• Login
  • Search Icon

Kyk uit vir bakteriese stam- en kelkvrot van mielies dié seisoen

November 2012

BELINDA JANSE VAN RENSBURG, LNR-INSTITUUT VIR GRAANGEWASSE, POTCHEFSTROOM

Erwinia chrysanthemi pv. zeae (Erwinia carotovora f.sp. zeae) is ‘n beweeglike, gram-negatiewe, staafvormige bakterie wat bakteriese stam- en kelkvrot van mielies veroorsaak. Die siekte kan regdeur die mielieproduksie-areas van Suid-Afrika gevind word en veroorsaak periodiek ernstige gelokaliseerde besmettings. Verskeie navrae uit die Noord-Kaap, Noordwes Provinsie, Noord-Vrystaat en Limpopo mielieproduksiegebiede is gedurende die 2011- tot 2012-groeiseisoen hanteer rakende bakteriese stam- en kelkvrot.

Alhoewel die aanplantings meestal onder besproeiing was, is daar ook besmettings in droëland-aanplantings aangemeld. Hierdie patogeen het ‘n wye gasheerreeks wat beide monokotiel- en dikotielplante insluit. Bakteriese stam- en kelkvrot van mielies kom meestal in gebiede voor met ‘n hoë reënval en/of besproeiing, veral waar grond swak dreineer. Hoë temperature (32oC - 35oC) en relatiewe humiditeit bevorder die ontwikkeling van die siekte. Vog wat in die kelk vergader as gevolg van oorhoofse besproeiing (veral waar stikstof toegedien is), of oormatige reën/dou is die hoofoorsaak van kelkvrot. Omdat daar nie voorspel kan word waar hierdie siekte gaan toeslaan nie, is dit moeilik om te beheer.

Ekonomiese belangrikheid en epidemiologie


Die bakterie oorwinter in stamreste op die grondoppervlak. Plantwonde wat deur hael, sterk winde en insekte, soos stamboorders veroorsaak word, verskaf openinge vir infeksie. Bakterieë kan ook die plant binnedring deur natuurlike openinge soos huidmondjies. Die bakterie is nie saadgedraagd nie. Stam boorders is moontlike vektore (draers) van die bakterie.

Siektesimptome

Stamvrot
Primêre simptome verskyn in die midseisoen wanneer plante skielik omval. Aanvanklike simptome is die verkleuring van die blaarskede en stam (Foto 1) by internodes (litte). Soos wat die siekte in die stam ontwikkel, gewoonlik vanaf een tot drie internodes bokant die grondoppervlak, word die stam bruin, waterig en pap (Foto 2). Die stam sal dan omval (Foto 3) met die vaskulêre vesels nog in plek. Besmette internodes gee ‘n tipiese sterk, vrot reuk af. Bakteriese stamvrot kan die mielieplant vanaf enige internode van die grondoppervlak tot by die blare en pluim affekteer. Infeksies hoër op in die plant kan pluime nadelig beïnvloed en dus ook ‘n negatiewe uitwerking op bestuiwing hê.

image

Kelkvrot
Dié siekte infekteer die kelke van mielieplante gedurende die vegetatiewe groeistadium. Water en bakterie lê in die kelk en as gevolg van hoë temperature en vinnige vermeerdering van die bakterie, vind infeksie plaas. Die boonste blare begin verwelk en ‘n slymerige verrotting verskyn by die basis van die kelk (Foto 4). ‘n Kenmerkende vrot reuk in die basis van die kelk kan waargeneem word. Die groeipunt sterf af en die siekte kan ook afwaarts versprei, wat veroorsaak dat die plant omval.

image

Beheermaatreëls

Kies goedgedreineerde lande of verbeter dreinering om water-akkumulasie te voorkom. Plantbeskadiging moet voorkom word tydens die meganiese beheer van onkruide, bespuitings en toediening van voedingstowwe. Vermy oormatige vloeding van lande en oorhoofse besproeiing, veral by hoë temperature (32oC - 35oC); besproei eerder gedurende koeler ure in die dag. Waar moontlik, moet daar dieper geploeg word om alle plantreste goed in die grond in te werk. Plaaslike kultivars is nog nie getoets vir bakte riese stam- en kelkvrotweerstand of -vatbaarheid in Suid-Afrika nie. Vanuit waarnemings en verslae is dit egter duidelik dat daar genotipiese verskille rakende bakteriese stam- en kelkvrotweerstand is. Tans is daar geen landbouchemikalieë geregistreer of bekend wat siektevlakke kan verminder nie. Vir verdere inligting kan Belinda Janse van Rensburg by (018) 299-6100 geskakel word.

Publication: November 2012

Section: Input Overview

Search