• Login
  • Search Icon

Kan jou boerdery 'n droë koei of ooi bekostig?

March 2013

image

PIETMAN BOTHA, SA GRAAN/GRAIN MEDEWERKER

Heelwat saaiprodusente is ook veeprodusente. Diversifikasie in die saaibedryf is baie belangrik, maar dit bly van kardinale belang dat elke vertakking winsgewend moet wees.

Oor die algemeen is saaiprodusente op hoogte van hul gewas produksiekostes. Die veevertakking word in baie gevalle gesien as die bank van die saaiboerdery en daarom word dié vertakking baie keer agterweë gelaat. As dit ‘n goeie saaijaar is, sal die veevertakking uitgebrei word en as dit ‘n moeilike saaijaar is, word die beesvertakking ingekrimp om sodoende geld aan die saaivertakking te gee.

Saaiprodusente besef nie altyd hoeveel aandag aan die vee vertakking gegee moet word nie en misgis hul met die belangrike, kritieke aspekte vir die veeboerdery. As dit gereën het en dit is planttyd, moet die vee maar wag tot daar weer tyd vir hulle is. Dit is te verstane en in baie gevalle het ‘n saaiboer net nie tyd om aandag aan die vee te gee nie. Die vraag is: Hoeveel kos hierdie besluit of situasie die produsent?

Dit is so dat sekere aksies in die veebedryf tydspesifiek is en dat die doen of nie doen daarvan, op die ou end in die kalf- of lampersentasie sal reflekteer. In die aanteelveeindustrie is die kalf- of lampersentasie die enkele aspek wat tot geld in die bank sal lei.

Alle aksies moet daarop gemik wees om te sorg dat ‘n goeie kalf- of lampersentasie verseker word. Indien sekere aksies nie uitgevoer word nie, moet produsente hulself afvra watter effek dit op die kalf- of lampersentasie gaan veroorsaak.

Net soos in die saaibedryf, is die veeverkope gewoonlik seisoenaal van aard en kan dit nie maklik geskuif word nie. As ‘n produsent met ‘n lentekalfsisteem boer, gaan die speenkalwers gewoonlik in die herfs in die mark kom en so ook al die ander produsente s’n wat ‘n lentekalfsisteem volg.

Dieselfde geld ook vir ‘n herfskalfsisteem. Die gevolg hiervan is dat die veeprodusent nes die saaiprodusent ‘n prysnemer is en bly. Om die vee winsgewend te bly produseer, sal die koste per eenheid so laag as moontlik moet wees. Dit beteken dat die produsent soveel as moontlik kalwers of lammers per hektaar moet produseer. Ten einde dit reg te kry, moet die kalf- of lampersentasie so hoog as moontlik wees en verder moet mortaliteite tot die minimum beperk word.

Dit is nou hier waar die probleem van te min tyd inkom en daar besluit moet word watter vertakking die aandag gaan kry. Soms sal belangrike saaisake voorkeur kry en dit sal ‘n effek op die kalf- en lampersentasie tot gevolg hê.

Die vraag is: Hoeveel verloor die veevertakking as die kalfpersentasie na benede tuimel? Ten einde hierdie vraag te antwoord, is ‘n tipiese Sentrale Vrystaat speenkalfbedryfstakbegroting opgestel (Tabel 1).

image

Met die opstel van die begroting is daar nie voorsiening gemaak vir addisionele voer nie en is aanvaar dat daar genoeg kos beskikbaar is. Daar is ook voorsiening gemaak vir verskillende kalfpersentasies om die effek te verduidelik.

Dit is so dat ‘n sekere kostekomponent per eenheid vas bly ongeag of ‘n koei produseer of nie. Hierdie koste kan beide direkte sowel as vaste koste insluit. Die koei wat nie produseer nie hou aan vreet en daarom bly haar koste staan en moet ander koeie haar dra. Die vaste koste vir die veevertakking sal ook dieselfde per koei wees ongeag of sy produseer of nie.

Uit Tabel 1 is dit duidelik dat daar ‘n groot verskil in die winsgewendheid tussen die verskillende kalfpersentsies is. Opmerklik is dat die kalfen winspersentasies nie in dieselfde verhouding daal nie. As die kalfpersentasie daal, daal die wins heelwat meer.

As ‘n produsent nou ‘n 50% kalfpersentasie het, moet hy intens na sy veebestuur kyk. Met ‘n klein verandering in die bestuur kan hy sy wins met 153% verhoog. As ‘n produsent net 100 koeie het, beteken dit ‘n ekstra R157 000. Dit sal raadsaam wees om sy vee-aksies só te struktureer om by die saai-aktiwiteite aan te pas en om seker te maak dat daar nie belangrike aksies in pieksaaitye uitgevoer moet word nie.

Indien daar enige verder vrae is, kan Pietman Botha by 082 759 2991 gekontak word.

Publication: March 2013

Section: Input Overview

Search