• Login
  • Search Icon

Is versekering 'n waardevolle bate in jou boedel?

May 2014

JOHAN JORDAAN, onafhanklike finansiële beplanner en CFPR Professional

Versekering is heel dikwels die onderwerp van bespreking by sosiale geleenthede. Wat dan opval, is die uiteenlopende standpunte wat hieroor bestaan. Dit is ook reg so, want dit spruit uit die hoogs persoonlike aard van versekeringsoplossings.

Wat my verder aan die dink gesit het, is toe ‘n goeie vriend by my wil weet hoe dit moontlik is dat elke persoon wat hom van advies bedien, ‘n ander aanbeveling maak?

Die waarskynlikheid dat uiteenlopende oplossings vir dieselfde feitestel en doelwitte moontlik is, is onwaarskynlik, veral as al die stappe gevolg word om ‘n kliënt van advies te voorsien. Die toepaslike feite moet ontleed word om behoeftes te bepaal en daarna moet gepaste oplossings gesoek word om daardie behoefte aan te spreek. ‘n Professionele adviseur sal gewoonlik ses stappe volg voor daar advies aan ‘n kliënt verskaf word.

Professionele verhouding

Die ses stappe wat ‘n adviseur behoort te volg begin met die professionele verhouding tussen kliënt en adviseur. In baie gevalle is dit ‘n verhouding wat al oor etlike jare ontwikkel het. Dit is van belang om die rol van die adviseur uit te klaar ten opsigte van dit waarvoor hy gekwalifiseer is om advies oor te gee en hoe hy daarvoor betaal word. Op die oomblik is daar twee modelle wat gebruik word, naamlik adviseurs wat diens lewer teen ‘n fooi en adviseurs wat kommissie verdien wanneer hulle ‘n produk aanbeveel as oplossing.

Indien die adviseur se diens op ‘n fooi gebaseer word, moet die fooistruktuur vooraf met die kliënt ooreengekom word. In die geval waar die adviseur ook die aanbeveling implementeer, deur byvoorbeeld ‘n versekeraar se produk voor te stel, is die belangrikste slaggat dat die aanbeveling deur groot bedrae kommissie beïnvloed kan word. Die kommissie moet aan die kliënt geopenbaar word. ‘n Adviseur met integriteit sal sy aanbeveling met ‘n goed gedokumenteerde ontleding kan staaf en dit met vrymoedigheid kan voorlê aan ander professionele rolspelers in die beplanningsproses, soos die ouditeur en prokureur of bankiers.

Die professionele verhouding tussen adviseur en kliënt bring mee dat jy as kliënt medeverantwoordelik word vir die suksesvolle beplanning en implementering van oplossings.

Inligting en doelwitte

Vervolgens sal die adviseur die kliënt se doelwitte bepaal. ‘n Volledige en weldeurdagte plan steun swaar op duidelik gedefinieerde doelwitte wat deur volledige inligting gerugsteun word. Inligting word verkry uit ‘n persoonlike onderhoud sover dit doelwitte aangaan.

Die finansiële inligting word die akkuraatste weergegee in finansiële state wat op datum is, die mees onlangse testament en dan (die een wat die meeste nagelaat word) die huweliksvoorwaardekontrak. Indien daar van ‘n trust en maatskappy gebruik gemaak word, is dit nodig dat die adviseur homself op hoogte bring van die inhoud van die toepaslike dokumente.

‘n Finansiële plan kan in die wiele gery word deurdat bepalings in die huweliksvoorwaardekontrak byvoorbeeld buite rekening gelaat word. Hierdie weglating kan tot gevolg hê dat groot bedrae geld betaalbaar kan wees by die ontbinding van die huwelik ten tyde van dood of ‘n egskeiding. 

Analise en evaluering van finansiële posisie

As die adviseur weet wat die kliënt se doelwitte is, sal hy die kliënt se situasie begin ontleed om advies te gee en oplossings voor te stel. In baie gevalle sal die ontleding die volgende stappe insluit, naamlik die ontleding van bates en laste, die berekening van boedelbelasting en kapitaalwinsbelasting by dood, die ontleding van die versekeringsportefeulje en beleggings, oudit van trustakte asook testament en belastingstrategieë, om net die belangrikste te noem.

