• Login
  • Search Icon

KOM BEMAGTIG JOUSELF so kuier-kuier met inligting

April 2016

SA Graan/Grain redaksie

KOM BEMAGTIG JOUSELF so kuier-kuier met inligting“In samesyn kan die mensdom sterk staan, maar verdeeld sal ons val.” Hierdie gesegde loop al vir generasies hand-aan-hand met die mensdom en is dan ook die boodskap wat mnr Jannie de Villiers (uitvoerende hoofbestuurder: Graan SA) aan produsente regoor die land wil oordra.

Hy noem dat baie produsente platgeslaan en moedeloos voel as gevolg van die landwye droogte wat die land se grootste natuurramp in 30 jaar is. Suid-Afrika se landbou het alreeds ongeveer R16 miljard verloor as gevolg van die droogte. Dit gaan gepaard met werkverliese, verdere ekonomiese verval en maatskaplike onstabiliteit.

“Dit is ook hoekom dit so belangrik vir die produsent is om die 50ste Graan SA NAMPO Oesdag by te woon,” noem De Villiers.

“Die samesyn by die Oesdag is altyd bemoedigend en sal nog soveel te meer só wees tydens hierdie swaarkry-tyd.”

De Villiers hoop dat produsente wat moedeloos voel ‘n mate van emosionele genesing sal ervaar tydens die Oesdag. “Dit is ook die ideale geleentheid vir produsente om met mekaar te kommunikeer en moontlike oplossings uit te ruil vir volhoubare landbouproduksie op plaasvlak.”

Hy noem daarby dat, soos die grense in ons land al hoe meer krimp, samesyn selfs meer belangrik geword het. “Dit is slegs wanneer ons in gees saamstaan, dat ons waarlik die uitdagings wat ons in die gesig staar, kan hanteer.”

De Villiers reken verder dat die Oesdag ‘n ongelooflike belang rike gebeurtenis is. “Dit is een van Graan SA se prominente doelwitte om die volhoubaarheid van landbou vir produsente te ondersteun.”  Hy verduidelik dat Graan SA ‘n visie het om te verseker dat die nuutste tegnologie binne die bereik van die produsent is en om graanprodusente te ondersteun deur produk tiwiteit en winsgewendheid te verhoog.

“Graan SA se NAMPO Oesdag is dus die perfekte geleentheid om hierdie nuwer tegnologie en ander produkte met mekaar op een terrein te vergelyk en te besluit watter produk, patent of tegnologie die beste op jou plaas toegepas kan word.”

Nog ‘n belangrike doel wat tydens die Oesdag bereik word, is natuurlik die netwerkgeleenthede wat geskep word. “Jy as produsent kan nie bekostig om nié daar te wees nie,” skerts De Villiers. “Dit is daar waar mense met mekaar praat en transaksies gesluit word.”

Daar is ruim geleentheid om met verskaffers te kommunikeer oor produkte en dienste aangesien die hele waardeketting se verteenwoordigers na Graan SA se NAMPO Oesdag toe gaan. Dit is die tyd wanneer bande versterk en vriendskappe gesmee word.

NAMPO bly die beste vertoonvenster van Suid-Afrikaanse landbou. “Dit is ook belangrik om te sien dat boerdery ‘n wetenskap is en bly en hier kry besoekers die geleentheid om eerstehands met die nuutste tegnologie kennis te maak.”

Op die vraag waarom NAMPO ‘n vertoonvenster vir landbou is, antwoord De Villiers sonder aarseling: “Daar is altyd nuwe ontwikkelinge en veranderinge in die landboubedryf en ons wil verseker dat ons en Oesdaggangers aan die voorpunt daarvan bly.”

Hy verduidelik dat die hele landbouwaardeketting ten toon gestel word en dat NAMPO gewoonlik die verhoog is waar produkverteenwoordigers nuwe produkte of kultivars bekendstel.  “Besoe kers kan hulle vergewis van moontlike nuwighede en natuurlik ook toekomstige produkte en dienste.”

De Villiers praat ook opgewonde oor wat Nasie in Gesprek oor die jare bygedra het om landbou se saak te stel. “Dit is ‘n baie interessante manier om gewone mense aan landbou bloot te stel.  Hulle kom neem deel aan die debat en sien wat alles op NAMPO aangaan.”

De Villiers verduidelik verder dat dit ook ‘n belangrike geleentheid vir die organisasie is om ‘n inkomste te genereer.

“NAMPO is ‘n inkomstebron vir Graan SA, wat die fondse aanwend vir navorsing en ander dienste wat indirek weer vir die produsent voordelig is. Die wins uit die NAMPO Oesdag word aangewend om beter markinligting en navorsing aan sy lede te bied, sowel as beeldbou en onderhandeling met die regering,” het De Villiers gesê.

Wat bied die Oesdag sy lede?
Sonder sy lede is Graan SA niks. Graan SA-lede bly dus altyd die belangrikste prioriteit en daar word altyd verseker dat hulle rooitapyt-behandeling ontvang. De Villiers beklemtoon dat Graan SA sy waardering vir sy lojale lede wil uitspreek en illustreer.

Lede kry gratis toegang en parkering naby aan die spesiale ingangshek vir lede. Van daar word hulle met gholfkarretjies tot by die ledelokaal vervoer. By die ledelokaal sal hulle op die hande gedra word met gratis verversings en kan hulle sommer net lekker gesellig saam met vriende en familie verkeer.

Dit is belangrik dat produsente die Oesdag besoek
Dit is die ideale geleentheid vir produsente om te sien wat is nuut vir aanwending in hul boerderye en watter nuwe planne gemaak kan word om hoër winsgewendheid vir produsente te verseker. Produsente kry die geleentheid om op een dag,  onder een Oesdagsambreel, ‘n verskeidenheid produkte direk met mekaar te kan vergelyk.

Laasgenoemde lei tot mededinging, wat lei tot ‘n verhoging in innovasie van dienste en produkte. NAMPO bied ook ‘n gevoel van samesyn vir produsente. Dit is gewoonlik hier waar boerderyvrae sommer so gesels-gesels beantwoord word.

Hoekom word die publiek uitgenooi na die Oesdag?
“Waar kom jou kos vandaan? Hoekom is die volhoubaarheid van landbou bitter belangrik vir die man op die straat? Al hierdie vrae word sommer met die intrapslag by NAMPO Oesdag beantwoord.  Sonder die produsent sal daar nie meer voedsel vir jou gesin wees nie. Geen brood, geen melk, geen groente, vleis of vrugte nie. By NAMPO kan jy meer leer oor die belangrikheid van landbou in Suid-Afrika,” verduidelik De Villiers. “En die Oesdag is sommer in ieder geval ‘n heerlike plattelandse uitstappie vir jou en jou gesin.”

De Villiers sluit die onderhoud af deur te beklemtoon hoe belangrik dit vir staatsamptenare en ministers is om NAMPO te besoek. “Dit is hier waar hulle die kommersiële landbouprodusente ontmoet en meer leer oor die onderwerpe waaroor hulle as staatsamptenare besluite moet neem. Dit is dus bitter belangrik dat hulle deel word van die ketting en die produkte en dienste verstaan. Ek voel as hulle landbou se mense leer ken, hulle beter besluite sal kan neem en hul besluite beter kan evalueer, maar natuurlik bly ons belangrikste doel om die plaaslike produsent te bemagtig met inligting en opsies.”

KOM BEMAGTIG JOUSELF so kuier-kuier met inligting

Publication: April 2016

Section: NAMPO

Search