• Login
  • Search Icon

Ken jou onkruiddoder: Deel 9

June 2013

Deel 9: Bengaalse wandelende Jood (Benghal wandering Jew)
 

image

Beheer van onkruide in mielies en koring

image image

ELBÉ HUGO, LNR-INSTITUUT VIR GRAANGE WAS SE EN HESTIA NIENABER, LNR-KLEINGRAAN INSTITUUT

Wetenskaplike naam: Commelina benghalensis
Afrikaanse naam: Bengaalse wandelende Jood, Bengaalse-Commelina, wandelende Jood, blouselblommetjie
Engelse naam: Benghal wandering Jew, Benghal Commelina, wandering Jew

Kort beskrywing

Wandelende Jood is ‘n rankende, eenjarige, sagte onkruid wat relatief regop groei. Dit het dun wortels en wit, ondergrondse wortelstokke (risome) wat ook blomme en sade produseer. Die stingels is helder liggroen, gerib en harig. Alhoewel dit breë blare het, is dit ‘n eensaadlobbige plant en are is dus parallelnerwig, soos by grasse.

Die blare is enkelvoudig, afwisselend gerangskik en eiervormig. Blomme is hier okselstandig, klein, inkblou, byna sittend en oorleef net ‘n paar ure.

Dit het bogrondse sowel as ondergrondse blomme en sade. Bengaalse wandelende Jood se vrugte is driehokkige kapsules (doosvrugte) met een halfronde saad in die dorsale hok en twee saamgedrukte sade in elk van die ander twee hokke.

Die bogrondse sade is klein en die ondergrondse sade is relatief groot. Dit is grys tot amper swart en die oppervlak van die saadhuid (testa) is grof. Wandelende Jood plant voor op verskeie maniere, naamlik met steggies (stukkies van plant en risome), asook bo- en ondergrondse sade.

Verspreiding

Hierdie onkruid is wydverspreid dwarsdeur die somerreënvalstreek van Suider-Afrika en word beskou as ‘n moeilik beheerbare onkruid. Gedurende die laaste paar jaar het dit ook enkele plase in die Worcester-distrik binnegedring.

Vanweë onvoldoende beheer is hierdie onkruid vinnig aan die toeneem, veral waar verminderde of geenbewerking toegepas word.

Wanneer dit in digte stande voorkom, is dit ‘n strawwe mededinger wat ook teen gewasse kan oprank.

Beheer

Bewerking
Vlak skoffel sal die plante slegs in stukkies sny en indien die steggies nie dieper as 50 mm begrawe word nie, sal dit wortelskiet en weer groei. Slegs as die steggies dieper as 50 mm begrawe is, sal dit afsterf. Daarom sal vlak skoffel met ‘n eg die onkruid eerder versprei as beheer.

Chemies
Chemiese beheer is hier die beste metode. Die klein, bogrondse saad ontkiem vlak en voor-opkomsonkruiddoders bied gewoonlik doeltreffende beheer. Die groot sade wat ondergronds voortgebring word, kan so diep as 150 mm ontkiem en voor-opkomsonkruiddoders bied wisselvallige beheer. Daarom bied na-opkomsonkruiddoders beter beheer van Bengaalse wandelende Jood, terwyl die hormoontipe onkruiddoders (2,4-D, dicamba en MCPA) die doeltreffendste is.

Waar wandelende Jood ‘n ernstige probleem is, kan die beste resultate behaal word deur ‘n splittoediening van ‘n geskikte grasdoder voor-opkoms, gevolg deur ‘n na-opkomstoediening van ‘n geskikte breëblaaronkruiddoder. Wandelende Jood-saailinge moet verkieslik rondom die vierblaar-stadium gespuit word en nie later as die sesblaar-stadium nie.

Verskeie onkruiddoders is geregistreer vir die beheer van wandelende Jood in mielies en koring (Tabel 1 en Tabel 2). Daar verskyn op meeste van die onkruiddoders se etikette ‘n nota oor die beheer van wandelende Jood en dosisse moet heel dikwels verhoog word om effektiewe beheer te verkry.

image

image

Volg dus die spesifieke aanduidings en dosisaanwysings vir wandelende Jood slaafs na op elke produk se etiket.

Kontak altyd ‘n betroubare chemiese adviseur voor die gebruik van enige chemikalieë om die korrekte dosis en spesifikasies op die etiket na te kom.

image

Publication: June 2013

Section: Input Overview

Search