• Login
  • Search Icon

Is Sonkrag ekonomies lewensvatbaar?

November 2016

PHILIP OLIVIER, Olivia Energie-oplossings

Is Sonkrag ekonomies lewenvatbaar?Sedert die beurtkrag van 2008 en die Eskom-tariefstygings daarna het Suid-Afrikaners toenemend bewus geword van die koste van elektrisiteit. Daarmee saam het die wêreldwye klem op klimaatsverandering en die negatiewe gevolge daarvan die neiging versterk om alternatiewe hernubare energiebronne te ondersoek.

Die gebruik van fotovoltaïese (PV) panele het ‘n algemene gesig in Suid-Afrika geword: Van klein huishoudelike stelsels tot groter kommersiële toepassings en sonplase wat krag aan Eskom voorsien. Dit laat die vraag by produsente ontstaan of sonkrag op plase werklik ‘n goeie belegging is en hoe dit finansieel beoordeel moet word.

Wanneer ‘n belegging in sonkrag oorweeg word, is daar sekere faktore wat bekend is, naamlik die verwagte kapitale uitleg en die huidige prys van elektrisiteit. Daarby kan daar met sagtewaremodellering ‘n redelik-akkurate voorspelling gemaak word van die daaglikse kilowattuur-opbrengs van die stelsel oor sy lewensduur.

Dit gee ‘n goeie beginpunt om die ekonomiese lewensvatbaarheid van die belegging te beoordeel. Daar is egter ‘n paar onbekende faktore, insluitend:

  • Eskom-prysstygings: Hoe vinniger Eskom-pryse styg, hoe groter is die waarde van die sonkrag wat opgewek word en hoe beter die sonkragbelegging.
  • Rentekoerse: Wanneer geld geleen word om die belegging te maak, sal stygende rentekoerse ‘n negatiewe impak op die belegging hê totdat dit afbetaal is.
  • Inflasie: Alhoewel sonkragstelsels normaalweg minimale onderhoudskoste vereis, sal stygende inflasie ‘n negatiewe effek op die operasionele koste (hoofsaaklike onderhoud, versekering en die vervanging van elektroniese komponente) hê.

Modelle wat bogemelde faktore in ag neem, wys in die meeste scenario’s positiewe uitkomste vir sonkragbeleggings wanneer energie nie gestoor word nie. Dit is dus in gevalle waar die sonkrag gedurende die dag gebruik word terwyl dit opgewek word.

Opbrengskoerse van meer as 15% en terugbetaalperiodes van minder as tien jaar is algemeen in hierdie verband – wat nie sleg is as die produk se lewensduur van ongeveer 30 jaar in ag geneem word nie. Dit is om hierdie rede dat netwerk-gekoppelde sonkragstelsels drasties in gewildheid toeneem – veral in kommersiële toepassings soos byvoorbeeld fabrieke en kantoorblokke wat die meeste elektrisiteit gedurende die dag gebruik. Eskom se onlangse aankondiging dat hulle nou aansoeke sal oorweeg van kliënte wat kleiner laevolt-stelsels aan die Eskom-netwerk wil koppel, is verblydend.

Storing van sonkrag

Die storing van sonkrag vir latere gebruik – byvoorbeeld in die aand – kan ‘n beduidende negatiewe impak op ‘n sonkragbelegging hê. Energie word meestal op een van twee maniere gestoor vir latere gebruik:

Batterye
Die storing van energie in batterye is duur en moet net vir kleiner toepassings oorweeg word. Batterye het ‘n beperkte leeftyd en dit is belangrik dat sonkragstelsels korrek ontwerp word – veral wanneer batterye deel van die stelsel vorm. Alhoewel dit opwindend is om te sien hoe die gebruik van nuwer tegnologieë van batterye, byvoorbeeld lithium-ioon en soutwaterbatterye toeneem, sal die stoor van energie in batterye waarskynlik nog in die afsienbare toekoms ‘n groot koste-element bly.

Elektrisiteitsnetwerk
Dit is moontlik om sonkrag wat opgewek word, maar nie dadelik gebruik word nie, op die Eskom-netwerk of ‘n munisipale netwerk te stoor vir latere gebruik. Daar moet egter toestemming hiervoor vanaf Eskom of die munisipaliteit verkry word en sodanige toestemming kan met kostes gepaard gaan.

