• Login
  • Search Icon

Koringopbrengs in die Swartland

February 2014

image

- tendense van 2001 tot 2012
 

DR JOHANN STRAUSS, WETENSKAPLIKE: VOLHOUBARE PRODUKSIESTELSELS, DIREKTORAAT PLANTWETENSKAPPE, WES-KAAP DEPARTEMENT VAN LANDBOU EN SEKRETARIS: BEWARINGSLANDBOU WES-KAAP

Toe daar in die laat 1990’s begin is met die langtermynwisselbouproef op Langgewens (navorsingsplaas van die Wes-Kaapse Departement van Landbou) is daar baie twyfel uitgespreek deur die plaaslike boerderygemeenskap.

Koringmonokultuur was nog ‘n standaardpraktyk en baie produsente het gevoel dat wisselbou nie sal werk nie en ook dat die gebruik van minimumbewerkingsmasjinerie nooit sou posvat nie, want dit is te duur.

In 2013 was die proef egter reeds vir 18 jaar in sy huidige vorm; die pessimiste is dus verkeerd bewys. Wisselbou is tans die norm en so te sê alle produsente maak gebruik van ‘n tandplanter of variasie daarvan. Wisselboustelsels verskil van plaas tot plaas en van area tot area na aanleiding van die omgewing en dít waarmee die produsent gemaklik is.

Die doel van die langtermynproef was om te bewys dat wisselbou winsgewend kan wees en dat variasie in die tipe gewas wat elke jaar op ‘n bepaalde stuk grond verbou word, selfs die winsgewendheid kan verbeter wanneer dit vergelyk word met die verbouing van monokultuurkoring.

Koringopbrengs binne stelsels waar koring 25% tot 75% van die stelsel uitgemaak het, het oor die 18 jaar van wisselbou gemiddeld ‘n 23% hoër opbrengs as monokultuur gelewer.

Binne die proef word agt (vierjaar) stelsels getoets, waarvan vier gewasstelsels- en vier eenjarige weiding/gewasstelsels is. Die gewasstelsels is soos volg:
Koring – Koring – Koring – Koring
Koring – Koring – Koring – Kanola
Koring – Lupien – Kanola – Koring
Koring – Lupien – Koring – Kanola

Die weiding/gewasstelsels se weidingsfase het gewissel tussen suiwer medic en medic/klawer-kombinasies en lyk soos volg:
Koring – Medic – Koring – Medic
Koring – Medic – Kanola – Medic
Koring – Medic/Klawer – Koring – Medic
Koring – Medic/Klawer – Koring – Medic/Klawer (soutbos)

image image

 

Grafiek 1 toon die gemiddelde koringopbrengs van elke stelsel wat getoets word. Twee van die stelsels is onderverdeel om ‘n duideliker beeld te skets van die koringopbrengs. Stelsel 2 hierbo is so onderverdeel dat die effek van die posisie van die kanola binne die vierjaar-stelsel beter verstaan kan word.

Verder is stelsels 3 en 4 hierbo ook verdeel om dieper insig te verkry. Stelsel 7 en 8 is saamgevoeg aangesien dit basies dieselfde stelsel is. In 2003 was daar erge droogte in die Swartland en slegs koring wat na medic (2002) verbou is, kon geoes word. Die grafiek toon dan ook die gemiddelde koringopbrengs oor die tydperk sonder die data van 2003.

Om die prentjie nog duideliker te maak, is die koringopbrengs van die verskillende stelsels uitgedruk as persentasieopbrengs in vergelyking met monokultuur wat as basis dien (dus is monokultuuropbrengs gelyk aan 100%). In terme van dié vergelyking met monokultuur-koringproduksie het die res van die gewasstelsels gemiddeld 22% hoër koringproduksie gelewer op ‘n kleiner produksiearea, terwyl die weiding/gewasstelsels gemiddeld 39% beter gevaar het op slegs 50% van die produksiearea.

Die insluiting van slegs 25% kanola binne ‘n stelsel het gemiddeld 12% hoër koringopbrengs tot gevolg gehad. Wanneer koringproduksie ná een jaar van kanola vergelyk word met tweede- en derdejaar-produksie, is dit duidelik dat die eerste jaar koring ná kanolaproduksie 8% hoër was as die tweede jaar koring ná kanola en 9% hoër as die derde jaar koring ná een jaar kanola.

Omdat koringproduksie binne wisselboustelsels soveel hoër is as monokultuur oor ‘n kleiner produksiearea, is dit een van die bewyse dat wisselbou werk en voordelig is vir koringproduksie. Hierdie data is ook vervat in ‘n opsommende bruto marge analise wat in 2012 voltooi is. Hierdie opsomming toon ook baie duidelik dat wisselbou resultate lewer en help om volhoubaarheid te verseker. Tabel 1 gee ‘n opsomming van die gemiddelde koringopbrengs oor die jare onder bespreking.

image

Wanneer ‘n mens na die produksie in monokultuur-koringverbouing oor die afgelope paar jaar kyk, kan dit misleidend wees, want ten spyte van die hoër produksie was die insetkoste van die monokultuur steeds die hoogste van enige stelsel. Gevolglik was die bruto marge klein. Wisselbou is van kardinale belang as een van die drie pilare van bewaringslandbou om te verseker dat ons produksie volhoubaar is oor tyd.

Vir meer inligting, kontak dr Johann Strauss by johannst@elsenburg.comof 082 907 3109.

Publication: February 2014

Section: Input Overview

Search