• Login
  • Search Icon

Internasionale grondboonpryse hoogste in 30 jaar

August 2011

– 18 Julie 2011

PROF JOHAN WILLEMSE, SA GRAAN/GRAIN MEDEWERKER

Internasionale grondboonpryse het gedurende Julie 2011 na die hoogste vlak in 30 jaar gestyg. Dié stygingstendens in die internasionale prys van grondbone is gebaseer op onderliggende vraag- en aanbodfaktore, waar eindvoorraad die  laaste tyd knap bly. Hiermee saam het die huidige VSA grondboonoes op die lande ‘n erge knou weg weens swak weerstoestande en veral hittegolftoestande wat ‘n heelwat laer oesverwagting tot gevolg het.

Die VSA Departement van Landbou het ook in hul Juliemaand-hersiening van die wêreldvraag en -aanbod van belangrike gewasse, omgeswaai van hul vorige ramings, wat nou weer dui op knapper voorraadposisies. Dit het dollarpryse in die week van 11 Julie tot 15 Julie laat verbeter met verdere opwaartse momentum wat verwag is vir die tweede deel van Julie, weens verwagte hittegolftoestande in belangrike VSA produksiegebiede. In dele van Europa is daar ook bo-normale warm toestande, wat ‘n demper plaas op hul kanola-oesopbrengste.

Intussen het Sjina se aankooppatroon weer die markte beïnvloed, waar hul binnelandse verbruik effens laer geraam word vir die komende jaar, maar desnieteenstaande gaan Sjina in die volgende jaar steeds sowat 56,5 miljoen ton sojabone invoer. Die tempo van die invoerbestellings beïnvloed die mark.

Dit, tesame met die verwagte oesgroottes in die VSA, Brasilië en Argentinië, is die twee grootste drywers van sojaboonmarkte en dan ook die totale oliesademark, omdat sojabone die enkele grootste oliesaad is. In die geval van sonneblom, is die oeste in Rusland en die Oekraïne, saam met Argentinië, die belangrikste produksiedrywers.

Die sterk rand teenoor die dollar, is steeds ‘n groot remskoen en terwyl die staatsfinansiële probleme in die EU en VSA voortduur, gaan die rand/dollar-wisselkoers ‘n groot risikofaktor bly. Daar is redelike onsekerheid oor die rigting van die rand. Sekere ontleders is van mening dat die dollar en die euro nog verder gaan verswak weens hul staatsfinansiële probleme en dit beteken ‘n sterker rand.

Hierteenoor is Suid-Afrika se eie politici in die regerende alliansie gereeld besig om beleggers die skrik op die lyf te jaag, wat die risiko van kapitale uitvloei toenemend vergroot. Dit kan die rand vinnig laat verswak. Natuurlik sal dit oliesaadpryse skerp opjaag in die binneland, omdat ons sterk gekoppel is aan die internasionale prys via invoere (soja- en sonneblomsaadprodukte) en grondbone wat uitgevoer word.

Kliek op https://www.grainsa.co.za/documents/SAGraan%20Aug%2011_Oliesade.pdf   vir die volledige artikel.

Publication: August 2011

Section: Markoorsig

Search