• Login
  • Search Icon

Kanolakultivarevaluasie in die Wes-Kaap

February 2017

PIET LOMBARD, LISA SMORENBURG en JOHANN STRAUSS, Navorsings- en Tegnologie-ontwikkelingsdienste, Wes-Kaapse Departement van Landbou

Kanola is ‘n relatiewe jong gewas in die Wes-Kaap. Die eerste evaluering van die gewas is in 1994 deur die Wes-Kaapse Departement van Landbou uitgevoer in samewerking met die destydse Proteïnnavorsingstrust.

Al die kultivars was aanvanklik oopbestuifde konvensionele kultivars. In 2016 is slegs basterkultivars uit die konvensionele, CL- (Imasamoks-tolerante) en TT- (Triasien-tolerante) groepe getoets. Daar is wel op die oomblik ‘n oopbestuifde TT-kultivar in die mark beskikbaar.

Kanolakultivars word vinnig deur nuwe kultivars vervang weens die verlies aan weerstand teen swartstamsiekte. In 2016 is daar twee nuwe CL-kultivars en een nuwe konvensionele kultivar getoets.

Nasionale kultivarproewe

Die Wes-Kaapse Departement van Landbou plant jaarliks agt proewe in die Suid-Kaap en die Swartland aan. Op ons Tygerhoek (Riviersonderend)- en Langgewens (Moorreesburg)- navor singplase word ook ʼn tweede kultivarproef op ‘n later datum aangeplant. Op bogemelde twee lokaliteite word ook twee eliteproewe met gevorderde teelmateriaal aangeplant.

Klimaatsoorsig

Kanola is ‘n koelweergewas en is baie sensitief vir klimaatsom standighede. Die afgelope seisoen in die Swartland is gekenmerk deur uiters droë toestande gedurende Mei, hoewel goeie reën op 26 Maart en 22 April in die Swartland voorgekom het. Aanplantings wat laat in April en vroeg in Mei geplant is, het goed gevestig en ook goeie opbrengste gelewer. Gedu rende Mei tot 8 Junie het baie min reën voorgekom. Die Pools-area in die Rooi Karoo het ‘n baie droë seisoen beleef.

In die Suid-Kaap het ‘n gemiddelde reënval vir die periode April tot September voorgekom. Meimaand was egter droog – net soos in die Swartland. Die meeste aanplantings het gedurende April plaas gevind – met die uitsondering van die westelike dele, waar tot in die begin van Mei geplant is.

By die Langgewens- en Tygerhoek-navorsing plase was die reënval gedurende Maart tot September baie naby aan die lang ter myn gemiddelde (Grafiek 1 en Grafiek 2). Gedurende Mei was dit baie droog op beide hierdie lokaliteite. Die
reënval tydens Junie was bo gemiddeld op Langgewens en slegs gemiddeld op Tygerhoek. Die reënval tydens September was weer bogemiddeld op Tygerhoek.

Resultate

Tipe kanola en die invloed op opbrengs

Die opbrengsverwagting van verskillende kanolatipes wissel. In Grafiek 3 en Grafiek 4 word die opbrengs van die CL- en TT-groepe met die konvensionele groep vergelyk (uitgedruk as persentasie).

Die opbrengs van die TT-groep was gemiddeld 19% (Swartland) en 13% (Suid-Kaap) laer as die konvensionele kultivars vir 2013 tot 2016. Daar is min verskil oor jare tussen die CL- en konvensionele groepe van kultivars.

Opbrengs van kultivars

Die opbrengsresultate vir die onderskeie gebiede word in Tabel 1 en Tabel 2 opgesom.

Die Clearfield (CL)- en Triasien-tolerante (TT) kultivars se data is geskei van die konvensionele kultivars, terwyl die oopbestuifde kultivar met ‘n # aangedui word.

In die Swartland was die gemiddelde proefopbrengste baie goed (2 746 kg/ha) teenoor 2 468 kg/ha en 1 320 kg/ha in 2014 en 2015 onderskeidelik. Die proewe met hoë opbrengste in die Swartland het vroeg in Mei reeds ontkiem. Die proefgemiddeldes vir die Swartland het gewissel tussen 1 835 kg/ha vir Philadelphia en 3 703 kg/ha vir Langgewens.

