• Login
  • Search Icon

Ken jou onkruiddoder: Deel 1

October 2012

 

Deel 1: Kaapse dubbeltjie (Devil's thorn)

 

image

Beheer van onkruide in mielies en koring

 

ELBÉ HUGO, LNR-INSTITUUT VIR GRAANGEWASSE EN HESTIA NIENABER, LNR-KLEINGRAAN INSTITUUT

Wetenskaplike naam: Emex australis
Afrikaanse naam:Kaapse dubbeltjie, Emex dubbeltjie
Engelse naam: Devil's thorn, Three cornered Jack

image

Kort beskrywing

Kaapse dubbeltjie groei gewoonlik platterig (spreidend), maar kan tot 60 cm hoog word waar dit dig voorkom. Die blare en stingels vertoon heldergroen vanaf saailingstadium. Blare is ovaalvormig tot langwerpig by ouer plante en is ongeveer 8 cm lank en 5 cm breed.

Blommetjies is groen en gerangskik in bondeltjies op die stingels, maar nie baie prominent nie. Die saad is relatief groot, driehoekig en duidelik sigbaar op die plant tussen die blare. Dit het drie kenmerkende skerp punte en kan erge ongemak vir mense en diere veroorsaak. Saad kan deur die hele jaar geproduseer word.

Verspreiding

Kaapse dubbeltjie kom wydverspreid in Suid-Afrika voor en kan in die winter- sowel as somerreënvalgebiede ‘n probleemonkruid wees. Dit is vinnig besig om te versprei in droëlandmielies en kan ‘n probleem wees waar koring besproei word.

Beheer

Chemies
Verskeie voor- en na-opkoms onkruiddoders is geregistreer vir die beheer van Kaapse dubbeltjies in mielies en koring (Tabel 1 en Tabel 2). Voor-opkoms onkruiddoders word in die grond toegedien tydens plant of binne vier dae ná plant. Genoegsame grondvog is nodig om die voor-opkoms onkruiddoders te aktiveer in die grond en effektiewe beheer te verskaf. Na-opkoms onkruiddoders word toegedien nadat die onkruid en/of gewas reeds op is.

Volg die spesifieke aanduidings en dosisaanwysings slaafs na op elke produk se etiket. Vir effektiewe beheer moet na-opkoms onkruiddoders verkieslik met ‘n bymiddel wat die penetrasie van die onkruiddoder bevorder, gemeng word. Sien etiket vir aanwysings.

Kaapse dubbeltjie kan ‘n geharde onkruid wees en moet so vroeg as moontlik na-opkoms beheer word. Die optimale tyd is tussen die twee- tot sesblaar-stadium van die onkruid. Hoe groter die plante word, hoe minder effektief sal die na-opkoms onkruiddoders wees.

Alhoewel hierdie onkruid nog nie ‘n belangrike onkruid in die Vrystaat se koringproduksie is nie, kom dit meer geredelik in die Wes-Kaapse produksiegebiede voor. Aangesien weerstand teen onkruiddoders nog nie in hierdie onkruid gerapporteer is nie, word breëblaar-onkruiddoders nog met sukses gebruik. Neem egter altyd weerstandbiedendheid in ag en moenie onkruiddoders gebruik waarteen weerstand reeds voorkom nie. Kontak altyd ‘n betroubare chemiese adviseur voor die gebruik van enige chemikalieë om die korrekte dosis en spesifikasies op die etiket na te kom.

image

image

Bewerking
Vlakbewerking kan die opkoms en getalle van Kaapse dubbeltjie verminder.

Publication: October 2012

Section: Input Overview

Search