• Login
  • Search Icon

Kan Graan SA ‘n verskil maak?

March 2011

Dr Kobus Laubscher, Hoofbestuurder

In Julie 2008 en onder omstandighede wat ruim verskil van dié wat die afgelope seisoene gegeld het en nog die gang van besluite in hierdie jaar sal rig, is besin oor wat Graan SA as organisasie moet doen.

Gelei deur ‘n visie en gerugsteun deur ‘n netjiese stel kernwaardes, is beslag gegee aan hoe kernbesigheid bedryf moet word. Die bedryf was onder skoot as gevolg van hoë plaaspryse en die uitdagings het wesenlik verskil.

Die gedeelde droom is soos volg omskryf: “Graan SA as belange-organisasie se primêre doel is om ‘n bedryfsomgewing te skep en te bevorder waarbinne deelnemende produsente teen ‘n wins, bekostigbare voedsel aan die mense van die land kan verskaf.”

Intussen het die markplek verander en pryse op plaasvlak is op vlakke wat volhoubare produksie en gevolglike voedselsekuriteit, bedreig. Daar moes noodwendig ‘n verstelling kom in terme van kernbesigheid. Dit gaan nou letterlik om oorlewing.

Aanvanklik kon sukses gemeet word aan die mate waartoe die volgende bereik is, naamlik die aantal opbetaalde lede en die tendens; die mate waartoe Graan SA die ekonomiese stem van graan is; funksionele komplementariteit wat ‘n verskil maak op plaasvlak; finansiële volhoubaarheid en hoe fiks die organisasie is om by veranderinge aan te pas.

Eksterne voldoening is afgelei van die mate waartoe Graan SA medebepaler is van die gang van sake, die eksterne omgewing beïnvloed en ‘n voorkeur vennoot-in-missie is.  Balans tussen wat die organisasie moes wees en wat hy nie kon bekostig om nie te wees nie, het strategies rigting gegee. Bitter min hiervan was egter kwantifiseerbaar.

Namate die ruilvoet onder druk gekom het, het lede en die bedryf meer verwag. Oproepe tot aksie was uiteenlopend, maar daar was ‘n groeiende verwagting dat die organisasie moet toetree tot die mark om óf ‘n verskil te maak en/óf munt te slaan uit beweerde onmededingende praktyke – iemand sou na bewering geld maak op die rug van die produsent.

Hieroor is diepsinnig gedink en dit is duidelik dat die huidige mandaat en die bemagtiging vir die uitoefening daarvan, nie voorsiening maak vir sodanige aksies nie. Daar is duidelik ‘n verwagting dat Graan SA kommersieel in die waardeketting betrokke moet raak. Vir die doeleindes van hierdie gesprek, aanvaar die kollektief.

Die voorgestelde bedryf van ‘n vrywillige uitvoerpoel sou kon dien as ‘n inleidende blootstelling aan kommersiële aktiwiteite. Die vraag is egter of en hoe Graan SA enigsins ‘n kommersiële arm kan ontwikkel sonder om in kompetisie te wees met bestaande entiteite binne die waardeketting en wat baie duidelik dienste en produkte aan produsente bied en sodanig bydra tot baie van diesulkes se volhoubaarheid.

Dit is nie duidelik of sulke kompetisie nodig is of bekostigbaar kan wees nie. Sukses met hierdie aksies is afhanklik van samewerking onder produsente; en verskillende organisasievorme is voorgestel, waaronder ‘n koöperasie. Die gebrek aan eenstemmigheid onder produsente oor die uitvoerbaarheid van die voorgestelde uitvoerpoel op grond van ‘n beweerde gebrek aan samewerking, is egter aanduidend van ‘n groot moontlikheid dat so ‘n struktuur nie sou kon werk nie.

Kortom, kan enige struktuur wat moet steun op die samewerking van produsente wat sterk individualisties is, effektief genoeg werk om die beweerde wanprestasie binne die mark teen te werk by wyse van verhoogde plaaspryse? Alternatiewelik moet die werking van die mark en hoe Graan SA die effektiwiteit daarvan deur beïnvloeding kan verbeter, ook onder die soeklig kom.

Alles in ag genome, bly die vraag oor wat Graan SA se kernbesigheid moet wees, belangrik, maar onbeantwoord. Feit is egter dat onvoldoende bewyse tot dusver gelewer is ten gunste van die kommersialisering van aksies en hoe só ‘n verandering aan die kerntaak ‘n verskil kan maak in die vorm van hoër plaaspryse.

Kundige insette by wyse van gehalte inligting oor oorsake en gevolge moet meer aggressief aangebied word en die waarheid moet onverskrokke nagejaag word. Die losse omgang van veral beleidmakers met die werklikhede wat volhoubaarheid op plaasvlak bedreig, moet nie geduld word nie. Kongres 2011 is ingeklee om dié sake uit te dors.

Publication: March 2011

Section: Editorial

Search