• Login
  • Search Icon

JOU KERSBOOM

December 2012

image

Dit is die einde van die jaar: Oestyd vir wintergrane, planttyd vir somergewasse, vakansietyd vir die skoolkinders en uitspantyd vir menige kantoorwerkers. Dit is tyd vir braaivleis, krieket, swem en buite kuier.

Dit is ook die maand waarin ons Kersfees vier! Wat sou die Vader se Kersboodskap vir 2012 vir die graanprodusente wees?

Ek lees in die kwartaalblad van die NG Gemeente Malelane, waar ek onlangs besoek afgelê het, die volgende:

Almal wil stilte hê, maar niemand wil ophou raas nie;
Almal wil geken wees, maar niemand wil oopmaak nie;
Almal wil êrens kom, maar niemand wil weggaan nie;
Almal wil die berg op, maar niemand wil klim nie;
Almal wil slim wees, maar niemand wil geleer word nie;
Almal wil verstaan, maar niemand wil luister nie;
Almal wil maer word, maar niemand wil minder eet nie;
Almal wil hê, maar niemand wil betaal nie;
Almal wil ophou moeg wees, maar niemand wil tot stilstand kom nie;
Almal wil sien, maar niemand wil kyk nie;
Almal wil vrede hê, maar niemand wil ophou bekommer nie; en
Almal wil hemel toe gaan, maar nie nou al nie.

Hierin lê sommer ‘n hele mondvol dinge om in die groot dae wat kom daar onder die bome en sambrele te oordink. Die gedagte wat by my opgekom het, was die een van die Kersboom.

Elkeen van ons het hierdie tyd van die jaar êrens genoeg tyd om weer van ons eie Kersboom af te klim soos ‘n Saggeus van ouds en tyd by jou Verlosser deur te bring. Hoog bo in ons gesin se Kersboom, is die ster – die een wat heenwys na Christus, maar Hy, Hy is daar laag onder die boom in die krip te vinde.

Dalk was jy hierdie jaar die ster in jou span, huis, skool, besigheid of waar ook al. Baie mense het jou met vleiende woorde hoog aangeprys tot doer bo in die boom van jou lewe. Dalk was jou prestasies net middelmatig en staan jy iewers in die middel op die sterk en stewige takke. Desember wil jou nooi om van jouself en jou prestasies te vergeet en af te kom krip toe. Kom buig daar voor Hom en vind uit na wie jy hierdie Desember moet luister, teenoor wie jy moet oopmaak, hoe jy na ander moet kyk en watter berg jy in 2013 moet uitklim.

Die gevaar lê nie in die risiko van nuwe dinge nie, maar dit lê daarin dat die hele Desember kan verbygaan en jy nooit stil word by die krip om by Hom te hoor nie. Daar is baie afleiding tussen die Verlosser in die krip onder die boom en die ster daar bo.

Al die goed, soos die blink balle, goue versierings, geskenke en denne bolle mag dalk verhoed dat jy tot daar onder die boom by Hom kom en kom Januarie, klim jy maar net weer die boom uit boontoe. Dalk kom jy weer bo uit, maar dit mag dalk net sonder Hóm wees wat jou na jou huis wil vergesel om ‘n maaltyd saam met jou en jou mense te hou.

Geseënde Kersfees.

image

Jannie de Villiers, Uitvoerende hoofbestuurder

Publication: December 2012

Section: Editorial

Search