• Login
  • Search Icon

Kouga: 'n Nuwe droëlandkoringkultivar van die LNR-KGI

March 2014

ROBBIE LINDEQUE, LNR-Kleingraaninstituut

Koringkultivars wat deur die LNR-Kleingraaninstituut (LNR-KGI) geteel is, word sedert die tagtigerjare vernoem na Suid-Afrikaanse riviere. Staatmakerkultivars, soos Betta, Tugela, Elands, Gariep en Matlabas is sinoniem met hoë prestasie in die koringbedryf, terwyl hulle ook soos die riviere waarna hul vernoem is, die ryke diversiteit van die produksiestreek versinnebeeld.

Die nuutste toevoeging tot hierdie roemryke lys van koringkultivars, is Kouga: Uitgespreek as “koo-gha”, wat in 2015 gekommersialiseer sal word. Dié riviernaam het sy oorsprong vanuit “khoekhoen”, wat “grondwater” beteken en word veral verbind met die reuse nuwe hawe-ontwikkeling digby Port Elizabeth.

Graanopbrengs en -kwaliteitsaanpassing

Kouga het in eliteproewe in die Oos-Vrystaat in die finale jaar voor vrystelling (2012) goed vergelyk met bestaande kommersiële koringkultivars. By ‘n vroeë planttyd (begin tot middel-Junie) was graanopbrengs van Kouga betekenisvol hoër as een van die kontrolekultivars en nie-betekenisvol verskillend van die oorblywende twee kultivars (Grafiek 1a). Die hektolitermassa van Kouga in dieselfde proewe was uitstekend en betekenisvol hoër as al drie kontrolekultivars wat gebruik is (Grafiek 1b).

image

Voorlopige resultate dui daarop dat Kouga ‘n wintertipe koring is wat ‘n medium tot lang kouebehoefte benodig en aangepas is om goed onder hoë-opbrengspotensiaaltoestande te presteer.

image Gasheerweerstand teen peste en plae

Vogstremming en die voorkoms van insekte en siektes tydens kritieke groeistadiums kan opbrengskomponente van koring sodanig benadeel dat die genetiese opbrengspotensiaal daarvan moeilik bereik word.

Koringkultivars wat aanbeveel word vir produksie in die Oos-Vrystaat, met gasheerweerstand teen Russiese koringluis en geelroes, het ‘n aansienlike voorsprong om hoër opbrengste te realiseer.

Kouga beskik oor unieke eienskappe en weerstand om algemene strestoestande, peste en plae wat in die Oos-Vrystaat voorkom, te kan trotseer. Genetiese weerstand teen Russiese koringluis (Diuraphis noxia) en geelroes (Puccinia striiformis) is oorgedra vanaf verskeie weerstandsbronne en druk effektief in Kouga uit.

Fisiologiese eienskappe

Saailingvestiging word aansienlik bevorder deur ‘n hoë ontkiemingspersentasie met ‘n goeie koleoptiellengte. Die kultivar beskik ook oor uitstekende vooroesuitloopweerstand.

Korreleienskappe

Korreleienskappe is deel van die vele eienskappe wat uniekheid aan ‘n kultivar verleen en deur kundiges gebruik word om kultivars van mekaar te onderskei. Korreleienskappe, suiwerheid en uitkenbaarheid word deur ‘n onafhanklike saadspesialis, dr Sierk Ybema, bepaal en sy bevindinge ten opsigte van Kouga word in Tabel 1 gegee.

image

Maal- en bakkwaliteit

Kouga is in 2012 vir finale goedkeuring aan die Suid-Afrikaanse Graanlaboratorium (SAGL) voorgelê. Evaluering van die maal- en bakkwaliteit van Kouga het egter reeds in 2009 begin en is noodsaaklik ten einde aanvaarbare graan aan die meulenaars en bakkers te verskaf. Die hoofdoelwit bly immers steeds om ‘n goeie eindproduk op die rakke te plaas wat terselfdertyd ook ‘n bydrae kan maak tot volhoubare koringproduksie in Suid-Afrika.

‘n Kort opsomming van die jaarlikse evaluasie-opmerkings van Kouga was soos volg:

  • 2009: Lae farinograaf-ontwikkelingstyd met gepaardgaande hoë alveograaf- en P/L-waardes. Beter broodvolume as Elands wat as die kwaliteitstandaard deur SAGL gebruik word.
  • 2010: Lae alveograaf- en P/L-waardes en alhoewel die meelopbrengs effe laag is, is Kouga se kwaliteit oor die algemeen steeds binne die vereistes van die bedryf. Broodvolume is goed.
  • 2011: Lae alveograaf met hoë P/L-waardes. Ontwikkelingstyd is wisselvallig en die bak- en maalbedryf versoek dat ‘n vierdejaarevaluasie ingedien word voor finale goedkeuring.
  • 2012: Ontwikkelingstyd is goed en geen van die beperkings wat gedurende 2011 voorgekom het, herhaal in 2012 nie. Die lyn word goedgekeur vir registrasie as ‘n kultivar.

image

Slim en oordeelkundige aanwending van kultivars bied aan koringprodusente verskeie opsies om huidige klimaat- en produksie-uitdagings te trotseer. Kouga is sodanig ontwikkel om by te dra tot volhoubare voedselproduksie in Suid-Afrika en om die winsgewendheid van koring as landbougewas te verseker.

Kouga word in 2015 gekommersialiseer en saad behoort in 2016 by die bemarkers beskikbaar te wees.

Vir enige addisionele inligting of om te verneem waar die naaste LNR-KGI proewe in jou streek geplant word, kan produsente

die LNR-KGI kontak by 058 307 3400 of vir Robbie Lindeque (lindequerc@arc.agric.za) by 058 307 3432 of 082 563 1553.

Publication: March 2014

Section: Other Articles

Search