• Login
  • Search Icon

Koel koppe en sterk harte

September 2014

image

image

Beste Grootneef

Dit lyk deesdae of die donderweer sommer van onder af boontoe kan slaan, soos al wat leef en beef betoog. Waar is die goeie ou dae waar mense rondgestaan het met plakkate waarop geskryf staan: “Ek betoog teen betogings...”. In ons oorle jong dae was dit die ergste wat ons gesien en beleef het. En die klomp takhare wat teen Springboktoere in Engeland betoog het.

Nou betoog elke Jan Rap en sy maat. Dis asof ons oornag ‘n nasie geword het wat heeltyd probeer om sy eie alie raak te skop. Kwaad vir als wat leef en beef. Kwaad vir die Blou Bulle, Bafana, ’33 se droogte of oor die dak wat lek. Kwaad vir tollenaars, Filistyne, Palestyne en slaggate. Dis of die hele volk en nasie een groot stresbal geword het.

Dit is ook nie net van stoom afblaas nie. Mens en dier, huis en haard ontgeld dit as die spul begin protesteer. Net in dié week het ‘n klomp kinders Johannesburg ingevaar om te protesteer teen tienerswangerskappe. Ek meen te sê, dit is nou soos die pot wat die ketel verwyt...

Die moeilikheid is dat die gerugte en berigte van protes nie ‘n hier en ‘n daar in die land is nie, maar oral en die heeltyd. Wat ons nou nié nodig het nie, is mense wat die kole verder aanblaas. Veral as dit gaan oor grond.

Want grond is deel van ons vesel. Grond is winter en somer, westewinde en lentereëns. 'n Windpomp se draai en ‘n tolbos teen die draad. ‘n Skaap se blêr en ‘n jakkals se roep. Dit is deel van ons bestaan – van Adam se tyd af.

Koel koppe en sterk harte is nou nodig. Salomo se wysheid en Job se geduld. Want in dié wedstryd oor grond is daar nie tweede kanse of ekstra tyd nie. As ek die minister reg verstaan, wil hy teen April volgende jaar nuwe óf ander planne oor grond ontvang, óf hy druk deur met sý plan.

Vergeet ook maar dat slim proffies met “die antwoord” sal kom. Hulle verstaan in elk geval nie hoe my skoen druk nie.

Ou Neef, dit is die één keer dat ons leiers dit onder mekaar sal moet uitspook. En hulle moet sommer vooraf akkoord gaan dat ou koeie in slote bly – maak nie saak wie destyds vir Jan Smuts of Malan gestem het nie. Die planne te maak is buitendien nie net vir ons nie, maar vir ons kinders wat ook eendag wil boer.

Ou Neef, die grondsakkie moet betyds toegeknoop word, finish en klaar. En geen geskuiwery aan doelpale nie.

So van ‘n losgemaal gepraat. Buurman sê Curriebeker-rugby is beter – ten minste speel ons teen onsself! Daar is buitendien te veel rugby – geen mens kan byhou nie – tot by die Statebond word nou rugby gespeel! Hoop tog die Cheetahs doen beter dié jaar...

Groete op die Oosgrens.

Kleinneef

Lesers is welkom om ‘n e-pos aan Kleinneef te stuur by kleinneef@graingrowers.co.za.

Publication: September 2014

Section: Features

Search