Afhangend van die kompleksiteit van die boedel, is dit raadsaam om die kliënt se ouditeur, prokureur en bankier ook te betrek. Uit ondervinding blyk dit dat die beplanning in heelwat groter boedels gefragmenteerd is omdat die professionele span nie met dieselfde feitestel en doelwitte werk nie. Om dit te voorkom kan die adviseur of finansiële beplanner onderneem om as fasiliteerder in die proses op te tree.

Ontwikkeling van aanbevelings en alternatiewe

Die gedagte is dat die adviseur aanbevelings maak om die doelwitte aan te spreek op grond van die inligting aan hom voorsien. Aanbevelings kan tipies die volgende insluit:

  • Voorsiening van likiditeit in die boedel by dood deur middel van versekering
  • Ander risikodekking, byvoorbeeld vir ongeskiktheid en gevreesde siektes
  • Hersiening van die testament
  • Wysiging aan trustakte – deur ‘n gekwalifiseerde persoon
  • Beperking van belastingaanspreeklikheid
  • Aftreebeplanning
  • Opvolgbeplanning

Implementering van aanbevelings

Die adviseur sal die kliënt vervolgens help om die plan in werking te stel. Menige finansiële planne het al skipbreuk gelei in die implementeringsfase. Dit is daarom belangrik dat dit duidelik omskryf word wie vir wat verantwoordelik is – byvoorbeeld die prokureur vir die wysiging aan die testament en trustakte, die ouditeur vir die implementering van belastingstrategieë en die makelaar vir die versekering en beleggings.

In gevalle waar die professionele persone van meet af betrek word by die beplanningsproses, is die aanbevelings deurgaans van ‘n hoë standaard en dra dit by tot die suksesvolle implementering van die oplossings.

Papier is geduldig

Ons kan nou maklik onder die indruk verkeer dat ons ‘n erkende proses gevolg het en dus noodwendig by die beste oplossing uitgekom het. Dit is net waar sover papier geduldig is! Ten diepste word mense na aan ons geraak deur die finansiële planne en besluite wat ons na aanleiding van bogenoemde proses neem. ‘n Plan wat dus die unieke aard van elke familie buite rekening laat, is gedoem tot mislukking.

‘n Oplossing en aanbevelings in ‘n familie-opset wat gekenmerk word deur onderlinge vertroue en respek sal drasties verskil van ‘n aanbeveling waar daar byvoorbeeld konflik en wantroue is.

Van die uitdagings is om in uitgebreide familie-ondernemings sekuriteit te skep vir kinders se eggenote. Gades is dikwels met reg bekommerd oor hulle versorging indien ‘n eggenoot te sterwe kom. Die rede hiervoor is byvoorbeeld dat die meeste boerderybates in trust gehou word en aangetroude kinders uitgesluit is as ‘n klas begunstigdes.

Boonop woon die gesin dikwels in ‘n huis op ‘n plaas wat aan ‘n trust behoort. Hoe nou gemaak as die eggenoot te sterwe kom? Wat gebeur indien ‘n man op ‘n relatiewe jong ouderdom sterf en sy weduwee besluit om weer te trou? Indien hier onsekerheid by die eggenote bestaan, lei dit meestal tot konflik en spanning in ‘n familie en baat dit die adviseur om hiervan kennis te neem. Hy kan dan bydra tot die ontwikkeling van sinvolle oplossings wat sekerheid en sekuriteit skep.

‘n Verdere kenmerk van ‘n effektiewe finansiële plan is dat dit ruimte laat vir alternatiewe oplossings. Dit is belangrik omdat die omgewing waarbinne ons beplan gedurig aan die verander is. Aan die een kant verander mense se behoeftes en aan die ander kant verander die wetgewende raamwerk waarbinne die beplanning gedoen word.

Byvoorbeeld: Kapitaalwinsbelasting is met ons sedert 1 Oktober 2001. Vir die eerste paar jaar nadat dit in werking gestel is, was die impak laag. Die waardasie van landbougrond het voorsiening gemaak vir ‘n basiskoste wat die kapitaalwins beperk het. In net meer as 12 jaar het die waarde van landbougrond só toegeneem dat die oorspronklike waardasie in baie gevalle al minder as 20% van die huidige markwaarde vir eiendom is. Hierdie waardeverhoging veroorsaak dat kapitaalwinsbelasting asook boedelbelasting ‘n groter vraag na likiditeit in boedels vereis. Maak dus seker dat jy weet wat die vereiste aan kontant in jou boedel is.

