrouliese oliepomp se lewe ring. As daar filters by die hidrouliese motors is, maak seker dat dit skoon is en vervang verkieslik die filter.

Gaan vervolgens die installasie van die stelsel op die trekker en implemente na. Maak seker dat alles in is wat moet in wees. Kontroleer en inspekteer die werking van die harnas en die koppelpunte van die harnas. Maak seker dat die koppelpunte nie korrosie of vuiligheid op het nie.

Kyk veral vir skade deur rotte en kuns mis wat op die drade geval het en of die drade nie dalk op een of ander manier beskadig is nie. Voete wat op die drade trap, veroorsaak baie skade.

Kontroleer ook dat die implement ‘n veiligheidsmeganisme het om die harnas te beskerm as die implement vir een of ander rede self afhaak.

Maak seker dat die werkende dele reg werk en dat daar nie slytasie is wat die werking beïnvloed nie. Weet ook wat is die noodsaaklike komponente wat dalk kan breek en sorg dat daar op die plaas noodonderdele is of dat noodonderdele wel beskikbaar is.

image

Veranderlike toediening

Die sukses van veranderlike toediening hang grootliks van beplanning af. Veranderlike toediening het basies twee komponente: Eerstens die voorskrifkaart en tweedens die toerusting self. Hier moet die kaarte vroegtydig in plek wees sodat jy die regte produkte en die regte hoeveelheid van ‘n produk kan bestel.

Gaan die toerusting na en kalibreer dit. Ná kalibrasie en as die inligting van die toedieningspyle beskikbaar is, kan gekyk word of die strooier, kunsmistoediener of planter by die nodige pyle kan uitkom.

Indien die nodige toedieningspyle nie gehaal word nie, kan die hekopening by die kalkstrooier aangepas word en by die kunsmistoedieners en planters kan die ratverhouding verander word om sodoende by die verskillende pyle uit te kom.

As alles nagegaan is, laat die implement ‘n stukkie werk en kyk of alle inligting reg gekommunikeer word. Dit is baie goedkoper om ‘n klein bietjie mieliesaad en ‘n bietjie kunsmis op te offer as om in planttyd of werkstyd agter te kom die toerusting werk nie reg nie.

Spuittegnologie

Spuittegnologie het ‘n al hoe belangriker rol begin speel – veral met die koms van selfaangedrewe spuite en geen- of minimumbewerking. Die presisieboerderykomponente moet ook skoongemaak word so dat nuwe sagteware gelaai kan word.

Toets ook die spuitstukke om te verseker dat die regte toediening teen ‘n gegewe druk gelewer word. Maak seker dat die regte grootte spuit stukke vir die beplande doel beskikbaar is en dat die spreipatroon nog na wense is.

Beplanning is, soos ons vroeër genoem het, een van die belangrikste komponente van suksesvolle presisieboerdery. Dit is eintlik maklik. Hoe meer inligting jy het, hoe beter besluite kan jy neem en hoe akkurater kan daar beplan word. By Senwes Presisieboerdery glo ons byvoorbeeld dat boerdery oor ‘n paar jaar baie anders daar sal uitsien en dat beplanning van kardinale belang is. Presisieboerdery stel dan ook JDLink as ‘n opsie beskikbaar en John Deere-trekkers wat ingeskakel is, sal sodoende data kan stoor.

Die maatskappy beplan voorts om in die toekoms meer en meer van tegnologie gebruik te maak om dit vir die saaiprodusent nog makliker te maak om te beplan en om jou besigheid makliker te kan bestuur.

Verhouding met verskaffer

As daar enige probleme in werkstyd is, sal die tegniese personeel altyd baie besig wees. So kontak hulle voor die tyd om jou by te staan om die toerusting in stand te hou, te toets en reg te maak. Sorg ook dat jy so ‘n persoon se telefoonnommer het en dat hy jou ken. Só sal jy baie grys hare spaar.

Vir meer inligting, kontak vir Etienne Nel by 018 464 7526 of 083 298 1553.

Publication: August 2015

Section: Focus on

Search