• Login
  • Search Icon

Kundigheid is nodig vir effektiewe graanbemarking

April 2014

CHRIS VENTER, BVG

Graanbemarking is ‘n aspek van boerdery wat wêreldwyd agterweë gelaat word en het iets geword waarmee produsente baie sukkel.

Verskansing het ook ‘n baie slegte reputasie gekry deur mense wat spekulasie met verskansing begin verwar het en in die proses massiewe hoeveelhede geld verloor het. Verskansing is ‘n vorm van inkomsteversekering wat, indien dit reg benut word, produsente se inkomste kan beskerm.

Die veranderinge in die graanmark veroorsaak ook dat geen bemarkingsplan noodwendig vir twee jaar in ‘n ry gaan werk nie. Dit is hier waar die produsent ‘n betroubare vennoot benodig om hom/haar te help met ‘n behoorlike analise van die boerdery – byvoorbeeld insetkoste per hektaar, verwagte tonne asook die pariteitsvlakke en om dan op ‘n ingeligte wyse ‘n bemarkingsplan in plek te sit. Deur kundige hulp en advies, kan die produsent ‘n ingeligte besluit maak wat hom baie geld en hartseer kan spaar.

Dit is belangrik om saam met jou makelaar op ‘n spesifieke strategie te besluit en dit op ‘n gereelde grondslag te hersien. Die afgelope twee seisoene is ‘n mooi voorbeeld van hoe baie die mark gedurende ‘n enkele seisoen kan verander: Binne ‘n paar weke kan die mark van ‘n droogtejaar na ‘n rekordoes verander en dit beïnvloed natuurlik die hele bemarkingstrategie. Boonop sluit dit nog nie eers die invloed van die internasionale markte in nie.

Graanbemarking het twee hooffases

Fase een is van planttyd tot strooptyd en die fokus hier is om die insetkoste van die oes te beskerm.

Tydens fase een is die hoefdoelwit om seker te maak die produsent verhaal sy insetkoste. Daarom is dit belangrik om te weet wat die produsent se gelykbreekpunt is. Dit is belangrik om ‘n goeie verhouding met ‘n betroubare en ervare graanhandelaar op te bou. Die uitgangspunt hier is dat die produsent en graanhandelaar ná ‘n situasie-analise saam kan besluit op ‘n strategie wat op daardie oomblik na die beste plan lyk.

Fase twee gaan oor die finale bemarking van die graan. Op hierdie stadium sal die produsent ‘n baie beter idee hê van sy totale opbrengs en kan hy dan dienooreenkomstig sy graan op so ‘n wyse bemark dat hy die beste prys daarvoor kan kry.

Instrumente tot die produsent se beskikking is enige vorm van vooruitkontraktering. Dit kan wees termyn- en opsiekontrakte wat deur die JSE verhandel word, of vastepryskontrakte. Hierdie is in effek almal verskansingskontrakte, want dit verskans die produsent teen die risiko dat die prys gaan daal en dat die produsent nie sy insetkoste gaan verhaal nie. Dit kos gewoonlik ‘n premie, amper net soos ‘n versekeringspremie.

Voorbeeld

Hieronder is ‘n voorbeeld van so ‘n plan. Let wel: Opsiepryse vir Julie 2014 is in November 2013 bereken. ‘n Produsent in die Noordwes Provinsie het 1 000 ha en plant gewoonlik mielies met ‘n langtermyn gemiddelde opbrengs van 3,5 ton/ha. Sy berekende insetkoste is R6 500/ha en die Safex-prys vir mielies in Julie 2014 was op R2 300/ton in November 2013.

Met ander woorde die produsent moet minstens R6 500 000 inkry om gelyk te breek. Die grootste risiko vir die produsent is dat die prys vir mielies as gevolg van internasionale pryse en die wisselkoers kan daal, of dat die onlangse reën, alhoewel laat, steeds die oes met goeie gevolge sal kan deurhaal.

