• Login
  • Search Icon

Kwaliteit van landbouchemiese middels vir SA-mielies bekend

May 2012

image

ELBÉ HUGO, MARLENE VAN DER WALT EN JEANETTA DU TOIT, LNR-INSTITUUT VIR GRAANGEWASSE

In Suid-Afrika asook wêreldwyd, word miljoene liters onkruiddoders, insekdoders en swamdoders elke jaar aan mielieprodusente verkoop. Wanneer daar egter twyfel oor die aktiewe bestanddeel se inhoud of die standaard van ‘n produk ontstaan, kan dit groot nadelige ekonomiese risiko’s tot gevolg hê vir beide die landbou-industrie en produsente.

Dit is dus van uiterste belang vir die landbousektor in Suid-Afrika dat die integriteit van enige landbouchemiese middel wat aan produsente verkoop word, gewaarborg kan word. Dit is dan juis die doel van ‘n moniteringsprojek wat in samewerking met landbouchemiese maatskappye, Graan SA, Crop Life en die LNR-Instituut vir Graangewasse (LNR-IGG) vir etlike jare al bestuur word.

‘n Lys van spesifieke landbouchemiese middels word jaarliks in samewerking met alle betrokke partye opgestel, om sodoende die aktiewe bestanddele van betrokke produkte se inhoud te laat toets. As lede van Graan SA, het mielieprodusente ook direkte insae tot die samestelling van die lys.

Alle formulasies moet getoets word nagelang van die spesifieke inligting wat op die etiket van ‘n produk verskyn. Genomineerde produkte se aktiewe bestanddele mag nie van sekere standaardlimiete afwyk nie. Hierdie standaardlimiete word internasionaal bepaal en deur geakkrediteerde laboratoriums as korrek aanvaar.

Landbouchemiese maatskappye word jaarliks uitgenooi om geakkrediteerde laboratoriums van hulle keuse te nomineer, waar die monsterneming en analises van middels gedoen kan word deur opgeleide persone.

Hierdie moniteringsprojek het in 1999 in werking getree en ná die eerste jaar se evaluerings het 75% van die landbouchemiese middels se resultate nie binne aanvaarbare standaardlimiete geval nie.

Tydens die 2008/2009-seisoen was die inhoud van 36 aktiewe bestanddele getoets, waarvan 42% nie voldoen het aan die spesifieke standaardlimiete nie.

Wanneer aktiewe bestanddele onder- of oorgeformuleer toets, moet die betrokke produk hertoets word deur ‘n tweede geakkrediteerde laboratorium en word dit outomaties op die volgende jaar se lys geplaas vir analisering.

Daar was slegs een aktiewe bestanddeel van ‘n produk wat onder-formulasie getoets het in die 2009/2010-seisoen.

‘n Totaal van 17 aktiewe bestanddele is tydens die afgelope 2010/2011-seisoen getoets en die inhoud van alle produkte het aanvaarbaar getoets.

Die monitering van landbouchemiese middels wat tans geregistreer is op mielies in Suid-Afrika het dus vrugte afgewerp en produsente kan gerus wees dat dit wat op die etiket aangedui is, dit is wat in die kan sal wees.

Vir enige navrae, kontak gerus vir Elbé Hugo by HugoE@arc.agric.za of
(018) 299-6298.

Publication: May 2012

Section: Input Overview

Search