• Login
  • Search Icon

Jou 2014-LNR-KGI Produksiehandleiding is in die pos

March 2014

ELRI BURGER, skakelbeampte, LNR-Kleingraaninstituut, Bethlehem

Die Landbounavorsingsraad se LNR-Kleingraaninstituut (LNR-KGI) se jaarlikse Produksiehandleidings is tans in proses om gepos te word aan ongeveer 7 600 produsente landswyd. Ons het reeds in November 2013 begin met die proses in ‘n poging om die boekies so vroeg moontlik aan die produsente beskikbaar te stel.

Hierdie kompakte handleiding bevat die jongste inligting en resultate ten opsigte van kultivarprestasie, onkruid-, siekte- en insekbeheer, asook ander algemene bestuurspraktyke met betrekking tot suksesvolle kleingraanverbouing.

Die Produksiehandleiding stel baie nuttige en duidelike riglyne waarbinne aanbevelings en produksiebesluite behoort gemaak te word. Dit is vir navorsers by die LNR-KGI belangrik dat kleingraanprodusente altyd toegang het tot die nuutste, onafhanklike koringinligting.

Twee afsonderlike handleidings is in Afrikaans en Engels beskikbaar vir die somer- en winterreënvalgebiede onderskeidelik. Danksy finansiële ondersteuning van die Wintergraantrust, kan die Produksie handleiding gratis aan kleingraanprodusente verskaf word. Ander instansies wat belangstel, kan die handleidings aankoop teen R70 elk.

Aangesien die koringplant so ‘n besonderse aanpassing toon en omdat Suid-Afrika so ‘n wye verskeidenheid van omgewings en dus verbouingstoestande het, plant die Produksiepraktyke-span by die LNR-KGI verskeie kultivarevalueringsproewe regoor Suid-Afrika.

Nuwe sowel as bestaande kultivars van alle saadmaatskappye word in hierdie proewe onder dieselfde toestande geplant. Op so ‘n manier kan die kultivars se opbrengspotensiaal, kwaliteit en ander eienskappe met mekaar vergelyk word en kan aanbevelings aan produsente gemaak word ten opsigte van watter kultivars die beste in ‘n bepaalde situasie sal presteer. ‘n Komitee bestaande uit kundiges van die LNR-KGI, die Universiteite van die Vrystaat en Stellenbosch, SANSOR, SAB Maltings (Pty) Ltd, die onderskeie departemente van Landbou, saadmaatskappye en ander belangrike rolspelers, het op 6 Februarie vergader om hierdie navorsingsresultate te evalueer en aanbevelings op grond van wetenskaplike resultate te maak.

Hierdie diens wat die LNR-KGI aan produsente verskaf, is van onskatbare waarde, want elke produsent kan volgens sy eie unieke omstandighede ‘n produksieplan met behulp van die Produksiehandleiding daarstel.

Behalwe vir kultivarkeuse, word onderwerpe soos algemene koringbestuur, wisselbouriglyne, grondbewerking, plantvoeding en grondsuurheid en onkruid-, plaag- en siektebeheer, daarin volledig hanteer. Deur hierdie produksieriglyne sinvol te gebruik, kan die produsent sy hulpbronne optimaal benut om winsgewend en volhoubaar te produseer. Vir elke koringprodusent is dié boekie dus ‘n moet!

Tydens ‘n opname wat onder koringprodusente gedoen is, was dit verblydend om te hoor dat koringprodusente die handleiding as ‘n uiters belangrike bron van produksie-inligting beskou.

Die handleidings is ook in CD-formaat beskikbaar. Sou jy verkies om die boekie dan eerder elektronies te gebruik, kontak ons asseblief. Onthou, indien die LNR-KGI nie jou naam en posadres het nie, kan jy Elri Burger by 058 307 3507 of Eveline Mofokeng by 058 307 3400 kontak.

Let ook asseblief daarop dat daar elke jaar boekies terugkom na die Instituut as gevolg van verkeerde adresse, verhuisings of posbusse wat gesluit is. Indien jy nie die boekie ontvang nie, of jy het intussen van posadres verander, kontak ons ook sodat die nodige veranderinge op die adreslys aangebring kan word.

Die handleidings sal ook tydens Graan SA se NAMPO Oesdag van 13 tot 16 Mei by die LNR-KGI se stalletjie in die Microbial Solutionssaal beskikbaar wees.

Publication: March 2014

Section: Input Overview

Search