• Login
  • Search Icon

Is jy in die regte beesproduksiestelsel?

October 2014

PIETMAN BOTHA, SA Graan/Grain medewerker

Daar is steeds ‘n geveg aan die gang tussen die voerkrale en die primêre speenkalfprodusente rakende pryse.

Voerkrale beweer dat pryse te hoog is en speenkalfprodusente meen pryse is te laag. Met hierdie geveg aan die woed, is daar heelwat produsente wat wonder of moet hulle nie dalk 'n ander produksiestelsel volg om wins te maksimeer nie. Om stelsels met mekaar te vergelyk is gewoonlik nie so maklik nie en onvolledige inligting kan maklik tot groot foute aanleiding gee.

Die beesstelsels wat met mekaar vergelyk kan word, is die tipiese speenkalfstelsel, die 18 maande-bemarkingstelsel, die 36 maande-osstelsel en die nuwe speenkalfstelsel, waar die tipiese April-speenkalwers oorwinter word en dan net na die winter verkoop word om vir die Kersmark afgerond te word.

Elke stelsel is uniek en met sy eie reëls, verskillende kuddesamestellings en verskillende bemakingstye asook risiko’s.

Ook is elke stelsel blootgestel aan klimaatrisiko’s. In ‘n droogtejaar sal daar in die speenkalfstelsel ‘n gedeelte van die koeie verkoop moet word, terwyl in die ander stelsels 'n gedeelte van die kalwers verkoop moet word.

Speenkalfstelselkoeie sal in hierdie tye nie maklik verkoop nie en sal gewoonlik ‘n lae prys realiseer bloot omdat daar ‘n surplus vee in die mark is. By die ander stelsels kan die kalwers redelik maklik aan voerkrale verkoop word of hulle kan dalk deur die produsent self in ‘n voerkraal afgerond en in die mark gesit word. Die prys vir hierdie diere behoort nie so dramaties te val nie. As die koeie wat verkoop is weer vervang moet word, sal die speenkalfstelsel ook negatief beïnvloed word. Gewoonlik sal die koeie dan teen hoër pryse ingekoop moet word.

Só ‘n stelsel se effektiwiteit verskil ook dramaties. In die speenkalfstelsel is die koeie die fabriek wat die kalwers produseer. Dit sal die winsgewendheid dramaties beïnvloed as die koeie vir welke rede ook al ‘n lae kalfpersentasie het – ‘n hoë kalfpersentasie is ten alle tye ‘n voorvereiste. Dit is algemene kennis dat dit moeilik is om 'n kalfpersentasie van bo 90% oor tyd te handhaaf.

Die ander stelsels se fabriek is die kalwers wat reeds geproduseer is. Hierdie kalwers moet net groei en mortaliteite moet tot die minimum beperk word. Aangesien hierdie kalwers op die plaas gebore is en grootgeword het, is hul mortaliteit oor die algemeen baie laag. Dus is die produksierisiko’s in hierdie stelsels baie minder as in 'n speenkalfstelsel.

Hierdie feit het ‘n groot effek op die winsgewendheid van die stelsel. Verder moet die speenkalwers in die speenkalfstelsel op ‘n sekere tyd verkoop word anders is daar pryspenalisasie wat geld, terwyl die ander stelsels tot ‘n mate meer vryheid het wat bemarking betref.

Alhoewel die stelsels verskil, bly die kritieke suksesfaktore van die verskillende stelsels steeds dieselfde. Koeie moet produseer en die kalfpersentasie moet ten alle tye beskerm word. Die veegetalle moenie die drakrag van die weiding oorskry nie en daar moet ten alle tye genoeg kos vir die vee wees.

Lekke wat verskaf word, moet by die behoefte van die diere aanpas en moet ook die voorsiening van die veld weerspieël. Die lekke moet opneembaar wees en die behoeftes van die vee bevredig, maar tog moet dit ook ekonomies sin maak om die lek te voer. Die diere se gesondheid moet altyd goed wees en beide inwendige en uitwendige parasiete moet tydig en verkieslik voorkomend beheer word.