Die konvensionele basterkultivar Diamond het, soos in 2015, ʼn betekenisvol hoër opbrengs vergeleke met die ander kultivars in die groep vir die Swartland-area gelewer. Diamond is gevolg deur Tango (2 858 kg/ha), CB Agamax (2 829 kg/ha) en Hyola 50 (2 828 kg/ha).

Die twee nuwe CL-kultivars, 44Y91 en 45Y90, het onderskeidelik die hoogste opbrengs binne hul groep opgelewer, naamlik 3 038 kg/ha en 2 936 kg/ha. Die kommersiële CL-kultivar 44Y89 het die derde hoogste opbrengs (2 901 kg/ha) in die CL-groep gelewer en dit was nie betekenisvol laer as die opbrengste van ander kultivars binne die CL-groep nie.

Die opbrengste van Diamond, 45Y90 en 44Y91 het nie betekenisvol verskil nie. In die TT-groep was die verskil in opbrengs tussen die hoogste en laagste opbrengs slegs 15 kg/ha, naamlik 2 520 kg/ha (Hyola 559), 2 510 kg/ha (Hyola 555 TT) en 2 505 kg/ha (CB Atomic HT) onderskeidelik.

In die Rûens (Tabel 2) het die proefgemiddeldes gewissel tussen 2 378 kg/ha op Witsand (Witsandproef is ondersaai met lusern) en 3 278 kg/ha op Swellendam. Die gemiddelde opbrengste was 2 885 kg/ha teenoor 2 468 kg/ha en 1 320 kg/ha in 2014 en 2015 onderskeidelik. Die konvensionele kultivar Diamond (3 305 kg/ha) het die hoogste gemiddelde opbrengste in die konvensionele groep gelewer en is gevolg deur die kultivar Belinda (3 207 kg/ha). Die kultivars se opbrengste het nie betekenisvol van mekaar verskil nie.

Die nuwe CL-kultivar, 45Y91, het die hoogste opbrengs in die CLgroep gelewer (3 368 kg/ha). Die (nuwe) kultivar, 44Y90, was tweede (3 210 kg/ha) binne die CL-groep, maar sy opbrengs was nie betekenisvol laer as 45Y91 nie. Die kommersiële kultivar, 44Y89, was derde (3156 kg/ha) binne die CL-groep, gevolg deur 45Y88 (3 100 kg/ha). In die TT-groep het CB Atomic HT die hoogste opbrengs gelewer (2 592 kg/ha), gevolg deur Hyola 555 (2 517 kg/ha) en Hyola 559 (2 489 kg/ha). Beide het nie betekenisvol van CB Atomic HT verskil nie.

Opbrengs oor seisoene
Die opbrengs van al die kultivars wat in 2015 en 2016 getoets is, word in Tabel 3 uitgedruk as persentasie van die proefgemiddeld oor twee en drie seisoene. In die Swartland het die konvensionele kultivar, Diamond, gevolg deur die CL-kultivar 44Y89, persentasiegewys die hoogste gemiddelde opbrengs in hul groepe die afgelope twee seisoene gelewer.

Die TT-kultivars met die beste persentasie opbrengs vir 2015 en 2016 was Hyola 559 en CB Atomic HT onderskeidelik. Die CL-kultivar 44Y89 en konvensionele kultivar Belinda het die beste gevaar oor die periode 2014 tot 2016.

In die Rûens het die konvensionele kultivars Belinda en Diamond, gevolg deur die CL-kultivar 45Y88 die beste in die afgelope twee seisoene presteer. Die TT-kultivar met die hoogste persentasie opbrengs vir 2015 en 2016 in die Rûens was CB Atomic HT gevolg deur Hyola 555 TT.

Gedurende 2014 tot 2016 het die CL-kultivar 45Y88 en konvensionele kultivar Belinda die beste gevaar.

Vir meer inligting kan die uitgawe van Kanolafokus 73: Desember 2016 geraadpleeg word (http://www.proteinresearch.net/).

Publication: February 2017

Section: Focus on

Search