Hierdie kostes kan van kapitale aard wees, byvoorbeeld wanneer Eskom vereis dat ‘n kliënt ‘n transformator installeer om met medium-spanning aan sy netwerk te koppel. Die kostes kan ook direk aan die storing van energie gekoppel wees, byvoorbeeld wanneer ‘n munisipaliteit krediet vir sonkrag wat op sy netwerk gestoor word teen ‘n laer tarief verskaf as wat gehef word wanneer die elektrisiteit weer later gebruik word.

As Eskom en munisipaliteite dit in die toekoms maklik en bekostigbaar vir mense maak om sonkrag op die netwerk te stoor, behoort dit baie voordelig vir die sonkragbedryf in Suid-Afrika te wees.

Is Sonkrag ekonomies lewenvatbaar?

Metodes om sonkrag finansieel te beoordeel

Enkele metodes om ‘n belegging in sonkrag te beoordeel, word vervolgens kortliks bespreek. Hierdie metodes vereis in die eerste plek om ‘n vooruitskatting van die toekomstige besparing of opbrengs in randwaarde wat die sonkragstelsel gaan genereer, te maak. Dit word gedoen deur die verwagte opbrengs van die stelsel (in kilowattuur) te vermenigvuldig met die verwagte Eskom-tarief en die operasionele koste daarvan af te trek.

Terugbetaalperiode
Hoewel hierdie metode eenvoudig is, is dit gewilde praktyk onder produsente om enige belegging te beoordeel. In die geval van ‘n sonkragbelegging word die kapitale uitleg gedeel deur die jaarlikse besparing om te sien wanneer die stelsel homself uit sy besparings afbetaal.

Wanneer die rente op die lening ook by die kapitale uitleg getel word, word die terugbetaalperiode aansienlik langer. Die terugbetaalperiode moet altyd teen die produktiewe lewensduur van die produk beoordeel word. ‘n Terugbetaalperiode van agt jaar kan byvoorbeeld lank klink, maar gemeet teen ‘n lewensduur van 30 jaar is dit ‘n goeie belegging.

Interne opbrengskoers
Die interne opbrengskoers word bereken deur die opbrengs van die stelsel as persentasie van die kapitale uitleg te bereken. Hoewel sonpanele elke jaar ongeveer 0,7% minder produseer, sal die Eskomtariefstygings waarskynlik meer as dit wees – wat beteken dat die opbrengs van ‘n sonkragstelsel jaarliks oor sy leeftyd sal verhoog.

Kontantvloei-analise
Wanneer geld geleen word om ‘n sonkragstelsel te installeer, is die kontantvloei-implikasies krities. Oor die algemeen sal kontantvloei in die eerste paar jaar die meeste onder druk wees, totdat die stygende jaarlikse besparing (as gevolg van Eskom-tariefverhogings) groter as die paaiement op die lening word.

Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) laat egter sedert Januarie vanjaar toe dat 100% van die kapitale uitleg van sonkragstelsels kleiner as 1 MW in jaar een as uitgawe geëis kan word – onderhewig aan bepaalde voorwaardes. Die belastingimplikasie hiervan het ‘n groot positiewe effek op die kontantvloei van winsgewende besighede.

Ten slotte

‘n Belegging in sonkrag is ‘n langtermynbelegging wat ‘n groot kapitale uitleg vereis. Daar is baie eksterne faktore wat vir ‘n lang periode die ekonomiese lewensvatbaarheid van die stelsel gaan bepaal.

Enige finansiële vooruitskatting van ‘n sonkragstelsel gaan natuurlik afhang van die akkuraatheid van die aannames wat gemaak word oor onder andere Eskom-tariefstygings, rentekoerse, inflasie en die koste om energie te stoor.

Wat wel seker is, is dat ‘n produsent met ‘n belegging in ‘n sonkragstelsel vir die volgende 30 jaar beheer neem oor ‘n gedeelte van sy elektrisiteitskoste – en dat hy ons planeet vir die nageslag help bewaar. Lesers wat belangstel in ‘n volledige finansiële analise van ‘n sonkragbelegging, is welkom om die outeur te kontak by 051 412 6341.

Publication: November 2016

Section: Focus on

Search