Versekering as oplossing om likiditeit te skep

Indien verskillende adviseurs met dieselfde aannames en feitestel werk en dit analiseer, behoort die bepaalde behoefte baie na aan dieselfde te wees. Wanneer die aanbeveling van ‘n oplossing ter sprake kom, is daar ‘n verskeidenheid opsies beskikbaar. Die waarde van hierdie oplossing hang af van die samestelling van die produk. Versekeraars bied lewensversekering op die volgende basis aan:

Termynversekering
Bied dekking vir ‘n vooraf gekose termyn en staak by dood binne die termyn of by die verstryking van die termyn. ‘n Voortsettingsopsie kan dikwels bygevoeg word. Die dekking kan dan vir ‘n verdere termyn verleng word teen ‘n koste van toepassing op die ouderdom by voortsetting. (Word aanbeveel vir huurkope en verbande.)

Hele lewensversekering
Bied lewenslank dekking, maar onderworpe aan sekere voorwaardes, byvoorbeeld dat die premie vir ‘n bepaalde termyn gewaarborg is en die dekking lewenslank.

In die geval waar versekering nodig is om likiditeit by dood in ‘n boedel te voorsien, is die aangewese opsie die hele lewenspolis. Ons moet in gedagte hou dat die meeste van hierdie kontrakte jou lewensversekering waarborg by dood, maar nie noodwendig jou premie vir langer as tien jaar nie. ‘n Tienjaar-waarborg termyn is algemeen in die mark, maar wat beteken dit? Die versekeraar waarborg dat hy die lewensversekering vir tien jaar teen ‘n bepaalde tarief kan verskaf.

Hierdie waarborg hang af van die versekeraar se eise-ondervinding, opbrengs op beleggings en die koers waarteen bestaande kontrakte gekanselleer word. Die kontrak sluit ook ‘n bepaling in oor wat ná die eerste tien jaar gebeur. Die premie bly dieselfde, of sal styg, maar met ‘n maksimumperk van byvoorbeeld 25% en ‘n waarborg van nog vyf jaar.

Die realiteit is dat lewensversekeraars op die waarborghersieningsdatum, kragtens die kontrak, geregtig is daarop om ‘n premie-aanpassing af te dwing, of as alternatief die dekking te verminder tot ‘n vlak wat deur die premie befonds kan word tot en met die volgende hersieningsdatum. Die waarskynlikheid is groot dat die meeste versekeraars premie-aanpassings gaan deurvoer ná die aanvanklike waarborgtermyn verstryk. In sekere gevalle waar die premie jaarliks toeneem en dekking styg, is daar ‘n kleiner waarskynlikheid dat die premie sal toeneem op die waarborghersieningsdatum.

Terug by die vraag: Is jou versekering ‘n waardevolle bate in jou boedel? Ons kan net bevestigend op hierdie vraag antwoord indien aanbevelings in ooreenstemming is met oplossings wat ontwikkel is aan die hand van ‘n volledige analise.

Lewensversekering is steeds die goedkoopste manier om kapitaal in ‘n boedel waar daar ‘n tekort is, te skep. Op ‘n ligter noot: In 21 jaar betrokke by finansiële beplanning, het ek al van baie klagtes gehoor, maar nog nooit dat die lewenspolis wat uitbetaal, te groot was nie!

Hierdie artikel is geskryf om die proses waardeur ‘n professionele adviseur moet werk te verduidelik. Kontak gerus jou eie adviseur sodat julle saam om ‘n tafel kan sit om jou eie behoeftes uit te sorteer om sodoende ‘n pasgemaakte plan vir jou saam te stel.

Navrae

Die CFP®-handelsmerk stel die internasionale standaard waaraan professionele advies gemeet word. Vir meer inligting kan jy die webtuiste van die Financial Planning Institute of Southern Africa besoek by www.fpi.co.za of stuur ‘n e-pos na Johan@rmbfs.co.za.

Publication: May 2014

Section: Other Articles

Author: JOHAN JORDAAN, onafhanklike finansiële beplanner en CFPR Professional

Search