• Login
  • Search Icon

Jongboerdag: 'n Jaarlikse landboukalenderhoogtepunt

November 2013

ANSONÉ VENTER, SA GRAAN/GRAIN MEDEWERKER

Op 12 September vanjaar het Senwes, Agri Noordwes en Vrystaat Landbou in samewerking met Graan SA, hul tiende
Jongboer Toekomsfokusdag op NAMPO Park aangebied. Hierdie jaarlikse gebeurtenis is keer op keer ‘n hoogtepunt op die landboukalender.

Nagenoeg 300 jongboere was by vanjaar se Toekomsfokusdag waar hulle deur die uiters bekwame sprekers uitgedaag is om op hoogte van die jongste tegnologie te bly om sodoende hul kompeterende voorsprong te verskerp en die winsgewendheid van hul boerderybesighede te verseker.

image

“Produsente moenie twyfel of hulle in die regte beroep is nie, hulle ís,” het prof Johan Willemse van die Universiteit van die Vrystaat (UVS), wat as gasspreker opgetree het, opgemerk. Hy het jongboere verseker dat daar steeds geld te maak is in landbou en dat die beste moontlike tegnologie en produkte vir produsente beskikbaar is om in te belê.

Vanjaar se nuwe toevoeging, ‘n paneelbespreking, was volgens Magnus Theunissen (voorsitter van Agri Noordwes se Jongboervereniging) ‘n waardevolle kommunikasiemiddel vir diegene wat die dag bygewoon het. “Ons het ons doel daarmee bereik en die positiewe kommentaar vanuit die gehoor tydens die bespreking bevestig dit,” het hy gesê.

Prof Willemse het die paneelbespreking gefasiliteer. Danie Minnaar (produsent en voorsitter: Senwes), Thabo van Zyl (produsent van Wesselsbron) en Janes Barnard (lid van die Vlakplaas Boerdery-familie wat in 2011 as Graan SA se Graanprodusent van die Jaar aangewys is) was die meer ervare lede van die paneel, terwyl Wessel Hattingh en Magnus Theunissen as jongboere die paneel aangevul het.

Temas wat in die bespreking aangeraak is, was die implementering van tegnologie om kapitaal en arbeid te bespaar, verhoudings met finansierders, vermindering van tegnologiese risiko’s, die waarde van ondervinding en deelname aan studiegroepe en wat die volgende stap in verband met tegnologie in boerdery behoort te wees.

Na afloop van die bespreking het produsente ‘n praktiese demonstrasie bygewoon, waartydens John Deere implemente ten toon gestel is. Die demonstrasies het gefokus op bewaringsboerderytoerusting wat deur die ervare lede van die paneel gebruik word.

image

image

Publication: November 2013

Section: Other Articles

Search