Die verskillende veestelsels se kuddesamestelling verskil dramaties. Vir ‘n plaas wat ongeveer 100 grootvee-eenhede (GVE) kan dra, sal daar vir ‘n speenkalfstelsel ongeveer 60 koeie gedra word, terwyl ‘n 18 maande-bemarkingstelsel ongeveer 44 koeie kan dra en ‘n 36 maande-bemarkingstelsel net 32 koeie sal kan aanhou. Die res van die drakrag sal dan deur vervangingsdiere, kalwers of groeiende diere opgeneem word.

Ook sal die verskillende stelsels hulle eie bemarkingstye hê en verskillende tipes diere sal bemark word. Die lentekalf-speenkalfstelsel sal hoofsaaklik speenkalwers asook ou diere tydens April bemark, terwyl die 18 maande-stelsel hoofsaaklik afgeronde 400 kg-beeste gedurende Maart tot Mei aan die mark sal kan lewer.

In die 36 maande-bemarkingstelsel sal volgroeide, afgeronde osse gedurende Oktober tot Desember aan die mark gelewer word. Vir hierdie tye is daar verseker ander pryse wat geld en is dit belangrik om die mark se vraag en aanbod in ag te neem.

In Grafiek 1 word die langtermyntendense van produsentebeesvleispryse van A-, B- en C-grade aangetoon.

image

Soos verwag word, is die veepryse laag gedurende April en hoog rondom Desember. Die hoofdrywer hiervan is die aanbod en aanvraag na vleis. As die speenkalfprys beskou word, soos in Grafiek 2 aangetoon, is dit so dat daar baie ooreenkomste is tussen die algemene vleisprystendens en dié van die speenkalfpryse. In die grafiek kan gesien word dat algemene speenkalfpryse laag is vanaf Maart tot en met Junie, waarna die pryse weer begin styg ná Desember. Hierdie prystendense van veral die speenkalwers, reflekteer die aanbod en dit raak die primêre produsent omdat hy gewoonlik binne hierdie tye sy speenkalwers moet bemark.

image

Dit is egter nie net vraag en aanbod wat die pryse van vee bepaal nie, maar ook ander aspekte, soos die algemene stand van die ekonomie, die mielieprys en die prys van hoendervleis, om maar net ‘n paar te noem.

Uit die begrotings in Tabel 1 kan dit verwag word dat die tradisionele speenkalfstelsels, waar die speenkalwers gedurende April verkoop word, die laagste bruto marge per GVE sal lewer. Die 18 maande-bemarkingstelsel, waar die diere as markklaar diere bemark word, blyk die beste stelsel te wees om in te produseer.

image

Indien die 18 maande-bemarkingstelsel gevolg word, sal dit belangrik wees om seker te maak dat daar ‘n mark vir jou afgeronde diere sal wees. Onthou net, jy gaan moet meeding met ander vleisprodusente wat maandeliks vee aan die verbruikers en slagters kan lewer. Dit sal goeie praktyk wees om vooraf met ‘n vleiskoper ooreen te kom om jou markklaardiere te koop.

Wat die produksie in die stelsel betref, sal die vee waarmee geboer word die vermoë moet hê om afgeronde diere te produseer voor die diere begin wissel. Indien die diere reeds wissel en dan eers afrond, sal dit die prys van die vleis benadeel en so ook die winsgewendheid van die stelsel.

Sodra die speenkalwers ná die winter verkoop word, is dit belangrik om seker te maak dat die verwagte prysverhoging en massatoename die ekstra voerrekening sal kan diens. Maak dus seker voor jy die besluit neem om die speenkalwers terug te hou vir ‘n latere stadium se bemarking.

As alles in ag geneem word, sal die stelsel nie regtig die winsgewendheid van die veeboerdery beïnvloed nie, maar eerder die produksie van die huidige stelsel. Deur die effektiwiteit en produksie van jou huidige stelsel te verhoog en dalk klein bemarkingsaanpassings te maak, sal die winsgewendheid dramaties verhoog word.

Vir meer inligting omtrent die verskillende produksiestelsels, kan Pietman Botha by 082 759 2991 gekontak word.

Publication: October 2014

Section: Focus on

Search