• Login
  • Search Icon

Is jou voorbereiding vir die 2015-grondboonplantseisoen gedoen?

September 2015

LOUREINE SALOMON, LNR-Instituut vir Graangewasse

Elke jaar bring sy eie uitdagings. Hetsy dit droogte is of ‘n laat koue, daar is maar altyd een of ander struikelblok waaroor elke grondboonprodusent moet gaan. Dit is belangrik om op die uitkyk te wees daarvoor om sodoende struikelblokke te systap en die weg voor te berei vir ‘n goeie plantseisoen.

Die beginpunt van ‘n goeie seisoen, is ‘n goeie wisselbouprogram. Dit is uiters noodsaaklik om te weet op watter lande daar aangeplant gaan word en wat die geskiedenis van daardie lande is. Dit in ag genome, behoort ‘n goeie rekordstelsel die wonder oor watter chemiese middels toegedien is, uit die weg te ruim.

Maak seker dat onthoudingstydperke wat op seker middels geplaas is, noukeurig nagekom word. Wanneer daar gepraat word van ‘n wisselboustelsel met grondbone, hou in gedagte dat hier ‘n vermelding gemaak word van drie tot vier somergroeiseisoene.

Die gewenste wisselboustelsel sal soos volg wees: Grasgewas (mielies) – olie-/peulgewas (grondbone) – grasgewas (mielies) – olie-/peulgewas (sojabone of sonneblom). Moenie die fout maak om ‘n olie-/peulgewas direk ná mekaar aan te plant nie, aangesien hierdie kombinasie wel noodlottige siektedruk tot gevolg het.

Kultivarkeuse gaan hand aan hand met dít wat die produsent verkies om te plant en watter kultivars deur die prosesseerder beskikbaar gestel word in die vorm van beskikbare saad. Daar moet ook in gedagte gehou word dat dit beter is om meer as een kultivar te plant, maar daarby kom die verantwoordelikheid in om hierdie kultivars van mekaar geskei te hou vanaf planttyd, regdeur die oestyd tot nadat dit gelewer is.

Naspeurbaarheid is deesdae die wagwoord. Produsente moet ook kwaliteit saad plant. SANSOR-gesertifiseerde saad verseker die produsent daarvan dat saad wat deur die saadsertifiseringskema gegaan het, voldoen aan die vereistes van suiwerheid en kiemkragtigheid.

Grondontledings op die plaas het ‘n belangrike werktuig geword waarsonder die hedendaagse produsent nie kan klaarkom nie. Vir die grondboonprodusent is dit net so belangrik. Met een wysiging moet hy weet wat gaan aan in die 30 cm- tot 60 cm-vlak van die grond. Dít is die diepte waarop die grondboonplant die meeste van sy voedingselemente uittrek. Die stelling “grondbone gebruik geloogde kunsmis wat buite bereik van jou ander gewasse is,” is so waar.

Dit is wel baie belangrik om kalsium toe te dien aangesien grondbone kalsium direk deur die peul opneem. Gipstoediening is uiters belangrik sodat daar genoegsame kalsium teenwoordig sal wees binne die peulsone wanneer peulvorming begin. Voor-opkomsonkruidbeheer is baie belangrik by grondbone. Die korrekte dosering en korrekte toediening gee gemoedsrus deur die seisoen en bespaar op insetkoste. Vir enige grondboonprodusent, hetsy gevestig of ‘n beginner, is beplanning aan die begin van elke seisoen noodsaaklik.

imageOnthou:

  • Wees op hoogte van wat die heersende weerstoestande is.
  • Woon boeredae by om die nuutste inligting rondom kultivars en tegnologie te bekom.
  • Gebruik die tegnologie wat tot jou beskikking is om op hoogte te kom met die nuutste verwikkelinge.
  • Vooruitgang kom deur navorsing.
  • Sorg vir jou grondbone en hulle sorg vir jou.

Is jou voorbereiding vir die 2015-grondboonplantseisoen gedoen?

Publication: September 2015

Section: On farm level

Search