• Login
  • Search Icon

Kanolasaad: Beskikbaarheid, pryse en hoe vergelyk dit internasionaal?

February 2017

image

CORNÉ LOUW, senior ekonoom: Graan SA

Alle kanolasaad wat in Suid-Afrika aangeplant word, word vanaf Australië of Europa ingevoer. Geen kanolasaad word plaaslik vermeerder nie.

Beskikbaarheid van saad
Saadmaatskappye meen dat die plaaslike mark te klein is om saad plaaslik te vermeerder en dat die vermeerdering van bastersaad, wat die grootste persentasie van die mark beslaan, te duur is. Die isolasievereistes van sulke vermeerderings is volgens die saad maatskappye ook van só ‘n aard dat dit vir Suid-Afrika se relatiewe klein area nie prakties haalbaar is nie.

Omdat 100% van Suid-Afrika se kanolasaadbehoeftes ingevoer moet word, is die voorsiening van genoeg saad ‘n kuns. Dit veroorsaak dat dit ook vir plaaslike saadmaatskappye ‘n uitdaging is, want as daar weer te veel saad ingevoer word, sit hulle met die voorraad en moet hulle die voorraad dra of staanhulle die kans om dit te verloor, omdat die kieming van kanolasaad ‘n probleem raak hoe ouer dit word.

Vir die 2017-seisoen bestaan die moontlikheid dat al die voornemende hektare nie met kanola geplant sal kan word nie, omdat ‘n groot aantal van die saadproduksies in Australië versuip het en dit die voorsiening van saad beperk. Graan SA is hieroor in gesprek met plaaslike saadmaatskappye en daar word deurlopend vir oplossings gesoek.

Saadpryse
Pryse van kanolasaad het vir die 2017-seisoen met gemiddeld 5,63% toegeneem. Sekere kultivars se pryse het met 1,19% gestyg, terwyl ander tot soveel soos 28% gestyg het. Tabel 1 toon die saadpryse vir die 2017-seisoen.

Omdat plaaslike kanolaprodusente ál meer sensitief vir stygende saadpryse raak, het Graan SA dit in ‘n ondersoek met Australiese kanolasaadpryse vergelyk. Tabel 2 toon hoe die prys van dieselfde kultivar in Australië met dié kultivar in Suid-Afrika vergelyk. Gegewe ‘n wisselkoers van R10 teenoor die Australiese dollar, kos kultivar A byvoorbeeld R150/kg in Australië, maar R281/kg in Suid-Afrika. Kultivar B kos weer R139/kg in Australië en slegs R114/kg in Suid-Afrika.

Wanneer na gemiddelde (nie geweeg nie) pryse van die ses kultivars wat gebruik is gekyk word, is die gemiddelde saadprys in Suid-Afrika R220/kg en in Australië R186/kg. Op ʼn gemiddelde basis vergelyk pryse redelik (veral gegewe die koste om die saad in Suid- Afrika te kry), maar dit blyk dat populêre kultivars in Suid-Afrika definitief duurder is teen die R10/AUS $-wisselkoers wat vir die berekening gebruik is.

Publication: February 2017

Section: On farm level

Search