‘n Bemarkingsplan kan soos volg lyk: Die eerste doel is om die insetkoste te beskerm, dus ‘n voorseisoenkontrak om 500 ton @ R2 100 aan die koöperasie te verkoop en te lewer teen 31 Julie 2014 teen die prys van R2 100/ton (in effek Safex – R200 differensiaal).

‘n Minimumprysverskansingstrategie saam met ‘n graanmakelaar vir 2 000 van die oorblywende 3 000 verwagte tonne teen ‘n koste van R180/ton. Hierdie is suiwer illustratief en dien as voorbeelde; deur beter beplande en berekende strategieë kan dit baie verander – sien byvoorbeeld meer oor minimum-/maksimumstrategie. Die resultaat kan in Tabel 1 gesien word.

image

Minimumprysstrategie 1

Indien die produsent slegs die voorseisoenkontrak aangaan sonder om die res te verskans, lyk die prentjie soos volg: Alhoewel dit kan lyk of die produsent tans beter daaraan toe is, is die risiko ondertoe baie groter – by ‘n Safex-prys van R2 000/ton is die produsent in die moeilikheid wanneer hy nie verskans nie, terwyl hy op R2 000/ton met die minimumprysstrategie beter vaar – sien Tabel 1.

Tabel 2 toon sy posisie sonder Safex-verskansing met slegs die voorseisoenkontrak.

image

Terwyl Tabel 3 toon hoe die produsent met ‘n minimum-/maksimumstrategie gehelp kan word.

image

Slegs voorseisoenkontrak 1

Ons kan dus sien dat teen die koste van R180/ton dit effektief die produsent in ‘n beter posisie geplaas het as die prys verder sou val.

‘n Alternatiewe verskansingstrategie sou wees om in plaas van net ‘n minimumprys, ‘n minimum-/maksimumstrategie te volg waar R2 300 Safex die minimum sou wees en R2 600 Safex die maksimum. Dit bring die koste af (R130/ton) en die produsent kry R2 300 minimum of R 2 600 maksimum vir die mielies só verskans.

Hierdie situasie word in Tabel 3 uitgebeeld.

Minimum-/maksimumstrategie 1

Tydens fase twee, dit wil sê ná strooptyd, kan daar besluit word om graan te stoor. Hier is ook ‘n analise nodig voordat besluit word op ‘n strategie. Aspekte soos vraag en aanbod moet hersien word, want op hierdie stadium is daar meer sekerheid oor die grootte van die oes asook die vooruitsigte van binnelandse gebruik en uitvoere.

Die produsent moet ook baie seker weet wat sy drakoste is, naamlik stoor en rentekoste. In surplusjare is daar ‘n neiging dat die pryse daal na Desember toe, omrede die wêreldpryse daal. Die Amerikaanse oes word tydens Desember gestroop en dit kan veroorsaak dat die pryse onder druk is daar, wat beteken ons in- en uitvoerpryse is ook onder druk. Daar is dan geen voordeel om graan te stoor nie.

‘n Ander moontlikheid is om reeds die graan tydens strooptyd te verkoop en van die markinstrumente gebruik te maak om voordeel te trek uit onverwagte markbewegings.

Graanbemarking is dus die hele aspek van vooruitkontraktering, verskansing en totale verkope van graan. Graanverskansing is een aspek in die totale graanbemarkingsplan.

Met die vinnige veranderinge in die wêreldwye graanmark word die gebruik van finansiële produkte essensieel om winste mee te beskerm en finansiële stabiliteit te verseker. Optimalisering in boerdery word nie meer beperk tot ‘n beter planter en ploeg nie, maar ook tot die finansiële optimalisering van enige produsent se portefeulje. Deur jouself behoorlik in te lig en met goeie adviseurs aan jou sy, kan die vrees vir verskansing vinnig verdwyn en kan jy baie gemoedsrus kry.

Verskansing kan nie omvattend in een artikel omskryf word nie en jy word aangeraai om ‘n makelaar te kontak vir professionele advies.

Publication: April 2014

Section: Markoorsig

Search