• Login
  • Search Icon

JOU GESPREKSGENOOT in landbou

April 2016

SA Graan/Grain redaksie

Nasie in Gesprek is weer dié jaar vanaf 17 - 20 Mei by die NAMPO Oesdag in Bothaville om aktuele kwessies in die landbousektor te bespreek. Suid-Afrika se top denk - leiers trek saam om ‘n stem vir die produsent en sy sleutelvennote te gee, asook om gesprekke met Suid-Afrikaanse verbruikers aan te moedig.

“Suid-Afrika kan nie oorleef sonder produsente nie. Landbou is die enigste bedryf wat volhoubare ekonomiese groei en welvaart kan verseker,” sê mnr Andries Gamede (Mpumalanga se LUR vir Landbou, Landelike Ontwikkeling, Grond- en Omgewingsake). “Dit is tyd dat daar nasionaal en internasionaal besef word watter groot impak landbou op Suid-Afrika en die samelewing het en dit is presies hier waar Nasie in Gesprek inkom.” Nasie in Gesprek, wat onder leiding van Senwes plaasvind, word vanjaar vir die vierde agtereenvolgende jaar aangebied. Die gespreksforum sluit belangrike rolspelers in die landbousektor in, naamlik Senwes, Graan SA, Afgri, Engen, John Deere, Monsanto en Nedbank. Die inisiatief word deur Agri SA ondersteun.

Dit poog om Suid-Afrikaners in te lig oor die noodsaaklike rol wat landbou in ons land, die wêreld en in die toekoms gaan speel.

Die doel is om dialoog oor landbou onder denkleiers uit verskillende affiliasies, politieke agtergronde en die besigheidsektor aan te moedig. “Ons hoop om produsente en die hele samelewing te motiveer om anders te dink oor landbou en landboukwessies,” sê mnr Francois Strydom (groep hoof uitvoerende beampte: Senwes).

Nasie in Gesprek het vanjaar ‘n groter digitale voetspoor met meer funksionaliteite, meer platforms en uiteindelik groter gebruikersvriendelikheid. Gebruikers kan uitkyk vir die Nasie in Gesprek-toepassing wat binnekort in die onderskeie App Stores beskikbaar sal wees. Mense kan ook vanjaar al die ateljeebesprekings op YouTube volg, op die Nasie in Gesprek-webtuiste en/of op die toepassing. Interaktiewe deelname is hoog op die prioriteitslys om kykers, luisteraars en lesers by die gesprekke te betrek en hul vrae of kommentaar in die ateljee te bespreek.

Sosiale media-platforms soos Facebook, Twitter, Instagram en LinkedIn sal ook ingespan word om die publiek op hoogte te hou van elke dag se besprekings. Die gesprekke verskyn ook reeds die daaropvolgende week op verskeie TV-kanale. Vir meer inligting besoek die webtuiste www.nasieingesprek.co.za.

Publication: April 2016

Section: NAMPO

Search